Die invloed van onvoorsiene faktore op die produksieproses en wins

Bennie van Zyl. Foto: Daleen Gouws

In tye waar dit amper onvanpas geword het om oor wins te praat – veral as ʼn boer, het dit dalk weer tyd geraak om die suksesvolle produksieproses en die produksiefaktore wat dit moontlik maak, te bekyk.

Die produksieproses in ʼn vryemarkstelsel word gekenmerk deur bepaalde vereistes waaraan voldoen moet word. Die grootste drywer is om wins te maak, terwyl middele wat deur die samelewing benodig word, verbou word. Sonder wins sal die markkragte die proses tot stilstand dwing.

Entrepreneur

Die entrepreneur is die inisieerder van die proses. Die ondernemer se insig, opleiding, ondervinding en dryfkrag is bepalend in die bereiking van wins al dan nie. Die suksesvolle boer as besigheidseienaar, het ’n sterk sin vir dringendheid, is ingestel op die toekoms en aanvaar sy/haar verantwoordelikheid ten opsigte van die boerdery, ten volle. Die risiko van die onderneming is in die entrepreneur gesetel en die wins wat gemaak word, is sy vergoeding. Ons praat hier van die kultuuropdrag waardeur ons moet skep en wat ons moet bewaak vir die toekoms, soos dit in die Bybel uiteengesit word.

Kapitaal

Kapitaal kan van die boer self of deur ’n finansiële instelling of belegger in die boerdery belê word. Die opbrengs op kapitaal is bepalend om winsgewendheid te bepaal. Dit is nodig om die besigheid se infrastruktuur, sowel as sy bedryfsuitgawes te kan finansier.

Grondstowwe

Dit is die middele waarmee gewerk word om die produksie te bewerkstellig. Grondstowwe of hulpbronne is duur omdat dit uitputbaar is, en dit moet met groot omsigtigheid bestuur word. In die geval van landbou moet landbougrond volhoubaar benut word deur effektiewe bewaringspraktyke te beoefen.

Arbeid

Uit die insette en kapitaal van die ondernemer/entrepreneur om grondstowwe tot wins te benut, ontstaan geleenthede vir arbeid om deel van die produksieproses te wees.

Tegnologie en meganisasie word toenemend ook as ’n produksiefaktor bygevoeg aangesien dit arbeid in sommige bedrywe reeds begin vervang. Hierdie verwikkeling laat tereg die vraag ontstaan of die eiegeregtige kultuur van vakbonde die beste benadering is, aangesien arbeid die een produksiefaktor is wat al hoe meer vervang kan word.

Die entrepreneur se vermoë om al die produksiefaktore volhoubaar te bestuur, lê in sy kundigheid en toewyding om van die besigheid ’n sukses te maak. Entrepreneurs word geïnspireer deur ’n aanbod te skep vir die vraag na behoeftes, en dit so winsgewend doen, dat dit weer en weer herhaal kan word. Welvaart word geskep deur die produksieproses suksesvol te bestuur.

Dit is die privaat sektor se verantwoordelikheid om die ekonomie tot by ekonomiese groei te bring. Die privaat sektor moet die produksiefaktore so bestuur dat daar voorsien word in die behoefte van die totale volkshuishouding. Die staat se rol is hoogstens om deur middel van ’n gesonde en stimulerende beleidsomgewing die nodige klimaat te skep wat entrepreneurs sal aanmoedig om hul kundigheid juis in Suid-Afrika aan te wend.

Die bostaande verduideliking is hoe dit behoort te gebeur… 

Ongelukkig ervaar ons in Suid-Afrika ’n ANC-regering wat saam met Cosatu en die SAKP vasgevang is in die Nasionale Demokratiese Rewolusie.

Die ANC verkies ideologiese speletjies waarin ’n verskeidenheid aspekte onder die begrip van transformasie vervat word. Dink hier aan swart ekonomiese bemagtiging (SEB), gelyke indiensneming, onteiening sonder vergoeding, kaderontplooiing, onrealistiese arbeidswetgewing en dies meer. Die endemiese kultuur van korrupsie en ’n onvermoë om take tot uitvoer te bring, gepaard met die voorafgenoemde aspekte, het direk daartoe gelei dat Suid-Afrika nou rommelstatus beklee.

Die wyse hoe die regering die ekonomie tydens Covid-19 versmoor en tot stilstand dwing, veroorsaak dat die situasie in die toekoms baie moeilik of selfs onomkeerbaar sal word. Indien die ANC-regering na die verwoestende inperking volhou met dieselfde beleid en benadering as voorheen, is dit logies dat die ekonomie nie gestabiliseer kan word nie.

Hierdie beleid – wat wêreldwyd nog net armoede kon skep – is die grootste hindernis in die toekoms van Suid-Afrika en ons inwoners. Ons kan dit nie meer bekostig nie. ’n Verantwoordelike regering sou daarop fokus om die land te red. Die ANC-regering en trawante fokus daarop om hulself te red.

Dit is die verantwoordelikheid van die burgerlike samelewing om die regering te dwing om die land te red. Ons handelinge sal in die toekoms getoets moet word aan hoe ANC-bestand dit is en of dit selfstandigheid nastreef. Die vraag is: Wat gebeur ná Covid-19? Wanneer en indien daar wel eendag ’n “na” is.

Hoe gaan die vraag na produkte in die toekoms daaruit sien? Wat gaan die markte se eise en die produsente se vermoë wees? In hoe ’n mate sal die produksieproses kan voortgaan terwyl die regering van die dag nou reeds wys dat daar geen begrip is oor hoe die onderskeie waardekettings werk nie?

Met die inperkingsmaatreëls word die ekonomiese vermoë van die markte sodanig versteur dat daar nie voldoende koopkrag beskikbaar is om produkte te kan aankoop nie. ’n Verarmde gemeenskap wat grootliks sal fokus op die basiese behoeftes, is heel moontlik wat gaan gebeur.

Landbou moet nou al so geposisioneer wees om aanpasbaar te wees in omstandighede wat baie vinnig kan verander. Die waardeketting in elke kommoditeit sal moet seker maak dat die nodige finansiering in ’n verarmde omgewing wel beskikbaar is ten einde in produksie te bly.  Voedselkettings sal vaartbelyn en effektief moet funksioneer.

Ná Covid-19 sal die vraag na gesonde voedsel ’n al hoe groter eis stel teenoor produsente.  Sowel naspeurbaarheid van voedsel, as ’n effektiewe waardeketting wat – gegewe die omstandighede – glad sal funksioneer, gaan noodsaaklik wees.

Landbou sal self moet seker maak dat ons sal kan produseer en ook dat ons voedsel vinnig en veilig teen bekostigbare pryse by die markte uitkom. Dit sal op die lang duur net kan gebeur indien die ANC-regering nie meer in beheer is nie en ’n regering wat verstaan hoe markte die besluite vir die land begin neem. Of as die ANC totaal van karakter en aard verander. Die ANC sal moet afsien van hul sosialistiese beleid en ophou om die samelewingsorde op rassistiese gronde volgens die Nasionaal Demokratiese Rewolusie te herrangskik.

Ongelukkig het tyd nou al geleer ’n jakkals verander dalk van haar, maar gewis nie van snaar nie. Armoede en werkloosheid het voor Covid-19 onder die ANC se beleid jaarliks toegeneem. In die tyd vorentoe sal dit net erger wees. Die oplossing is ware welvaartskepping wat lei tot ekonomiese groei.

Die produsent in al sy fasette is die grondslag van ekonomiese groei. Ekonomiese groei kan net gebeur met stabiele waardekettings waarbinne die produksieprosesse onbevange kan voortgaan.

Die waardekettings is eenvoudig, maar kan baie kompleks raak sodra daarmee gekarring word. Sodra die ketting iewers gebreek word, is die hele proses versteur en funksioneer dan glad nie na behore nie.

Produksie van enige kommoditeit is deel van ’n groter ekonomiese proses wat in sy geheel moet funksioneer. Dit is dan ook die probleem met die regering se beperking op sekere ekonomiese aktiwiteite tydens die inperking, terwyl ander weer onder bepaalde beperkings kon voortgaan.

Meegaande tabel is van kardinale belang – dit is die ekonomiese beginsels en dit is wat toegepas moet word:

Wat vasstaan, is dat die produksieproses ook in die toekoms gedryf sal word deur die bestuur van die produksiefaktore. Eksterne omstandighede – soos in die geval van die inperking – gaan gewis ’n rol speel en entrepreneurs sal dit fyn moet verreken in hul poging om wins te maak.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Bennie Van Zyl

Bennie van Zyl is hoofbestuurder van TLU SA.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.