Die rooi angelier-revolusie in Portugal

Die Portugese parlementsgebou (Foto: PATRICIA DE MELO MOREIRA / AFP)

Op 25 April 1974, presies 50 jaar gelede, het in Portugal die sogenaamde angelier-revolusie plaasgevind, wat eintlik ʼn linkse staatsgreep van dele van die weermag was om die langdurige regse diktatorskap omvêr te werp.

Behalwe vir Portugal self het dit wesenlike implikasies vir Europa, maar veral vir Afrika en ook Suid-Afrika ingehou. Met die omvêrwerping is nie net die meer as 40-jarige Salazar/ Caetano-bewind beëindig nie, maar ook sowat 500 jaar van Portugal se koloniale geskiedenis.

Sedert 1928 het die verligte diktator Antonio de Oliveira Salazar Portugal streng, maar suksesvol, bestuur. Na sy dood in 1968 het Marcello Caetano as leier oorgevat, maar hy was nie opgewasse vir die taak nie. Portugal was destyds ʼn arm en yl bevolkte land en het die las van ʼn oorlog in sy reuse koloniale ryk, veral in Afrika, gedra.

Terwyl al die ander Europese moondhede al in die 1950’s en 1960’s hulle kolonies in die onafhanklikheid gelaat het, het Portugal aan hulle vasgeklou en ʼn stryd teen verskeie kommunisties geïnspireerde rebellebewegings gevoer.

Binne die Portugese weermag het die laer range ʼn geheime groep begin wat die doel gehad het om die koloniale oorlog te beëindig. Die outoriteit van die regering het meer en meer getaan, selfs hooggeplaastes binne die weermag soos die opperbevelvoerder generaal Spinola het die doel van die oorlogsvoering bevraagteken en die regering gekritiseer.

Toe die netwerke binne die weermag sterk genoeg was, is die sein tot aanval gegee en troepedele het na die hoofstad Lissabon marsjeer. Die ou bewind het sommer nog dieselfde dag begin val, soos ook die eens lojale dele van die weermag oorgeloop het en die bevolking in groot getalle die soldate as bevryders gevier het en hulle uniforms en voertuie met rooi angeliere versier het.

Politieke gevangenes is bevry en talle opposisiefigure het uit ballingskap terug gekeer. Die beweging was sterk sosialisties gedryf en dit het gelyk asof Portugal, immers ʼn Navo-stigterslid, dalk die Sowjetunie se nuwe pion in die weste van Europa word. Gelukkig het dit nie so vêr gekom nie en gematigde elemente, soos generaal Spinola, het ʼn rol in die nuwe regering gespeel. Vir lank is Portugal as gevolg van die pendulumswaai van regs na links deur sosialistiese regerings, wat egter binne die Westerse verbond gebly het, regeer.

Vir Afrika was die angelierrevolusie ingrypend en die dekolonisasie kon nou vinnig afgehandel word, soos wat die nuwe regering van Portugal aan sy vyf kolonies Mosambiek, Angola, Guinee-Bissau, Cap Verde en Sao Tomé onafhanklikheid gegee het. Almal van hulle het ook vêrlinks gedraai, in Angola en Mosambiek het vreeslike burgeroorloë gevolg wat eers in die 1990’s beëindig is.

Vir Suid-Afrika het dit ook verreikende gevolge gehad. Ten eerste het derduisende Portugese uit Mosambiek en Angola suid gevlug na die enigste Westerse en veilige land in Afrika en het die blanke bevolking aansienlik versterk. Die kommunistiese magsoorname in twee state op Suid-Afrika se voorstoep het militêr en finansieel ʼn groot las op Suid-Afrika (en Rhodesië) geplaas en die einde van die blanke bewind in beide lande bespoedig.

In Portugal is 25 April steeds ʼn openbare vakansiedag en talle monumente herinner aan die gebeurtenis, alhoewel die Salazar-bewind terugskouend intussen meer gebalanseerd waargeneem word.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.