Die VSA se stigtingsmite en die oorsprong van Thanksgiving

Foto

Dit is vanjaar 400 jaar gelede dat die VSA se sleutelgebeurtenis, wat hul stigtingsmite geword het, plaasgevind het.

Op 16 September 1620 vaar die Mayflower vanaf Plymouth, Engeland met 102 passasiers na die Nuwe Wêreld en op 21 November kom die sogenaamde pelgrimvaders in Massachusetts aan. Dit is vergelykbaar met die landing van Jan van Riebeeck in Tafelbaai op 6 April 1652 as stigtingsmite van Suid-Afrika.

Dat die gebeurtenis nie behoorlik gevier word nie, soos wat dit by so ’n groot verjaardag behoort te wees, het nie net met korona te doen wat groot byeenkomste aan bande lê nie, maar ook met die heersende tydgees van kulturele Marxisme of omgedraaide rassisme, waar alles wat deur witmense en spesifiek wit mans bereik is, beveg en afgekraak word. Trouens, vanjaar se Thanksgiving word oorskadu deur die vandalisering van talle monumente onder die vaandel van anti-kolonialisme en anti-rassisme.

Hoekom is 1620 so ’n belangrike gebeurtenis vir die VSA? Amerika is reeds sowat honderd jaar vantevore ontdek deur die Spanjaarde, en ook die eerste nedersetting, St. Augustine in Florida, is deur hulle gestig in 1565. In Virginia is Jamestown as eerste Britse nedersetting in 1607 gestig.

Wat die aankoms van die Mayflower-setlaars anders maak en as die kiem vir die latere demokratiese, Westerse en Christelike VSA gesien word, is die feit dat dit ’n groep godsdienstige vlugtelinge uit Engeland was wat uit Europa aan die vooraand van die dertigjarige godsdiensoorlog gevlug het om ’n nuwe, Christelike beskawing op te bou, nie veroweraars of fortuinsoekers nie. Behalwe vir die godsdienstige vlugtelinge was daar ook ’n paar “gewone mense” saam met hulle op die Mayflower. Dit was ook betekenisvol dat die aankomelinge met ’n kontrak hul klein gemeenskap se werkswyse en selfbestuur gereël het, en daarin uitdruklik erkenning aan God gegee het. In dié sin was dit die eerste, beskeie poging binne die latere VSA om ’n eie, nuwe gemeenskap met ’n soort grondwet op te bou, wat na vryheid voor God gestreef het en wat ook doelbewus die bande met die moederland afgesny het, iets wat die latere VSA sterk beïnvloed het. Dit was ook gesinne wat gekom het, nie enkellopende mans soos in talle ander gevalle nie.

Die groep sou eintlik in Virginia aandoen waar hulle grond van die Britse Virginia-maatskappy bekom het, maar het weens ’n storm verkeerdelik meer as 300 km verder noord naby die huidige stad Boston aangedoen.

Die stigting van die nedersetting was baie moeilik. Dit was aan die begin van die winter in ’n koue deel van Amerika en hulle was in ’n onbekende en yl bevolkte streek nadat die Indiane in die gebied reeds voor die aankoms van die setlaars deur siektes wat seevaarders gebring het, uitgeroei is. Die setlaars kon wel in die ruïnes van die Indiaanse nedersetting beskeie skuilings bou, maar meeste het op die skip gebly. Die winter was verskriklik hard, siektes was volop, daar was niemand om kos te voorsien nie en die voorrade van die skip was min. Boonop was daar sporadiese aanvalle deur rondswerwende Indiane. Die helfte van die sowat honderd setlaars het die eerste winter nie oorleef nie.

Foto: Wikimedia

In Maartmaand die volgende jaar wou die kaptein van die Mayflower terugkeer na Engeland en sou die laaste lewenslyn afgekap wees. In die geskiedenis van kolonisasie is daar talle voorbeelde hoe nedersettings ná minder as ’n jaar tot niet gegaan het. Wonderbaarlik is daar uitkoms gestuur in die vorm van ’n Indiaan met naam Samoset wat weens interaksie met Engelse handelaars Engels kon praat. Hy het die setlaars verwelkom en bevestig dat die oorspronklike bewoners van die dorp almal uitgesterf het en dit dus regmatig die setlaars s’n was. Hy het ook die hoofman van ’n ander stam in kontak met die setlaars gebring en hulle het ’n ooreenkoms aangegaan: hulle sou mekaar bystaan in die geval van aanvalle deur ander Indianestamme asook met handeldryf. Een van die Indiane, Squanto, het ook in die nedersetting agtergebly en die setlaars geleer hoe om gewasse soos mielies te plant sodat hulle die volgende winter sou oorleef. Samoset en Squanto vergelyk met Herrie die Strandloper in die Suid-Afrikaanse geskiedenis.

Toe die setlaars danksy die hulp van die Indiane in die herfs van 1621 ’n oes gehad het, was hulle oorlewing verseker. Om dit te vier en God te dank vir Sy voorsienigheid, het hulle saam met die Indiane ’n oesdankfees gehou. Dit is die oorsprong van die jaarlikse Thanksgiving, ’n dag van saameet en saamkuier in die familiekring.

Latere presidente, soos John Quincy Adams en Abraham Lincoln, het die stigters van die Plymouth-kolonie – al was dit nie die eerste een op die gebied van die VSA nie – as diegene gehuldig wat die grondslag vir die latere VSA gelê het. Dit was Christelike gesinne wat ’n nuwe, beter en morele beskawing wou begin en nie handelaars en avonturiers wat ’n fortuin of roem gesoek het nie. Dit is begin met ’n kontrak wat ’n soort basiese demokrasie verteenwoordig het en was nie ’n hiërargiese maatskappystaat nie. En laastens, dit is gegrondves op samewerking, selfs vriendskap met die Indiane en nie op oorlog, uitbuiting en uitdrywing nie.

 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

J ·

Baie interessante artikel! Dankie!

Die les:

Waar beginselvaste, gemotiveerde en begaafde mense saamstaan — kan GROOT DINGE GEBEUR!

Soos ‘n ‘wêreld moondheid’!

Ons mense het die potensiaal om dieselfde te doen!

Frank ·

Lekker gelees dankie!
Ek verstaan net nie heeltemal jou gebruik van die woord “mite” nie. Ek verstaan mite as iets wat wyd aanvaar en geglo word, maar wat nie die waarheid is nie. En ek besit nou nie ‘n Afr Verklarende Woordeboek nie…. Miskien is daar eerder ‘n ander woord wat mens kon gebruik?

Therese ·

Stigtingsverhaal beslis ‘n beter keuse as “mite”.
Wat ‘n interessante stuk!
Veral die samewerking tussen die settelaars en Squanto en Samoset baie geniet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.