Duitsland: meer van dieselfde politiek

duitsland-berlyn

Foto: Alexas_Fotos/Pixabay.com

In Duitsland is onlangs ʼn nuwe bondspresident verkies. Die bondspresident in Duitsland is slegs ʼn seremoniële staatshoof met min uitvoerende gesag, vergelykbaar met die staatspresident in die Republiek van Suid-Afrika van 1961-1984.

Die huidige bondspresident, Joachim Gauck, het ná een termyn van vyf jaar verkies om nie vir ʼn tweede termyn te staan nie. Gauck het aanvanklik die verbeelding aangegryp, omdat hy geen partypolitieke kandidaat was nie, bekend was as iemand wat teen die hoofstroom swem sonder om links of regs te wees, en iemand wat as Lutherse predikant deelgeneem het aan die volksopstand teen die kommunistiese Oos-Duitse bewind in die jare 1989-1990.

Hy was daarna vir tien jaar kommissaris vir die argief van die staatsveiligheid, wat ten doel gehad het om die donker verlede van die Oos-Duitse kommunistiese bewind te boekstaaf. In 2012 is hy deur ʼn breë konsensus en met die verwagting dat hy ʼn vars bries in die muwwerige politiek bring, tot bondspresident verkies as kandidaat van die meeste partye wat in die parlement verteenwoordig is.

Gauck het egter in die afgelope jare ook al meer geklink soos die ander hoofstroompolitici, met polities korrekte uitsprake ten gunste van die instroming van vlugtelinge en houe teen die “regses”.

Die bondspresident word nie deur die bevolking verkies nie, maar deur ʼn vergadering bestaande uit lede van die nasionale parlement en van afgevaardigdes van die wetgewers van die deelstate, waar elke party ʼn kandidaat kan benoem, maar gewoonlik vooraf al redelik seker is wie gaan wen. Die nuwe bondspresident is Frank-Walter Steinmeier, tans nog minister van buitelandse sake en lid van die Sosiaal-Demokratiese Party (SPD). Hy was nie net die kandidaat van die SPD nie, maar ook van die Christen-Demokrate (CDU), wat saam met die SPD in ʼn sogenaamde groot koalisie ʼn beduidende meerderheid het.

Hoewel die bondspresident min mag het en nie veronderstel is om met die alledaagse politiek in te meng nie, kan hy deur rigtinggewende toesprake en optrede beleid en die algemene koers bepaal. Vir die party aan wie hy behoort, beteken dit ook prestige.

Die CDU as grootste party het die meeste presidente in die geskiedenis van die bondsrepubliek opgelewer, maar kon hierdie keer geen geskikte kandidaat vind nie, blykbaar omdat Merkel alle hoëprofiel-politici in haar party uitgewerk het. Steinmeier was vir hulle aanvaarbaar genoeg en die ondersteuning van sy kandidaatskap was ook ʼn gebaar aan die SPD om ná die verkiesing later vanjaar die groot koalisie voort te sit.

Steinmeier het as minister van buitelandse sake heelwat ervaring van die diplomatieke protokol en is iemand wat gewoonlik onomstrede goed sê. Sy rekord as minister van buitelandse sake, wat werklike oplossings betref, is egter beskeie en hy staan soos min ander vir die swak beleid van die afgelope tyd: die verblyf van Griekeland in die Europese Unie (EU) ten alle koste, ʼn inkonsekwente optrede in die Midde-Ooste en teenoor Rusland en veral die oop grense en die instroming van vlugtelinge.

Min mense het werklik ʼn ernstige probleem met hom, maar nog minder is opgewonde oor hom. Hy is die konsensuskandidaat by uitstek en staan soos min ander vir die voortsetting van dieselfde ou politiek, juis dit wat mense toenemend laat wegbeweeg van die politieke hoofstroom.

Op ʼn ander front het die Duitse politiek skynbaar weer meer opwindend geraak. Dit is as ʼn gegewe aanvaar dat Angela Merkel van die CDU weer die bondskanselier word as deel van ʼn groot koalisie, nie omdat sy so gewild of so bekwaam is nie, maar omdat die ander groot party, die SPD, geen alternatief bied nie en besonder swak vaar in die meningspeiling.

Veral die SPD se leier, Sigmar Gabriel, wat as visekanselier en minister van ekonomiese sake deel is van die koalisieregering, maak mense nie opgewonde nie. Gabriel het onlangs vriend en vyand verras deur as partyleier te bedank en om ook nie as kandidaat vir bondskanselier te staan nie en pleks daarvan Martin Schulz as nuwe leier en kandidaat vir kanselier voor te stel. Schulz was vir jare in die EU-politiek bedrywig en tot onlangs toe president van die Europese Parlement.

Sedert Schulz se nominasie as kandidaat het die SPD in peilings duidelik veld gewen en die CDU amper ingehaal. Schulz se gewildheid het veral te doen met die feit dat hy ʼn nuwe gesig is: Mense raak moeg vir Merkel wat al sedert 2005 regeer, en Gabriel was ook te naby aan haar en word te veel met die regering geassosieer om as alternatief waargeneem te word.

Schulz is, wat temperament en persoonlikheid betref, die teendeel van Merkel. Hy is joviaal, selfs luidrugtig, grappig, gemaklik met mense, praat op die man af en is iemand wat daarvan hou om in die middelpunt te staan en wat vir sy geringe kwalifikasies deur selfgeldende optrede kompenseer. Hy het egter nog geen duidelike beleid nie en het min ervaring met nasionale politiek, omdat hy die grootste deel van sy loopbaan in die Europese politiek bedrywig was.

Terwyl hy uit die uiterste Weste van Duitsland kom, kom Angela Merkel uit die uiterste Noordooste. Merkel daarteenoor is terughoudend, sonder charisma, praat vervelig en sonder geesdrif, maar word as eerlik, ervare en betroubaar gereken. Polities is daar egter min verskille tussen hulle twee. Schulz staan by uitstek vir die links-liberale EU-beleid van die ophef van nasiestate en grense, die instroming van vlugtelinge, ʼn al groter wordende welsynstaat met al meer regulering. Sy slagspreuk is die afgesaagde “ meer sosiale geregtigheid”, terwyl Duitsland onder Merkel reeds nog meer van ʼn welsynstaat geword het as wat dit reeds was. ʼn Donald Trump, Marine le Pen of Geert Wilders is nêrens in Duitsland op die horison nie.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Sebastiaan Biehl

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk as navorser, argivaris en toergids vir die Orania Beweging in Orania, is ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling en skryf is veral politiek, geskiedenis, reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

John ·

Goed so. Nou kan Duitsland homself vernietig. Hy verdien dit.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.