Einde van integrasieprojek in Europa

europese-unie

Vlae van die Europese Unie. Foto: Pontzi/Pixabay.com

Terwyl die Brexit-sirkus voortduur en politieke partye oor die hele Europa hul veldtogte vir die Europese verkiesing volgende maand van stapel stuur, ontstaan daar al hoe meer vrae oor die volhoubaarheid van integrasie en samewerking in Europa.

Europese integrasie en veral die totstandkoming van die Europese Unie was grootliks ’n reaksie op die verwoesting van die wêreldoorloë en die persepsie dat integrasie en samewerking ’n oplossing vir die probleme wat ongelyke magsverhoudinge skep, sou wees.

Sedert die oprigting van die Duitse eenheidstaat in 1871, is Duitsland as te groot, te ryk en te magtig vir Europa beskou. Dit het mettertyd tot konflik met veral Frankryk en die Britte in die Weste en die Russe in die Ooste aanleiding gegee.

Ná die Tweede Wêreldoorlog was Duitsland een van die eerste sewe Europese lande wat integrasie in werking gestel het. Sedertdien is Duitsland ’n groot voorstander vir groter politieke en ekonomiese integrasie in Europa.

Hoewel die eertydse militêre aggressor deesdae ’n lammetjie is, word Duitsland se enorme ekonomiese sukses in baie ander Europese lande as ekonomiese aggressie beskou. Die Duitsers handhaaf ’n handelsoorskot met die meeste ander Europese lande en die sukses van die Duitse ekonomie word veral in die suide van Europa met jaloesie bejeën.

Weens Duitsland se ekonomiese sukses het die land oor die afgelope paar jaar ook toenemend leiding gegee op ander gedeelde terreine. Angela Merkel se hantering van die vlugtelingkrisis is ’n goeie voorbeeld van Duitse optrede wat tot spanning met ander Europese lande aanleiding gegee het.

Terwyl ’n meerderheid van Britte ten gunste van uittrede uit die Europese Unie gestem het, blyk dit dat ’n meerderheid van burgers in die EU se oorblywende 27 lidlande steeds ten gunste van eenheid is. Wat egter oor die afgelope paar jaar verander het, is dat ’n meerderheid van mense in talle Europese lande deesdae teen groter eenheid en integrasie gekant is.

In Italië, een van die grootste bevolkings en ekonomieë in Europa, is daar reeds ’n regering aan bewind wat uitgesproke skepties is oor enige verdere integrasie. Italië stel inderwaarheid ’n hervorming van die Europese Unie voor.

Dit is egter nie net in Italië waar politieke partye wat teen verdere integrasie gekant is, opgang maak nie. Oor die hele Europa groei die steun van partye wat die mag van die Europese Unie wil beperk en die soewereiniteit van lidlande wil bly verseker. Die meeste van hierdie partye gaan volgende maand sterk groei in die Europese verkiesing toon.

Rob Ford, ’n professor in politiek aan die Universiteit van Manchester, verwys na nuwe verdelingslyne wat oor Europa heen ontstaan en wat groter integrasie gaan verhoed. Volgens hom is die belangrikste sake wat tans in Europa verdeeldheid aanvuur, nasionale identiteit, immigrasie, multikulturalisme, etnisiteit en sosiale waardes.

Onder leiding van Matteo Salvini gaan daar waarskynlik ná die Europese verkiesing een nuwe blok van Euro-skeptiese partye in die Europese parlement gevorm word. Hoewel Europa en die EU nog lank nie uit mekaar gaan spat en in konflik gaan verval nie, is dit toenemend duidelik dat die toekoms van Europa deur ’n nuwe soort realisme gekenmerk gaan word en dat groter integrasie onwaarskynlik is.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Gustav ·

Nee my Europese vriendjies. Julle wou dan destyds so graag hê ons moes integreer. So julle moet nou ook integreer. Dis mos lekker, of hoe? Ek hoop van harte die immigrante oorstroom julle landjies en dwing hulle kultuur op julle af. Multikulti is mos fantasties. Dis mos wat julle vir ons gesê het.

Andreas ·

Laat hulle hul lende met Afrika omgord, koester dit ons gun dit vir hulle. Ons kan uit die suide nog ‘n paar skippe aan stuur.

Hans Richardt ·

Al die Meditereense lande kry swaar, Griekeland, Italië, Spanje en Portugal kry swaar, want die lande was vroeër sterk op toerisme aangewese. Bv Duitsland besit lughawe en China hawe in Griekeland, waar banke genasionaliseer was.

John ·

Die militère aggressor wat deesdae ‘n lammetjie blyk te wees is sluwer en meer versluierd as tydens WOII… haar nuwe benadedering… ‘n kus op beide wange… liefies. Wag totdat almal wakkerskrik en terugkrabbel dan sien jy die ware Mein Herr op sy agterpote met Navo wat dan mòèt doen wat moedertjie sè… òf… Almal moet Rusland haat omdat hy Hitler vasgevat het. Duitsland wil hom terugkry met behulp van al die soet skape… en Brittanje moet luister… sweet little Mayday is reeds ingebreek.

Gert ·

My hart gaan uit na hulle toe. Soos ons, was hulle ook beïnvloed deur die media en politici dat dit die “regte” ding is om te doen, en toe hulle agterkom wat die werklike resultate is, was dit reeds te laat. Ek hoop en bid dat sommige van daardie lande nog iets sal kan doen om dinge om te keer, want ons weet eerstehands hoe aaklig die alternatief is, en vir ons is daar geen omdraaikans nie.

NEE stemmer ·

Gert Gert Gert, iemand wat in 1992 hom deur politici laat beinvloed het, is van dieselfde kaliber as iemand wat hom deur ‘n skelm se “vinnig rykword” skemas laat beinvloed.

Ek gaan tog nie water in my voertuig gooi om te kyk of hy daarmee gaan ry of nie.
My gesonde verstand sê mos alreeds voor die tyd vir my dit gaan nie werk nie.
Net so met die nuwe SA se eksperiment.

Annie Webb ·

Ek stem saam, Gert. Ek verstaan die ouer pres. Bush het eerste met die “new world order” begin en daarna het dit die denke oral oorheers, aangevuur deur die media wat eindelose emosionele afpersing kon toepas. Tot Nigel Farage en toe pres. Trump hardop gesê het wat baie mense reeds begin dink het. Ek hoop saam met jou Europa en die VSA kan die wa omdraai en die Westerse gevorderde kultuur behou. SA is iets heeltemal anders. Wittes en die Westerse kultuur is hier ‘n onbeduidende minderheid. Ons kan ons net op internasionale reg beroep, vir beskerming van minderheidsregte. Soos AfriForum doen met hofsake teen allerlei diskriminasie. Maar vir AfriForum om ‘n politieke party te steun soos sommige van die leiers tans doen, kan hulle geloofwaardigheid erg skade berokken. ‘n Burgerlike organisasie is veronderstel om apolities te wees.

RG ·

Reeds te laat. Gordel vas Europa, die geintegreerdes gaan nou begin vermenigvuldig. Julle gaan nog stem vir ‘n tuisland in julle eie lande.

Jerry ·

Die belangrikste oorweegrede of saak van al die sake en wat nie deur die skrywer genoem word nie, mbt die verdelende effek, is VEILIGHEID! Die veiligheid van lande, wie se menslike belange bedreig word, is die lande wat wegbreek. Dit gaan dus nie net oor identiteit of waardes nie, dit gaan oor al die sake wat genoem word deur die skrywer wat aanleiding gegee het tot die ontstaan van n nuwe bedreiging wat die veiligheid van mense, in spesifiek die lande wat wegbreek, in gedrang gebring het. Veiligheid as hooftema en beweegrede bied uiteraard regeergeleenthede aan meer konserwatiewe partye. Immigrasie sal nie by EU wegbreeklande tot n halt geroep word soos in Trump se geval nie, dit sal net streng beheer word, omrede lande van die UK nie oor genoegsame menslike hulpbronne beskik om al die werk te doen nie! In SA word die VEILIGHEID van mense bedreig deur misdaad en politieke onverdraagsaamheid waarvan die oorsake daarvoor legio is teenoor die paar oorsake in EU. In EU doen lande tenminste iets omtrent die bedreiging, anders as in SA waar die bedreiging aangehelp en aangevuur word!

Annie Webb ·

Ek stem saam, Jerry. Dis die voortdurende geweld van die migrante se kant wat uiteindelik die toegeeflike Europeërs laat voet neersit het. Let op dat Trump net onwettige immigrasie wil stopsit, geensins wettige immigrasie nie. Sy inisiatiewe het nou tot soveel werkskepping gelei dat die VSA hoegenaamd nie in die vraag na werkers kan voorsien nie. Maar hulle wil KIES wie hulle toelaat. En mens kan glad nie SA met Europa en die VSA vergelyk nie. Daar is die kultuur en regerings nog nominaal Westers en die Derde Wêreld die ongewensde immigrante. SA is die Derde Wêreld en die Westerse kultuur ‘n minderheidsbelang. Nugter weet hoekom ons media so graag ons leiers met pres. Trump vergelyk. Of ons populisme met Trump s’n. Of Trump en regse Europese leiers se nasionalisme met die NP of Hitler. Nasionalisme wat al die wettige inwoners van ‘n land insluit, kan baie positief wees. SA is Afrika; Europa en die VSA is die Eerste Wêreld. Get over it.

humor ·

En wat nou van die vroeningsinisiatief en die sagte handskoenhantreing wat jy so dikwels predik?

Dieter ·

Europa, kom kyk gerus hier aan die suidpunt van sonnige Afrika hoe lekker ons integreer.
Ons het hope pret, en ons wil so graag hê julle moet ook soveel pret hê.
Om die waarheid te sê, ons wil hê alle liberale lande moet ook pret hê met integrasie.
Europa, Kanada, VSA, “Oestralië”, NZ, sommer die hele boksemdaais.
Dit lyk darem asof julle almal stadig maar seker in daai wonderlike integrasie rigting beweeg.
Elke jaar is julle % wittes ‘n titseltjie minder en minder in jule eie lande.
Net ‘n kwessie van tyd…..

NEE stemmer ·

Gert Gert Gert, iemand wat in 1992 hom deur politici laat beinvloed het, is van dieselfde kaliber as iemand wat hom deur ‘n skelm se “vinnig rykword” skemas laat beinvloed.

Ek gaan tog nie water in my voertuig gooi om te kyk of hy daarmee gaan ry of nie.
My gesonde verstand sê mos alreeds voor die tyd vir my dit gaan nie werk nie.
Net so met die nuwe SA se eksperiment.

Jerry ·

Humor, die versuim om versoenend op te tree en om met die hoed in die hand oplossingskompromiee aan te gaan met die magshebber van die tyd, het n minderheidgroep gelei tot waar hulle, hulself nou bevind. Uitgesluit uit ekonomiese deelname, vervreemd van universiteite en jarelange tradisionele borge, geisoleerd in wit plakkerskampe, witkruis statistiek, uittog na die buiteland en verlies aan kiesersgetalle vir die komende verkiesing en nog, is dit alles einde niet, jou ou slimjan!

Wessel ·

Ai, party mense is nog steeds vasgevang in die politieke gedagte gang van die vroeere negentiger jare. Dit het nooit gegaan oor versoening nie, dit het gegaan oor oorname.

Jerry ·

Dit is juis omdat dit gegaan het oor oorname deur die meerderheid, dat dit vir die minderheid sou gegaan het oor n sekere mate van beskerming van regte deur versoening. Dit het egter nie gebeur nie en daarom is die minderheid se regte besig om teen n snelle pas in die hek te duik in die breer SA samelewing. Die onversoenende benadering tot die strewe na selfbeskikking was en is steeds n groot doelbewuste bydraende faktor vir die isolasie en uitsluiting van die minderheidsgroep ten einde deur selfbeskikking die enigste alternatiewe heenkome te bied vir die minderheid se beskerming van regte. Die probleem wat dit dan nou ook verder teweeg bring is dat dit reeds ook maar net n kwessie van tyd is voordat die regbank nie meer onafhanklik gaan funksioneer van die magshebbers ideologiee nie en dat selfs die selfbeskikking strewe dan deur wetgewing gekelder of die aksie waarvoor julle so lief is, geboikot, sal word! Julle was egter gereeld gewaarsku, maar het duidelik nie op die waarskuwings ag geslaan nie en terwyl julle nou as gevolg van julle hardhorendheid agter die skerms moet spoeg en spartel vir ander moontlikhede en uitkomste, gaan ek, “in the Spur of the moment” n ietsie by die Spur eet!

Gert ·

Eerstens is die regbank lankal nie meer onafhanklik nie. Tweedens sou voete soen niks gekeer het wat gebeur het nie, inteendeel, as ons vroeer begin ons rug styf maak het, sou dinge nie nou al so ver verval gewees het nie.

Annie Webb ·

Ek moet weer eens saamstem, Jerry. Niemand hoef voete te soen (of te was) nie, maar om uitdagend op te tree as mens so ‘n klein minderheid is, maak nie sin nie. Selfs as mens se geskiedenis verguis en beledig word, kan jy steeds vriendelik verskil. Soos die ou gesegde lui: jy vang meer vlieë met suiker as met asyn. Makliker gesê as gedaan, maar nie onmoontlik nie. Die selfbeskikkingstorie is só belaglik dat mens regtig nie eens daaraan kan aandag gee nie. Het die mense hoegenaamd die detail deurdink?

JAN ·

Watse belaglike “selfbeskikkingstorie” bedoel jy Annie? Wat is bekaglik daarmee?
Die binne grense of buite grense.
Dis tog immers die kernkwessie…..globalisasie versus apartheid as strategie vir vryheid van jou seldbeskikking (basiese menslike geestelike en sielkundige behoefte is immers “the sense of Belonging”)
Jy en te veel ander is swerwers sonder rigting ….soekers wat nooit vind…
Koos Dup se kosbaarheid. Ai trane.

Kerrie Vlamskiet Briekstreep ·

.
.
Europa ….die hemel-koningin bruid van Apollyon.

….so word die klimaat gekweek vir die verwoesting wat nog kom.

.
.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.