Gevaarligte flits op vir VSA-kampusse

Pro-Palestynse studente en aktiviste by die Universiteit van Kalifornië. Betogers het sedert 17 April op minstens 40 Amerikaanse universiteitskampusse bymekaargekom. (Foto: Etienne LAURENT / AFP)

Toe ʼn groep van sewentig studente drie weke gelede op die kampus van Columbia-universiteit in New York met anti-Israel betogings begin het, het min Amerikaners verwag dat dit in ʼn nasionale studenteprotes, wat uiteindelik ernstige vrae oor die toekoms van Amerika sou laat ontstaan, sou ontaard.

Die afgelope weke het die protesaksie uitgekring na tientalle ander universiteite in New York, Connecticut en Massachusetts in die Amerikaanse noordooste, maar ook na universiteite in suidelike deelstate soos Noord-Carolina, Georgia en Texas en sover wes as Kalifornië. Reg oor Amerika is kampusse gesluit en studente verplig om aanlyn klasse by te woon. By die Universiteit van Suid-Kalifornië in Los Angeles is een van die grootste gradeplegtighede, wat jaarliks deur 65 000 mense bygewoon word, verlede week op die nippertjie gekanselleer.

Die VSA is gewoond aan studenteprotesoptrede. Tydens die Viëtnam-oorlog in die 1960’s het duisende Amerikaanse studente vir maande lank op kampusse aan optogte teen dié oorlog deelgeneem. Dit was die begin van ʼn proteskultuur onder Amerikaanse studente wat oor die afgelope ses dekades voortgeduur het.

Die afgelope weke se opstande op Amerikaanse universiteitskampusse is egter anders. Dié betogings is oorheers deur anti-Israel, anti-Joodse haatslagspreuke. Betogers het selfs geweld gebruik om Joodse studente en dosente te verhoed om kampusse te betree.

Op Columbia-universiteit het studente slagspreuke gebruik wat uitgesproke pro-Hamas was en wat selfs ʼn oproep op Hamas-terroriste gedoen het om Israel weer in te val en soos op 7 Oktober verlede jaar burgerlikes aan te val.

Die voormalige liberale Demokratiese goewerneur van New York Andrew Cuomo het in ʼn rubriek in die Wall Street Journal na die betogings as ʼn skande verwys. Volgens Cuomo oorskry dit enige billike perk op die vryheid van spraak, en kom die studente en ander betogers se optrede op “terreurtaktieke” neer.

ʼn Lid van die Amerikaanse kongres, en ʼn uitgesproke anti-Israel aktivis, Ilhan Omar, se dogter was deel van die aanvanklike groep studente wat die protesoptrede onderneem het. Omar, wat in Somalië gebore is en die afgelope paar jaar ʼn distrik in Minnesota in die Amerikaanse kongres verteenwoordig, is deel van ʼn groterwordende groep Amerikaanse politici met ʼn immigrante-agtergrond uit Afrika en die Midde-Ooste wat uiters krities teen Israel, maar ook ou gevestigde Amerikaanse alliansies en waardes, staan.

Die studente-opstande sluit aan by die afgelope ses maande se reusebetogings in talle Amerikaanse stede teen Israel. Die groterwordende Moslembevolking in die VSA is uitgesproke en toenemend aktivisties teen Israel, wat oorspoel in Jodehaat, maar ook ʼn algemene afkeur in die Westerse karakter van Amerikaanse instellings.

ʼn Groot groep anti-Israelse aktiviste het onlangs in Chicago vergader om planne te bespreek om die Demokratiese Party se konvensie in Augustus in dieselfde stad te ontwrig. Die groep aktiviste was almal uitgesproke pro-Hamas en selfs Iran. Dit is reeds duidelik dat die eens pro-Israel Demokrate besig is om hieroor verdeel te word.

Soos wat Amerika demografies verander, gaan wat die afgelope weke op universiteitskampusse gebeur het, ook na ander instellings en uiteindelik ʼn wesenlike deel van die samelewing oorspoel. Dit voorspel niks goed vir die toekoms van Amerika nie. Onbeheerde immigrasie kan oor die volgende paar jaar die VSA kultureel van binne uithol wat tot ʼn reusepolitieke en samelewingskrisis aanleiding kan gee. Die studenteprotesoptrede is maar net die begin daarvan.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Ja, die magtige VSA begin wankel. Die politici het gedink die land kan aanjaag in ander lande en dan rustig terugsit en geld maak. Die kuikens kom nou huistoe om te braai.

Jaco ·

@Kokerboom. Inderdaad ja. Maar nie so erg soos in die VSA nie. Daar is in talle Europese lande baie minder van ‘n proteskultuur onder studente. In sommige Europese lande is studente ook minder geneig om linksgesind te wees soos wat die geval in die VSA is. Maar ja daar is sekere parallelle wat geldig is.

Marthinus W ·

Protes is belangrik, solank dit nie met geweld saamgaan nie. Die protes by ongeveer 50 universiteite was sonder geweld, die polisie was die geweldenaars. n 65-jarige Joodse professor is gearresteer, met n polisieman se been teen haar nek, en sy is in boeie geslaan [cable ties]. Jill Stein, een van hierdie jaar se presidentskandidate is ook gearresteer. So ook Ilan Omar se 21-jarige dogter. Daar is n Joodse organisasie wat die protesteerders ondersteun, maar die nuus bly stil. Daar is ook n Joodse anti-protesgroep wat traangas op die studente gooi, maar hulle word uitgelos. Hier is dubbele standaarde.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.