Internasionale oorsig: Burkina Faso, Islamitiese terreur en verval van demokrasie in Afrika

(Foto: JOHN WESSELS/AFP)

Die militêre staatsgreep in Burkina Faso ʼn paar dae gelede is die vierde sodanige staatsgreep in die Sahel-streek in Wes- en Sentraal-Afrika die afgelope 12 maande.

Die staatsgreep in Burkina Faso bring ʼn tydelike einde aan die demokrasie in dié land en daarmee saam bring dit ook duidelike bewyse van die onvermoë van demokraties-verkose regerings in Afrika om oplossings vir probleme soos Islamitiese terreur, armoede, swak dienslewering en korrupsie te vind. Terwyl daar in 2015 en 2020 twee vrye en regverdige demokratiese verkiesings in Burkina Faso plaasgevind het, het die meerderheid van dié land se kiesers uiteindelik so gefrustreerd geraak met die regering van pres. Roch Marc Christian Kaboré dat groepe in dié land se weermag die geleentheid aangegryp het om ʼn staatsgreep uit te voer.

ʼn Groep soldate van die sogenaamde Patriotiese Beweging vir die Beskerming en Herstel van Burkina Faso (MPSR) het Maandagaand onder leiding van lt.kol. Paul-Henri Sandaogo Damiba pres. Kaboré onder huisarres geplaas, die parlement ontbind, die grondwet opgeskort en het op staatsbeheerde televisie spesifiek Kaboré en sy regering se mislukkings die afgelope ses jaar as rede vir hul optrede aangevoer. Die staatsgreep word as ʼn tydelike oplossing vir die land se probleme voorgehou. Dit was Dinsdag duidelik dat baie mense in Burkina Faso hoogs tevrede is met die weermag se optrede.

Burkina Faso is een van die armste lande in die wêreld. Sowat 80% van die land se bevolking woon in landelike gebiede waar hulle van bestaansboerdery afhanklik is. Sedert 2013 teiken Islamitiese terreurgroepe, onder andere die Islamitiese Staat in die Groter Sahara (ISGS), die Islamitiese Staat Wes-Afrika-Provinsie (ISWAP), die Jama’at Nasr al-Islam wal Muslimin (JNIM), ʼn plaaslike tak van Al-Kaïda in Mali, en Boko Haram verskeie arm lande in die Sahel-streek. Dit is veral Burkina Faso, Mali, Niger en Nigerië wat deur dié groepe geteiken word, hoewel die geweld die afgelope jaar of twee ook na talle ander lande in die streek versprei het.

Verlede jaar is meer as 2 000 mense in Burkina Faso weens aanvalle deur Islamitiese terreurgroepe dood. Meer as 1,4 miljoen mense in veral die grensgebiede naby aan Niger en Mali het reeds gevlug en geniet tans vlugtelingstatus. Die Liptako-Gourma-streek waar Burkina Faso, Niger en Mali se grense bymekaar kom, is die belangrikste operasionele sentrum vir Islamitiese terreurgroepe. Die gebied is uiters afgeleë en ontoeganklik.

In 2020 is massagrafte in afgeleë dele van Burkina Faso gevind, wat die werklikheid van massamoorde wat deur terreurgroepe uitgevoer word, bevestig het. Op 4 Junie verlede jaar is meer as 100 mense in die afgeleë Solhan-nedersetting in die noorde van Burkina Faso deur terroriste vermoor en groot dele van die nedersetting is afgebrand.

Islamitiese terreurgroepe in die Sahel- en ander Afrikastreke se korttermyndoelwit is politieke en maatskaplike onstabiliteit wat ʼn teelaarde skep vir die werwing van jong mans om by terreurgroepe aan te sluit. Dit is dan ook presies waarmee hulle die afgelope paar jaar groot sukses behaal. Oor die lang termyn wil die Islamitiese terreurgroepe natuurlik suiwer Islamitiese regerings in die gebied vestig.

Die staatsgreep in Burkina Faso volg op twee militêre staatsgrepe in Mali in Augustus 2020 en in Mei 2021, ʼn staatsgreep in Tsjad in Mei 2021 en een in Guinee in September 2021. In Soedan het die weermag in Oktober verlede jaar ook ʼn staatsgreep uitgevoer.

Terwyl oor die afgelope 70 jaar reeds 90 staatsgrepe in Afrika uitgevoer is, toon die getal staatsgrepe sedert Mei verlede jaar ʼn skerp toename, wat kommerwekkend is omdat dit in een enkele streek in Afrika plaasvind. Al hierdie lande word die afgelope agt jaar deur groeiende Islamitiese terreur getref.

Frankryk het die afgelope paar jaar die Weste se poging om Islamitiese terreur in die streek te beveg, gelei. Pres. Emmanuel Macron het egter verlede jaar reeds aangekondig dat sy land minstens die helfte van sy 5 000 soldate uit die streek gaan onttrek weens die onvermoë van regerings in die streek om met Frankryk saam te werk en om volhoubare oplossings vir die probleem te vind.

Ook ander Westerse lande ondervind uitdagings met hul vredesoperasies in die streek. Lande soos die VSA en Duitsland werk vanaf basisse in Niger, maar sukkel die afgelope ruk om enige samewerking van Mali en Burkina Faso te kry. Die Barkhane-mag onder leiding van Frankryk het die afgelope agt jaar vanaf sy tydelike hoofkwartier in N’Djamena in Tsjad met vyf lande in die Sahel-streek (Burkina Faso, Tsjad, Mali, Mauritanië en Niger) probeer saamwerk om terreurgroepe uit die gebied te dryf. Terwyl die operasie onderneem is, is dit toenemend duidelik dat Barkhane beperkte sukses oplewer.

Die Verenigde Nasies se MINUSMA-vredesoperasie, waaraan meer as 15 000 vredesmagte uit 65 lande deelneem, word sedert 2013 in die streek onderneem in ʼn poging om Islamitiese terreur in die Sahel te takel. MINUSMA het die afgelope ruk die VN se gevaarlikste vredesoperasie geword met 209 soldate wat reeds gesneuwel het. Ook die Europese Unie en die VSA het magte in die Sahel ontplooi om terreurgroepe te beveg sonder dat enige sukses behaal word.

Dit is veral die VSA wat die afgelope paar jaar duisende soldate met groot moeite en teen enorme koste in Sahel-lande opgelei het met die idee dat die lande in die streek en hul weermagte uiteindelik self die stryd teen Islamitiese terreurgroepe moet lei.

ʼn Patroon is egter aan die ontwikkel waar Amerikaans-geleide soldate die leiding neem in staatsgrepe in Afrika. Lt.kol. Damiba, wat die staatsgreep in Burkina Faso gelei het, is ʼn hoogs opgeleide soldaat wat die afgelope paar jaar van die beste Amerikaanse weermagopleiding ontvang het. Damiba het die afgelope 12 jaar aan minstens ses Amerikaanse militêre opleidingsoefeninge deelgeneem.

(Foto: Amerikaanse ambassade in Irak/AFP)

Die VSA het die afgelope paar jaar meer as $1 miljard aan onder meer die opleiding van soldate in Afrikalande bestee in ʼn poging om veral die Sahel-streek en ander lande in Wes- en Oos-Afrika te help stabiliseer. Soldate wat deur die VSA opgelei is, was egter die afgelope paar jaar direk betrokke by militêre staatsgreeppogings (wat soms suksesvol was en soms nie) in Burkina Faso, Guinee, Mauritanië, Mali en Gambië.

Opposisiegroepe in Burkina Faso het die afgelope week, ná Maandag se staatsgreep, gevra dat Rusland moet ingryp in die situasie in hul land. Adama Coulibaly, ʼn Burkinese opposisieleier wat die afgelope paar jaar uit vrees vir vervolging in Frankryk woon, het die afgelope week die staatsgreep verwelkom.

Volgens Coulibaly is die staatsgreep ʼn direkte gevolg van die swak leierskap in Burkina Faso se regering. Hy is veral negatief oor duisende soldate van Westerse en Afrikamagte se onvermoë om die streek te stabiliseer.

Dit is sekerlik so dat die situasie in die Sahel sodanig verswak het dat dit moeilik is om vinger te wys na buitelandse pogings om vrede te bevorder. Die werklikheid is egter dat die situasie in die Sahel vir die hele streek, sy mense, die hele Afrika en ander lande wat oor Islamitiese terreur bekommerd is, belangrik behoort te wees.

Die humanitêre krisis in die streek neem reeds erge afmetings aan. Sanksies, die isolasie van lande waar staatsgrepe uitgevoer is en voortdurende onveilige omstandighede en toenemende terreur vererger die tekorte aan basiese lewensmiddele wat ondervind word.

Terwyl dit duidelik is dat daar nie by alle weermagte wat staatsgrepe uitvoer ʼn werklike wil bestaan om die demokrasie in hul lande te herstel nie, moet instellings soos die Afrika-Unie en internasionale organisasies nie pogings om demokrasie en orde in die Sahel-streek te herstel en Islamitiese terreur te beveg laat vaar nie.

Hoe meer Islamitiese terreurgroepe, veral dié met bande met die Islamitiese Staat en Al-Kaïda, ʼn permanente houvas op die streek kry, hoe meer sal hulle begin om hul terreur na die res van Afrika en uiteindelik ander wêreldstreke, waaronder die VSA en Europa, uit te brei. Internasionale samewerking is nodig om die foute van die afgelope paar jaar reg te stel en stabiliteit in die Sahel te bewerkstellig. Anders gaan die res van die wêreld toenemend die prys vir dié streek se probleme moet betaal.

Islamitiese Staat (IS) slaan weer toe in Sirië en Irak

isis terreur

Argieffoto.

Skaars drie jaar nadat die VSA en verskeie groepe in Sirië en Irak daarin geslaag het om die IS-terreurgroep uit sy laaste vestings te verdryf, het dié groep die afgelope paar dae met mening op verskeie plekke begin terugslaan en daarmee ʼn ernstige waarskuwing gerig dat die stryd teen terreur in Sirië en Irak nog lank nie verby is nie.

Bykans 200 IS-vegters het op 20 Januarie ʼn deeglik beplande aanval op die al-Sina’a-gevangenis in Al-Hasakah in die noordooste van Sirië geloods. ʼn Groot groep IS-terroriste van sowat 3 000 gevangenes word in die tronk aangehou. Die gebied is tans onder die beheer van ʼn Koerdiese administrasie en die Amerikaanse weermag het steeds ʼn teenwoordigheid in die gebied, veral om die Koerde met opleiding, wapens, toerusting en intelligensie by te staan.

Die afgelope anderhalf week is meer as 200 mense reeds in die stryd om beheer van die tronk dood. Terwyl Koerdiese magte die afgelope week beheer oor die tronk probeer terugkry het, moes die hulp van Amerikaanse soldate ingeroep word. IS beheer steeds dele van die tronk en minstens 800 IS-vegters wat in die tronk aangehou is, het reeds ontsnap.

Die aanval op die tronk het in ʼn klein oorlog tussen Koerdiese magte en IS-vegters ontaard en gevegte het die afgelope week na omliggende gebiede versprei met minstens sewe burgerlikes wat reeds dood is en sowat 45 000 mense wat uit Al-Hasakah na ander dorpe en stede gevlug het.

Hoewel die Koerde die afgelope dag of twee danksy Amerikaanse hulp beheer oor die gevangenis begin terugkry, het die aanval bevestig dat die IS besig is om deeglik te herorganiseer en dat hy oor die vermoë, wapens en strategiese leiding beskik om groter aanvalle uit te voer.

Terwyl die Amerikaanse weermag die Koerde die afgelope week met lugaanvalle en gevorderde wapens moes help om beheer oor die Al-Hasakah-gevangenis terug te kry, het gevegte tussen Koerdiese soldate en IS-vegters sowat 150 km verder in Rasafa, ʼn dorp naby aan die stad Raqqa, ook uitgebreek. Groepe goed opgeleide IS-vegters is duidelik in verskeie dele van Sirië en Irak aktief besig om aanvalle te beplan en te loods in wat die grootste toename in geweld in dié gebied sedert 2019 is.

Verlede Vrydag het IS-vegters in Irak ʼn weermagpos in die bergagtige al-Azim-distrik, sowat 120 km oos van die hoofstad Bagdad, in die nag aangeval en 11 Irakese soldate in hul slaap doodgeskiet. Die verrassingsaanval het skokgolwe deur die Irakese weermag gestuur en het vrese bevestig dat IS voorberei om meer verrassingsaanvalle, veral in afgeleë dele van Irak, uit te voer.

IS-vegters het in Desember verlede jaar vier Irakese jagters, onder wie ʼn polisieman, in ʼn afgeleë deel in die noordooste van Irak ontvoer. Die polisieman is onthoof en ʼn video van die onthoofding is op die internet versprei. Dit herinner sterk aan IS se aanvanklike optrede in 2014 toe dié groep begin het om aanvalle reg oor Irak en Sirië uit te voer. Op die hoogtepunt van die sogenaamde kalifaat wat deur IS uitgeroep is, het die groep ʼn derde van Irak se grondgebied en groot dele van Sirië beheer.

Aanvalle deur Isis-militante in die ou gedeelte van Mosul (Foto: Felipe Dana, AP)

Gevegte die afgelope ruk bevestig ook die onvermoë van die veiligheidsmagte in Irak en Sirië, waaronder die Koerdiese magte, om IS se aktiwiteite te monitor en intelligensie- en veiligheidsoperasies beter te koördineer.

Die Amerikaanse weermag het tans meer as 700 lede in die noordooste van Sirië en nog 200 in die weste van die land. Terwyl die Amerikaanse regering verkies dat sy soldate nie meer in direkte konflik in Sirië en Irak betrokke moet wees nie, het gebeure die afgelope week bewys dat IS toenemend gaan probeer om die Amerikaners in ʼn gewapende stryd te betrek.

Afgesien van die tronk in Al-Hasakah is daar reg oor Sirië aanhoudingskampe waar IS-vegters en hul families ook steeds aangehou word. Duisende buitelanders, dikwels met historiese bande met die streek, wat tussen 2014 en 2019 na Sirië gereis het om IS te ondersteun, of self aan die gewapende stryd deel te neem, en wat gevange geneem is, word ook in tronke en kampe aangehou. Dit is dikwels in hierdie tronke en kampe waar die volgende generasie IS-vegters begin organiseer.

Die bedreiging vir hewiger IS-aanvalle in Sirië en Irak neem tans vinnig toe. Die VSA en ander Westerse magte sal moet bepaal tot watter mate hulle tot die stryd teen IS en ander terreurgroepe verbind is en op watter maniere plaaslike weermagte en groepe soos die Koerde beter ondersteun kan word.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.