Internasionale oorsig: Groenparty neem eerste keer voortou in Duitsland

Annalena Baerbock. (Foto: ANNEGRET HILSE/POOL/AFP)

Kiesers in Duitsland sal oor vyf maande na die stembus gaan om verteenwoordigers vir die federale parlement, die Bundestag, te verkies. Nadat Angela Merkel vir meer as 15 jaar bondskanselier van Duitsland was, sal dié land ná 26 September se verkiesing ʼn nuwe kanselier hê. Sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog het Duitsland agt bondskanseliers gehad; vyf van Merkel se Christen-Demokrate en drie van die Sosiaal-Demokrate.

Die afgelope week het verskeie peilings in Duitsland egter gewys dat die Groenparty, wat in 2017 slegs 8,9% van die stemme gekry het, ʼn goeie kans staan om ná September se verkiesing die grootste party in Duitsland te word. Die Groenes het pas die party se medeleier, Annalena Baerbock (40), as hulle kandidaat vir bondskanselier aangewys hoewel die benoeming nog by ʼn partykongres bevestig moet word.

Baerbock is in 2013 vir die eerste keer tot die Bundestag verkies. Sy is afkomstig uit Oos-Duitsland en woon saam met haar man en twee dogters in Potsdam in die deelstaat Brandenburg.

Baerbock het die afgelope week gesê dat sy en haar party gereed is om Duitsland vir die eerste keer ooit te regeer. Volgens Baerbock het Duitse kiesers in September ʼn keuse tussen die verandering wat haar party voorstaan en die behoud van die status quo wat deur die Christen-Demokrate verteenwoordig word.

Die Groenparty se verkiesingsmanifes onderneem groter besteding aan infrastruktuur, ʼn  drastiese uitbreiding van hernubare energie-opwekking en die beëindiging van die Nord Stream 2-gaspypleiding tussen Duitsland en Rusland.

Die party is ten gunste van groter Europese integrasie binne die Europese Unie. Volgens Baerbock moet Duitsland deur klimaatsbeskerming die grondslag vir welvaart, vryheid en veiligheid in Duitsland en Europa help skep.

Armin Laschet (regs) saam met Annegret Kramp-Karrenbauer (links) en Angela Merkel. Foto: (AP Photo/Markus Schreiber)

Die Christen-Demokrate het Maandag bekend gemaak dat die premier van Noordryn-Wesfale, Armin Laschet, dié party se kandidaat vir bondskanselier gaan wees. Dit volg nadat die CDU se sustersparty in Beiere, die CSU, voorgestel het dat hulle leier, Markus Söder, die twee partye se gesamentlike kandidaat moet wees. Merkel is egter ʼn ondersteuner van Laschet en 77,5% van die CDU se leierskap het ten gunste van sy kandidatuur gestem.

Dit het egter die afgelope paar dae in peilings tot ʼn verdere verlies aan steun vir die CDU/CSU gelei. Laschet geniet min steun in Duitsland terwyl Söder ʼn gewilde politikus is. Volgens ʼn peiling van die ARD-televisiekanaal voel 44% van Duitsers dat Söder ʼn goeie leier van die CDU/CSU kan wees. Slegs 15% van Duitse kiesers voel dat Laschet die sentrumregse blok in September se verkiesing moet lei. In twee afsonderlike peilings die afgelope paar dae het die Groenparty nou die CDU/CSU verbygesteek, en Baerbock is baie meer gewild onder Duitse kiesers as Laschet.

Baie dinge kan nog oor die volgende vyf maande gebeur. Tans is die CDU/CSU egter in die moeilikheid en word die kanse vir ʼn linkse koalisieregering met ʼn  bondskanselier van die Groenparty ʼn groter moontlikheid. Merkel is blykbaar wel oortuig daarvan dat ʼn beter inentingsprogram oor die volgende paar maande, ekonomiese herstel en die terugkeer tot ʼn groter mate van normaliteit haar party se steun weer sal herstel. Wat egter duidelik is, is dat ʼn verbete stryd om die toekomsvisie vir Duitsland in aanloop tot September se verkiesing voorlê.

Sturgeon gaan wen in Skotland, maar sonder volstrekte meerderheid

Nicola Sturgeon. Foto: (AP Photo/Scott Heppell)

Minder as twee weke voor die Skotse verkiesing wat op 6 Mei plaasvind, is dit duidelik dat die Skotse eerste minister, Nicola Sturgeon, se Skotse Nasionale Party (SNP) die verkiesing maklik gaan wen, maar dat ’n volstrekte meerderheid in die Skotse parlement, ook bekend as Holyrood, haar waarskynlik gaan ontwyk.

Die SNP het die afgelope week in twee peilings sy laagste steun sedert Desember verlede jaar geniet en volgens beide peilings gaan die party net-net nie daarin slaag om 65 setels te wen en só, sonder die steun van een van die ander partye, te regeer nie.

Sturgeon is steeds baie gewild in Skotland. Haar uitdaging is dat haar voorganger as eerste minister en leier van die SNP, Alex Salmond, onlangs sy eie party begin het en dat hy beweer dat Sturgeon nie die Skotte se onafhanklikheidstrewe sterk genoeg bevorder nie. Salmond se party geniet tans slegs 2% steun in peilings, maar dit is byna alles stemme wat hy by die SNP wegneem.

Die SNP en die Skotse Groenparty steun albei ’n onafhanklikheidsreferendum vir Skotland binne die volgende vyf jaar. Die Konserwatiewe Party, tans die tweede grootste party in Skotland, die Arbeidersparty en die Liberaal-Demokrate is almal teen Skotse onafhanklikheid gekant.

Die Skotse parlement het 129 lede. Om ’n volstrekte meerderheid te kry moet ’n party dus minstens 65 setels wen. Die SNP het tans 61 setels en kan volgens peilings tussen 61 en 65 setels wen en waarskynlik net-net ’n volstrekte meerderheid mis. Daarvoor sal die SNP, soos die afgelope vyf jaar, die Skotse Groenparty se steun nodig hê om ’n regering te vorm en wetgewing goed te keur.

Die SNP regeer Skotland reeds die afgelope 15 jaar. Sturgeon is sedert 2014 eerste minister van Skotland. Sy is ’n gewilde leier en haar sterkste punt is dat sy vertroue by Skotte inboesem. ’n Meerderheid van Skotte is positief oor haar hantering van die Covid-19-pandemie.

Nicola Sturgeon. Foto: (Jane Barlow/PA via AP)

Heelwat groot uitdagings lê egter ná die verkiesing vir Sturgeon en haar party voor. Eerstens sal sy haar belofte van ’n onafhanklikheidsreferendum moet probeer gestand doen.

Daar bestaan ernstige kritiek op toegang tot gehalte onderrig vir arm mense in Skotland. Skotland het ook tans die hoogste sterftekoers weens dwelmmisbruik in die hele Europa.

Skerp kritiek is onlangs deur opposisiepartye uitgespreek omdat ’n hospitaal vir kinders in Edinburgh nege jaar langer as beplan geneem het om te bou. Die SNP belowe in sy verkiesingsmanifes ’n skerp toename in besteding aan gesondheidsorg, maatskaplike dienste en onderwys, maar geen woord word gerep oor hoé dit befonds gaan word nie.

Die vraag wat op 6 Mei beantwoord gaan word, is egter nie of Skotte wil hê dat Sturgeon en haar party hierdie uitdagings moet aanpak nie. Die SNP sal die verkiesing wen, die vraag is net of hulle in die laaste dae genoeg kiesers na hulle kan swaai om 65 setels te wen. Daarmee saam sal ook ’n sterk mandaat vir Skotse onafhanklikheid kom – iets waarvoor die SNP juis hoop.

Laaste demokratiese stuiptrekkings in Turkye

Turkye se president Recep Tayyip Erdogan. (Foto: Turkish Presidency via AP, Pool)

Die Italiaanse eerste minister, Mario Draghi, se onlangse uitspraak dat die Turkse president, Recep Tayyip Erdogan, ’n diktator is, het tot ’n diplomatieke krisis in Europa en die verdere verswakking in verhoudinge tussen Wes-Europa en Turkye aanleiding gegee.

Hoewel diktator dalk ’n effense oordrewe beskrywing van Erdogan is, is dit heeltemal korrek dat Erdogan die afgelope paar jaar aktief die demokrasie in Turkye afgebreek het en dat hy niks minder as ’n outokraat is nie.

Hoewel daar nog vrye verkiesings in Turkye plaasvind, is die verkiesings in dié land lankal nie meer regverdig nie. Erdogan gebruik die staat en sy magtige instellings soos die staatsbeheerde media om sy eie belange te dien en sy party in verkiesings te bevorder. Tans is hy besig met ’n proses om een van Turkye se grootste politieke partye, die Koerdiese HDP-party, te laat verbied.

Terwyl Erdogan die afgelope dekade die meeste kritiese mediahuise stilgemaak het, het sy aanslag die afgelope tyd ook tot die regbank, die akademici en nou selfs munisipaliteite versprei.

Die Europese Hof vir Menseregte het verlede week beslis dat Erdogan die hele Turkse regstelsel afgetakel het. Dié hof het die Turkse owerhede veroordeel vir hul hantering van ’n saak teen die Turkse skrywer, Ahmet Altan. Hy is tot lewenslange tronkstraf gevonnis omdat hy na bewering aan die staatsgreeppoging in 2016 in Turkye deelgeneem het. Die Europese hof het egter bevind dat daar geen bewyse is dat Altan enigiets gedoen het wat tot die staatsgreeppoging bygedra het nie. Altan het nooit toegang tot die staat se klagtes en bewyse teen hom gehad nie en kon dus glad nie vir sy verdediging voorberei nie.

Altan se saak is nie ’n geïsoleerde saak nie. Die afgelope vyf jaar is honderde, selfs duisende Turke wat van Erdogan verskil, in die tronk gestop nadat hulle valslik van samewerking in die staatsgreeppoging beskuldig is. Erdogan het die afgelope paar jaar die howe gesuiwer van enige opponente en slegs lojaliste van sy party word deesdae as regters en staatsaanklaers aangestel.

In 2019 is meer as 36 000 Turke deur die owerhede ondersoek omdat hulle die president kwansuis beledig het. Sommige mense is tot vyf jaar tronk toe gestuur oor plasings op sosiale media wat negatiewe verwysings na Erdogan ingesluit het.

Die invloedryke parlementslid en menseregte-aktivis Ömer Faruk Gergerlioğlu is onlangs uit die Turkse parlement geskors. Daarna is hy gevangenisstraf opgelê omdat hy Erdogan op sosiale media beledig het. Erdogan se regering het ook onlangs tot ontsteltenis in Europa, Turkye aan die sogenaamde Istanboel-konvensie onttrek. Dié konvensie is in 2011 in Istanboel deur 45 lande aanvaar. Dit handel oor die bekamping van geweld teen vroue wêreldwyd.

Nadat opposisiepartye twee jaar gelede die burgemeestersverkiesings in Turkye se drie grootste stede, Istanboel, Ankara en Izmir gewen het, het Erdogan begin om die bestuursfunksies van groot munisipaliteite en die finansiering van munisipaliteite te sentraliseer. Hy het ook onlangs tot groot protes begin om aan te dring dat die rektore van universiteite sentraal aangestel word.

Die Amerikaanse departement van buitelandse sake het onlangs sy burgers gewaarsku teen besoeke aan Turkye vanweë die risiko aan “arbitrêre aanhouding” gebaseer op “geringe of geheime bewyse” teen buitelanders dat hulle Erdogan sou beledig of met vyande van die Turkse staat sou saamwerk.

Terwyl Erdogan demokratiese instellings in Turkye afbreek, verkeer sy land in groeiende ekonomiese moeilikheid. Erdogan se antwoord hierop is om by Europese leiers aan te dring dat dit makliker vir Turkse sakelui moet wees om in die EU-lande sake te doen. Erdogan het selfs onlangs versoek dat ’n spesiale doeane-unie en spesiale visums vir Turkse sakelui deur die EU en Turkye onderhandel moet word.

Pres. Recep Erdogan. (Foto: Turkse presidensie via AP)

Die Turkse ekonomie is sterk verbind aan die Europese ekonomie en handel met EU-lidlande maak ’n groot deel van Turkye se internasionale handel uit. Meer as 9% van Turkse uitvoere gaan aan Duitsland, meer as 6% aan die Verenigde Koninkryk, meer as 5% aan Italië en meer as 5% aan die VSA.

Daar is egter ’n sterk gevoel onder die meeste Europese politieke partye en regerings dat die huidige aanslag op demokrasie en menseregte in Turkye nie geduld moet word nie en dat Europa nie sterker verhoudinge met Turkye kan smee solank Erdogan se regering meer en meer outokraties word nie.

Volgens ’n peiling wat onlangs deur Metropoll in Turkye gedoen is, voorspel 58% van Turke dat die land se ekonomie verder gaan verswak. Volgens 65,9% van Turke is die swak ekonomie en werkloosheid die land se grootste probleme.

Erdogan het in 2017 die land se parlementêre stelsel met ’n uitvoerende presidensie vervang en hy is as president verkies. Die referendum om die Turkse verkiesing hiervolgens te wysig is in April 2017 naelskraaps goedgekeur nadat Erdogan ’n enorme staatsgefinansierde veldtog ten gunste van die grondwetwysiging onderneem het. Die volgende presidentsverkiesing moet in 2023 plaasvind en verskeie peilings wat die afgelope paar weke gedoen is, wys dat Erdogan in ’n tweede ronde teen die burgemeester van Istanboel, Ekrem İmamoğlu, te staan kan kom en dat İmamoğlu ’n goeie kans sal staan om Erdogan uit te stof. Die ekonomiese sukses van Turkye die volgende twee jaar sal ’n belangrike rol speel in Erdogan se kanse tot herverkiesing, maar nog belangriker is Erdogan en sy regering se aftakeling van demokratiese prosesse, insluitende verkiesings. Daar heers reeds ernstige kommer oor of Erdogan ’n vry en regverdige verkiesing in 2023 sal toelaat.

 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.