Internasionale oorsig: Israel se anti-Netanyahu-regering in wording

Regse ondersteuners van Benjanim Netanyahu met ‘n Israelse vlag tydens ‘n betoging teen die koalisie. (Foto: Jack Guez/AFP)

Laat Woensdagaand, net voor die afsnydatum wat aan Yair Lapid, die leier van Israel se grootste opposisieparty, Yesh Atid, gegee is om ʼn koalisieregering te probeer saamstel, het agt partye in die Israelse parlement aangekondig dat hulle ʼn ooreenkoms bereik het om ʼn nuwe regering te vorm.

Die nuwe koalisie is ʼn sameflansing van linkse, sentristiese en selfs ultraregse politieke partye wat almal net een ding gemeen het, naamlik hulle sterk afkeer van Benjamin Netanyahu, Israel se eerste minister sedert 2009 en die man wat die Likud-party reeds die afgelope twee dekades lank lei.

Israeli’s is op 23 Maart vanjaar na die stembus in die vierde verkiesing binne twee jaar. Netanyahu se Likud-party het eerste geëindig deur 30 van die 120 setels in die Knesset te wen. Die party het egter sewe setels verloor sedert die vorige verkiesing verlede jaar en Netanyahu kon nie daarin slaag om weer ʼn koalisieregering saam te stel nie.

Die uittredende president van Israel, Reuven Rivlin, het toe die leier van die grootste opposisieparty gevra om ʼn regering te probeer saamstel. Lapid, ʼn voormalige joernalis en minister van finansies tussen 2013 en 2014, het toe met verskeie partye wat almal redelik sterk teen Netanyahu se leierskap gekant is, samesprekings begin voer. Lapid se party, Yesh Atid, is ʼn sentristiese party wat veral steun geniet onder die sekulêre middelklas van Israel. Die party is onder meer gekant teen spesiale regte vir ortodokse Jode. Yesh Atid het in Maart se verkiesing 17 setels gewen.

Terwyl Lapid daarin kon slaag om verskeie ander sentristiese en linkse partye te oortuig om deel van ʼn nuwe koalisieregering te word, was sy grootste struikelblok die party van Naftali Bennett. Bennett se party, Yamina, is ʼn regse populistiese party wat sterk ten gunste van die ontwikkeling van nuwe Joodse nedersettings in die Wesoewer en die ooste van Jerusalem is.

Bennett, die seun van Amerikaanse emigrante, was vir lank ʼn bondgenoot van Netanyahu en het oor die jare senior posisies in Netanyahu se regering beklee. Hy was tussen 2013 en 2019 die minister van diaspora en tussen 2019 en 2020 minister van verdediging. Met tye het hy ook die posisies van minister van ekonomiese sake, minister van geloofsake en minister van onderwys beklee.

Sonder Bennett se steun sou Lapid nie daarin kon slaag om ʼn koalisieregering te vorm nie. Bennett se party is met sewe setels slegs die vyfde grootste party in die Knesset, maar sonder sy steun kon Lapid net 54 van die 120 stemme bymekaar bring. Bennett het uiteindelik daartoe ingestem om aan ʼn koalisieregering deel te neem op voorwaarde dat hy vir die eerste twee jaar die rol van eerste minister wil vertolk. Lapid en ander leiers, onder wie die huidige minister van verdediging, Benny Gantz van die Blou en Wit-party, se bereidwilligheid om hierdie toegewing aan Bennett te maak, is ʼn bewys van hulle desperaatheid om van Netanyahu ontslae te raak.

Een van die agt partye in die nuwe koalisie is ʼn Arabiese party, en indien die koalisie daarin sou slaag om Netanyahu voor die afsnydatum van 14 Junie te verwyder en ʼn nuwe eerste minister aan te wys, sal dit die eerste keer ooit wees dat ʼn Arabiese party deel van ʼn koalisieregering in Israel sal wees.

Die grootste uitdaging vir die voorgestelde nuwe koalisieregering is egter die feit dat die agt partye ideologies só verskil dat talle van hulle op sommige punte presies teenoor mekaar geplaas is. Dit laat dus ernstige vrae ontstaan oor die volhoubaarheid van die koalisie.

Die eerste hekkie wat die partye moet oorkom, is om eers die huidige speaker van die Knesset, wat ʼn bondgenoot van Netanyahu is, te verwyder en te vervang. Daarna moet Bennett deur ʼn meerderheid van 61 van die 120 lede van die Knesset tot eerste minister verkies word. Die agt partye het saam presies 61 lede in die Knesset en daar is dus geen ruimte selfs vir net een lid van ʼn party om teen die nuwe koalisie te stem nie.

Verder moet die vraag gevra word hoe lank so ʼn koalisie sal kan staande bly. Sou Bennett die volgende twee jaar eerste minister wees, geld die vraag of hy van sy party se huidige beleid, wat sterk ten gunste van nuwe Joodse nedersettings in die besette Wesoewer is, gaan wegstap. Indien nie, sal hy teenkanting van die Arabiese party en van linkse partye in die koalisieregering kry. Bennett is ideologies ongetwyfeld meer regs as Netanyahu, en hoewel leiers soos Lapid en Gantz deur die nuwe koalisie daarin sal kan slaag om Netanyahu te verwyder, wys hulle eintlik net ʼn meer regse eerste minister aan – iets waarteen albei eintlik gekant was.

Netanyahu is reeds 71 jaar oud en is tans in ʼn ernstige korrupsiehofsaak gewikkel. Indien hy as eerste minister uitgeskop word, is dit onseker wat sy rol in die politiek sal wees. Hy kan uittree uit die politiek of besluit om opposisieleier te word. Netanyahu se nalatenskap sal in elk geval enorm wees. Hy het Israel die afgelope 12 jaar ideologies verder na regs geswaai en het Israel se rol in die Midde-Ooste en die wêreld drasties verander met die normalisering van verhoudinge met Arabiese lande, Israel se aggressiewe uitbreiding van nedersettings in die Wesoewer en Israel se moderne ekonomiese ontwikkeling wat dit in een van die welvarendste lande ter wêreld omskep het.

Broei groter oorlog teen Israel?

Hassan Nasrallah, die sekretaris-generaal van die Sjiiete-terreurgroep in Libanon, Hezbollah, het Israel onlangs in ʼn toespraak gewaarsku dat sy organisasie gereed is om oorlog teen Israel te maak indien die Israeli’s op enige manier die regte van Jerusalem se Moslembevolking sou bedreig.

Hoewel Israel en Hezbollah in die verlede gereeld in konflik en selfs oorlog gewikkel was, soos die Libanon-oorlog van 2006, was daar die afgelope meer as ʼn dekade heelwat minder skermutselings. Tydens verlede maand se 11 dae lange konflik tussen Israel en Hamas in die Gasa-strook is daar by drie geleenthede ʼn klein aantal vuurpyle uit die suide van Libanon, die tuiste van Hezbollah, op Israel afgevuur. Die vuurpyle het egter nie veel skade aangerig nie en dit is ook onseker of Hezbollah daarvoor verantwoordelik was.

Terwyl Israel moes bontstaan om die meer as 3 000 vuurpyle wat Hamas verlede maand afgevuur het, deur sy afweerstelsel, Iron Dome, onskadelik te stel, sal Israel ʼn baie groter uitdaging die hoof moet bied indien hy deur Hezbollah aangeval sou word.

Verskeie veiligheidsontleders waarsku reeds die afgelope paar jaar dat Hezbollah hom vir ʼn oorlog met Israel voorberei. Volgens sommige beramings het Hezbollah die afgelope paar jaar tot 150 000 vuurpyle vervaardig.

Nasrallah se onlangse toespraak is ʼn duidelike waarskuwing aan Israel dat sy organisasie gereed is vir oorlog. Indien ʼn oorlog uitbreek waarin Israel in die suide vanuit die Gasa-strook en in die noorde vanuit Libanon aangeval sou word, sal dit ʼn heelwat meer ingewikkelde oorlog vir dié land tot gevolg hê.

Daar is dus goeie rede waarom Israel se minister van verdediging, Benny Gantz, Donderdag na Washington DC gereis het om die Amerikaners om hulp te gaan vra. Volgens berigte vra Israel dat die VSA een miljard dollar se wapentuig moet skenk sodat Israel se Iron Dome-stelsel heropgebou kan word.

Israel besef egter baie goed dat Hamas nie sy enigste vyand is nie. Hezbollah word deur Iran ondersteun, en met politieke onstabiliteit in Libanon kan Hezbollah se hergroepering sedert die 2006-oorlog tot ʼn nuwe, groter kopseer vir Israel lei.

Verkiesing in krisistyd vir Peru

Vyf jaar gelede is Peru deur internasionale beleggers as een van die suksesvolste opkomende ekonomieë in die wêreld beskou. Die land se ekonomie het jaarliks teen tussen 5% en 6% gegroei terwyl sy uitvoere van natuurlike hulpbronne, veral koper, en verskeie landbouprodukte skerp toegeneem het. Werkloosheid het gedaal en buitelandse beleggers het toenemend geld in Peru begin belê.

Nou, op die vooraand van ʼn presidentsverkiesing, staan dié land op die randjie van ʼn afgrond. Kiesers in Peru moet kies tussen ʼn ekstreem linkse onderwyser sonder enige politieke of uitvoerende ervaring, Pedro Castillo, en die onindrukwekkende Keiko Fujimori, dogter van ʼn voormalige outoritêre president van Peru wat op verskeie strafregtelike klagte skuldig bevind is. Wie ook al in Sondag se verkiesing verkies word, sal Peru se vyfde president in slegs vyf jaar wees.

Die land se politieke stelsel het die afgelope vyf jaar byna in duie gestort met ʼn versplintering van politieke partye, die opkoms van linkse en regse populiste, die ontbloting van grootskaalse korrupsie deur politici, en uiteindelik die Covid-19-pandemie.

Intussen het die regering in Peru die afgelope week die land se sterftesyfer weens Covid-19 van 69 342 tot 180 764 aangepas nadat data oor sterftes ontleed is. Dit beteken dat Peru nou die land in die wêreld met die hoogste per capita-sterftes weens Covid-19 is.

Covid-19 het ook groot ekonomiese skade in Peru aangerig. Die regering het verlede jaar streng inperkingsmaatreëls ingestel wat tot groot werksverliese aanleiding gegee het. Ten spyte daarvan het die virus verwoesting gesaai, en gewone burgers van Peru het min vertroue in hulle regering om die pandemie die hoof te bied.

Daar is tans min politieke ervaring in die land se kongres met die meeste ervare politici wat uit die politiek getree het. Die twee kandidate wat tot die finale ronde van die presidentsverkiesing deurgedring het, verteenwoordig die ideologiese teenpole in Peru, maar albei is onbekwaam om Peru uit sy politieke, ekonomiese en gesondheidskrisis te lei.

Die verhaal van Peru die afgelope vyf jaar is die verhaal van ʼn opkomende land waar politieke leiers jare lange ekonomiese sukses uitgewis het. Daar is min rede om te dink dat die situasie ná die verkiesing omgekeer sal word.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

annie ·

… sameflansing is die regte woord en ons weet van lasplekke tussen verskillende materiale. Netanyahu word soos Trump behandel; dat die ondertoon iets heel anders is. Net ‘n kwessie van tyd en A(rab)LM is ook aan die orde van die dag. Christen-Jode is steeds onwelkom in Israel maar enige ander en in enige kombinasies wel. Die Jode is steeds hul eie grootste vyand. Die Moslemmoskee staan waar die tempel gestaan het. Na die Romeinse oorname het die terrein in ‘n rommelhoop ontaard, totdat… skryf antieke historici, maar nou is dit ontelbare biljoene werd en die kersie op die koek vir WO3.

Werner ·

Dankie Jaco. In SA kan die huidige regering ook ‘n paar eeue se ekonomiese ontwikkeling in ‘n kort tyd vernietig. Ek wonder watter ooreenkomste is daar tussen die poliltiek in Peru en SA?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.