Internasionale oorsig: Kavkaz 2020 skep kommer in Westerse lande

(Argieffoto: Jason Lee/Reuters)

Die Russies-geleide Kavkaz 2020- militêre oefening wat op 15 September in die Kaukasiese gebergtes in die suide van Rusland begin is vanjaar ’n duidelike poging van die Russe om ’n boodskap aan Westerse lande te stuur.

Verskeie Midde-Oosterse en Asiatiese lande, insluitende Pakistan, Turkye, Azerbaidjan, die twee Russies-gesinde wegbreekprovinsies van Georgië (Abkasia en Suid-Ossetia), Kazakstan, Kirgisië, Tadjikistan en Oesbekistan sal aan die oefeninge deelneem. Die grootste bron van kommer vir die VSA en Europese lande is egter China se aanwesigheid by Kavkaz 2020 en onlangse nouer militêre samewerking tussen Rusland en China.

Terwyl die verhouding tussen Rusland en Westerse lande sedert Rusland se anneksasie van die Krim-skiereiland in 2014 aanhou verswak het, het die verhouding tussen Rusland en China die afgelope paar jaar toenemend versterk. Dié twee lande se noue samewerking is ’n direkte gevolg van die vervreemding tussen Westerse lande en Rusland, én toenemende spanning tussen China en die VSA.

Dit is veral die onlangse militêre samewerking tussen Rusland en China, insluitend gesamentlike militêre oefeninge, wat Westerse politici bekommerd maak. Hoewel daar geen militêre alliansie tussen die twee lande in die vooruitsig gestel word nie, kan ’n bondgenootskap tussen China en Rusland tot hernude veiligheidsuitdagings vir die VSA, Japan, Rusland en ander lande in Asië en die Stille Oseaan-gebied aanleiding gee.

Die beste teenvoeter vir groter samewerking tussen Rusland en China is die normalisering van verhoudinge tussen die Weste en Rusland. Indië se onttrekking uit Kavkaz 2020 nadat dié land verlede jaar nog deelgeneem het, is ook goeie nuus vir die Weste. Hoewel Indië sy onttrekking toeskryf aan die Covid-19-pandemie, het dit waarskynlik veel meer te make met die teenwoordigheid van onder meer Pakistan en China wat die Indiërs afgesit het.

Wat egter duidelik is, is dat twee groot nuwe globale alliansies besig is om te ontstaan. Aan die een kant staan waarskynlik die VSA, Europa, sommige Asiatiese lande soos Indië, die Filippyne, Suid-Korea en Japan en aan die ander kant China, Rusland, Turkye, Iran en nog enkele ander lande. Hierdie alliansies is nog nie bevestig nie, het duidelike interne uitdagings en kan uiteindelik anders daarna uitsien, maar sou die Weste toelaat dat so ’n alliansievorming onverpoosd voortgaan, kan dit tot ernstige konflik in die toekoms aanleiding gee.

Memorandum uit 1982 bevestig VSA posisie oor Taiwan

(Foto: Defenseworld.net/Twitter)

Nadat China vroeër vanjaar sy greep op die semi-outonome stad Hongkong verskerp het met streng binnelandse veiligheidswetgewing, het die Chinese se fokus die afgelope paar weke na Taiwan verskuif. Hoewel Taiwan reeds vir dekades onafhanklik funksioneer, maak China steeds aanspraak daarop dat Taiwan deel van die Volksrepubliek van China moet wees.

Die Amerikaanse regering het die afgelope week die geheimhoudingsklassifikasie op ʼn memorandum wat op 17 Augustus 1982 deur die Amerikaanse minister van buitelandse sake, George Shultz, aan die regering van Taiwan gestuur is, opgehef. Volgens dié memorandum het die Amerikaanse regering onderneem om by Taiwan te bly staan, om voort te gaan om wapens aan Taiwan te verkoop en om steeds Taiwan se eise vir soewereiniteit te ondersteun.

Sedert die VSA gedurende die 1970’s sy verhouding met die Volksrepubliek van China geformaliseer het, bestaan daar ʼn ingewikkelde verhouding tussen China, die VSA en Taiwan met die Chinese wat daarop aandring dat die VSA slegs een enkele verenigde China erken. Die deklassifisering van die memorandum wat uit 1982 dateer is duidelik ʼn poging van die VSA om te bewys dat hoewel dié land vier dekades gelede sy verhouding met China geformaliseer het, hy steeds by die standpunt staan dat Taiwan as ʼn soewereine staat erken moet word. Ander lande wat onlangs dieselfde gedoen het, is onder meer Japan, Suid-Korea, Singapoer en Australië.

Ná Shinzo Abe, vrae oor verhouding tussen Japan en Rusland

Die voormalige Japanse premier, Shinzo Abe. (Foto: Kyodo News via AP)

Die skielike aankondiging dat Japan se premier, Shinzo Abe, weens gesondheidsredes gaan uittree, het vrae oor dié land se internasionale verhoudinge laat ontstaan. Abe het die afgelope paar jaar moeite gedoen om Japan weer ʼn globale rolspeler te maak ná dekades van ʼn sterk fokus na binne.

Hoewel Japan tans deur wesenlike ekonomiese uitdagings in die gesig gestaar word en die nuwe premier wat binnekort aangewys gaan word, heelwat hiermee gemoeid sal wees, is daar wel ʼn vraag oor hoe ʼn nuwe premier die land se verhoudinge met ander globale rolspelers gaan benader.

Terwyl geen Japanse regeringshoof tussen 2000 en 2013 ʼn staatsbesoek aan Rusland gebring het nie, het Abe van April 2013 tot September verlede jaar Rusland 11 keer besoek. ʼn Ekonomiese samewerkingsplan is met Rusland gesluit en daar is verlede jaar heelwat vordering gemaak in onderhandelinge tussen Rusland en Japan oor die betwiste beheer van vier eilande.

Intussen het pres. Wladimir Poetin egter in die referendum wat vroeër vanjaar oor grondwetwysigings in Rusland plaasgevind het, ʼn punt ingesluit wat bepaal dat Rusland geen grondgebied in onderhandelinge met ander lande mag afstaan nie. Dit is deur Japan as ʼn klap in die gesig ná jare se onderhandelinge bestempel.

Wat Abe graag wou regkry, was om die verhouding tussen Japan en Rusland te normaliseer ten einde Rusland se ekonomiese en militêre belange in Asië te diversifiseer en ʼn harde alliansie tussen Rusland en China te verhoed. Daar bestaan egter twyfel of hierdie strategie nou ná sy uittrede gaan slaag met nie een van sy potensiële opvolgers wat enige aptyt vir nouer samewerking met Rusland toon nie.

Groter rol vir Frankryk in die Midde-Ooste

Die Franse president Emmanuel Macron tydens ‘n besoek aan Irak. (Foto: @IraqLiveUpdate/Twitter)

Terwyl die Franse president, Emmanuel Macron, se gewildheid in sy eie land afneem, het hy die afgelope week besoeke aan Libanon en Irak gebring in ʼn poging om Frankryk se rol in die Midde-Ooste en die oostelike Mediterreense streek te bevestig.

Terwyl die meeste Westerse staatshoofde die afgelope maande grootliks op binnelandse sake weens die Covid-19-pandemie gefokus het, het die Franse president sy oog op belangrike internasionale sake bly hou.

Frankryk het die afgelope ruk noodgedwonge meer betrokke geraak by konflik in die Midde-Ooste aangesien die VSA die afgelope ruk ʼn meer beperkte rol in die streek begin inneem het. Macron se besluit verlede maand om Franse troepe na die oostelike Middellandse See te stuur om Griekeland teen Turkse aggressie by te staan, was ʼn duidelike teken van Frankryk se toenemend gesonde selfgeldende gedrag in die streek.

Die afgelope week het Macron eers in Libanon en daarna in Irak hulp vir die heropbou van albei lande aangebied, maar met ʼn duidelike en reguit stel eise vir noodsaaklike politieke hervormings. Die Franse leier neem tans die leiding in internasionale pogings om die situasie in Libanon te stabiliseer nadat ʼn verwoestende ontploffing in Beiroet tot grootskaalse protesoptogte en die uiteindelike bedanking van die hele regering gelei het.

Ook in Irak is Macron met ope arms ontvang. Sedert Mustafa Al-Kadhimi in Mei ʼn meer stabiele regering in Irak gevorm het, is daar pogings om dié land op ʼn meer volhoubare pad van vrede en ekonomiese ontwikkeling te plaas. Dit is duidelik dat Macron Frankryk as die voorste Westerse rolspeler in die Midde-Ooste wil vestig en dat hy daardeur sy eie politieke aansien in die aanloop tot die Franse verkiesing in 2022 wil verhoog.

Vrae oor vryheid van spraak vyf jaar ná Hebdo-terreuraanvalle

(Argieffoto: Jacques Brinon/AP)

Die verhoor van 14 vermeende medepligtiges in die terreuraanvalle op die Franse tydskrif Charlie Hebdo in Januarie 2015 het die afgelope week in Parys begin. Die drie aanvallers is al drie tydens die aanvalle op die tydskrif dood, maar die Franse owerhede het intussen 14 medepligtiges geïdentifiseer en aangekla. Uit die 14 aangeklaagdes het 11 in die hof verskyn, terwyl die ander drie ná die aanvalle na Sirië of Irak gevlug het en waarskynlik nog daar woon of moontlik selfs dood is.

Die aanval op die tydskrif en die aanval op ʼn Joodse kosjer-kruidenierswinkel kort daarna het skokgolwe deur Frankryk en Europa gestuur met die vrees van meer en groter terreuraanvalle in ander stede. Tien maande ná die aanvalle is ʼn veel groter aanval op die Bataclan-teater in Parys geloods wat tot nog meer vrese vir terreuraanvalle reg oor Europa gelei het.

Sedertdien was daar egter ʼn skerp afname in terreuraanvalle in Europa met die fokus wat eerder na die kwessie oor vryheid van spraak verskuif het. ʼn Dag voordat die verhoor in Parys begin het, het Charlie Hebdo die omstrede spotprente van die profeet Mohammed, wat tot die aanvalle in 2015 aanleiding gegee het, weer gepubliseer in ʼn poging om vyf jaar later ʼn sterk stelling oor vryheid van spraak te maak.

Die terreuraanval en die dood van 12 joernaliste by Charlie Hebdo het die publikasie sedertdien omskep in ʼn simbool van die hedendaagse spanning tussen die vryheid van uitdrukking in Westerse lande en Moslems se verwerping van sulke vryhede, veral wanneer hulle dit as godslasterlik beskou.

Die huidige redakteur van Charlie Hebdo, Laurent Sourisseau, het die afgelope week gesê dat hul besluit om die spotprente weer te publiseer daarop gemik is om die agteruitgang van vryheid van uitdrukking in Frankryk en in die meeste Westerse lande te betreur.

Volgens Sourisseau was die tydskrif se opskrif die afgelope week (“Dit alles vir dit”) ʼn aanval op die “tirannieke verenigings en selfbehepte minderhede” wat die sogenaamde “kansellasiekultuur” na Frankryk gebring het. Hy verwys in sy skrywe na die kansellasie van konferensies by universiteite en die toenemende sensuur op sosiale media in die gees van politieke korrektheid.

Polisiebrutaliteit jeens swart Amerikaners is ʼn mite

Black Lives Matter-betogers in Trafalgarplein in Londen. (Foto: Victoria Jones/PA via AP)

Joe Biden, die presidentskandidaat van die Demokratiese Party in die VSA, het die afgelope week sy oproep dat polisiebrutaliteit teen swart Amerikaners beëindig moet word, herhaal. Biden het Jacob Blake senior, die vader van Jacob Blake, die swart man wat op 23 Augustus in Kenosha, Wisconsin, deur polisielede geskiet is, Donderdag ontmoet.

Blake senior het ʼn lang geskiedenis van rassistiese, antisemitiese en antichristelike uitsprake wat veral op Facebook gemaak is. Terwyl daar simpatie vir enige ongeregverdigde brutaliteit deur die polisie in die VSA moet wees, is die probleem tans dat die Black Lives Matter-veldtog, en daarmee saam talle top-leiers van die Demokratiese Party wat hulle gedurig teen polisiebrutaliteit uitspreek, nie goeie bewyse vir sodanige brutaliteit kan lewer nie.

Verlede jaar het polisielede in die VSA in totaal 1 004 mense doodgeskiet. In die meeste gevalle was hierdie persone gewapen en uiters gevaarlik. Swart Amerikaners het sowat ʼn kwart (235) van die gevalle uitgemaak wat, persentasiegewys, dieselfde is as in 2015. Hoewel slegs 12,1% van Amerikaanse burgers swart is, was 53% van alle moordenaars in 2018 swart. Swart Amerikaners is ook verantwoordelik vir 60% van alle rooftogte. Dit sou dus sin maak dat ʼn redelike hoë persentasie swart Amerikaners deur die polisie doodgeskiet sou word gegewe die hoë vlak van hul betrokkenheid by gewelddadige misdade.

Die Black Lives Matter-veldtog se ander verweer is dat die polisie baie ongewapende swart Amerikaners doodskiet. In 2019 is nege ongewapende swart Amerikaners teenoor 19 wit ongewapende persone doodgeskiet.

(Foto: Noah Berger/AP)

Gedurende 2018 is 7 407 swart mans in Amerika vermoor. Die nege ongewapende swart slagoffers maak maar 0,1% hiervan uit. Daarteenoor is daar ʼn 18 keer groter kans dat ʼn polisieman in Amerika deur ʼn swart man doodgeskiet gaan word. Al wat dit beteken, is dat die probleem van ernstige geweldsmisdade in swart gemeenskappe in Amerika wesenlik is en dat die werk van die polisie in hierdie gemeenskappe uiters gevaarlik is. Wanneer ʼn polisieman dus op ʼn vermeende misdadiger losbrand omdat hy in ʼn breukdeel van ʼn sekonde dink dat die vermeende misdadiger na ʼn wapen wil gryp, wil probeer ontsnap of iets dergeliks wil doen, moet daar ʼn mate van simpatie vir die polisieman wees.

Navorsing wat in Augustus 2019 in die Proceedings of the National Academy of Sciences gepubliseer is, het bevind dat die kans dat ʼn lid van ʼn spesifieke rassegroep deur die polisie geskiet sal word direk afhang van hoe gereeld verdagtes van ʼn sekere groep met die polisie in aanraking kom. Betrokkenheid by misdaad dikteer dus grootliks polisieoptrede in die VSA en die ras van ʼn verdagte het weinig daarmee te make.

In ʼn ontleding wat in 2015 deur die polisie in die stad Philadelphia gedoen is, is bevind dat wit polisielede juis minder geneig is as polisielede van ander rasse om op ongewapende swart verdagtes te skiet.

Die afgelope paar maande is die dood van Rayshaw Brooks (Atlanta), Breonna Taylor (Louisville), George Floyd (Minneapolis) en die skietvoorval met Jacob Blake in Kenosha (hy het dit oorleef) keer op keer as polisiebrutaliteit van wit polisielede teenoor swart Amerikaners beskryf. Dit het tot ʼn algemene persepsie in die VSA gelei dat wit polisielede juis swart mense teiken.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Jaco Kleynhans

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
Cheryl

Die lande om dop te hou is Rusland, Turkeye en Iran. China en die VSA gaan geen rol speel in die eindtyd nie. Bybel is baie duidelik daaroor. Iets moet dus gebeur om hierdie 2 moondhede buite aksie te stel.

Therese

Die VSA president wat die “normalisering van verhoudinge tussen die Weste en Rusland” vier jaar gelede as ‘n prioriteit gestel het, is beskuldig van sameswering en heul met die vyand.
Insiglose Westerse politici, gesteun deur ‘n subjektiewe, oneerlike pers, het kort mette gemaak van beter verhoudinge met die Russe.

Vrijburger

Soos altyd baie interessant.
Dit is ongelooflik hoe die vals naratief, van polisie geweld teen swart Amerikaners, deur die VSA se (s)linkse media gedryf word.
Interessante waarneming hier in die VSA – Die groei van konserwatiewe swart steun.

Human

Putin se gatgabba, Don Tantrum Trump se verblyf in die Withuis is vinnig besig om tot ‘n einde te kom, dan is dit “n lang verblyf in die tronk wat wag op die afgod van klei.