Japan: Eerste minister Shinzo Abe wen verkiesing  

Shinzo Abe Japan

Shinzo Abe, Japanse premier en leier van die Liberale Demokratiese Party (22 Oktober 2017). Foto: AP Photo/Shizuo Kambayashi

In die Japanse verkiesing vir die huis van verteenwoordigers het die regerende konserwatiewe Liberaal-Demokratiese Party (LDP) van premier Shinzo Abe ʼn oorwinning behaal. Saam met sy alliansievennoot, die Komeito-party, het hulle 312 van die 465 setels gewen, net-net ʼn tweederde meerderheid. Die deelname aan die verkiesing was egter laag, met net ʼn rapsie bo 50%.

Die grootste opposisieparty is die sentrum-linkse Konstitusionele Demokratiese Party (CDP) met 54 setels. Dié party het ontstaan nadat die Demokratiese Party (DP), tradisioneel die teenstander van die LDP, ná binnegevegte uiteengeval het. Nog ʼn nuwe party wat uit die Demokratiese Party ontstaan het, is die eweneens konserwatiewe Party van Hoop onder leiding van die goewerneur van Tokio, Yuriko Koike, wat met 50 setels swakker gevaar het as wat aanvanklik verwag is.

Dit was ʼn vervroegde verkiesing, omdat Abe ʼn sterk mandaat wou gehad het in die lig van Noord-Korea se bedreiging. Die land het onlangs toetsmissiele oor Japan se grondgebied afgevuur, wat Japan laat besef het hoe kwesbaar die land is. In sulke tye van bedreiging van buite verenig kiesers gewoonlik agter ʼn bekende leier en is versigtig vir eksperimente. ʼn Ander rede is dat ná ʼn daling van sy steun in meningspeilings vroeër vanjaar Abe se gewildheid weer opgetel het en die opposisie gelyktydig in binnegevegte verstrengel geraak het. Abe wou dus die regte tydpunt kies om sy steun te verhoog.

Abe het ʼn mandaat van die kiesers gesoek om die land se grondwet te verander om Japan weerbaarder te maak. Japan, een van die verloorders van die Tweede Wêreldoorlog, het ʼn grondwet wat die land se veiligheidsmagte sterk aan bande lê en slegs op selfverdediging rig. Kenmerkend is dit geen weermag nie, maar eerder ʼn “grond-selfverdedigingsmag” met minder as 250 000 soldate, almal vrywilligers, en ʼn totaal defensiewe karakter.

Japan se weermag word meesal vir noodverlening met natuurrampe gebruik, maar het meer onlangs ook by VN-vredesendings betrokke geraak. Met ʼn toenemend aggressiewe Noord-Korea (en China) het dit tyd geword dat Japan, ekonomies ʼn wêreldmoondheid, ook militêr sy spiere bult en ʼn weermag kry wat ook ʼn mandaat vir “verdedigende aanval” het en ook buite Japanse grondgebied mag opereer.

Dit is egter ʼn lang pad om die grondwet verander te kry. Die huis van verteenwoordigers en die senaat moet die verandering met ʼn tweederde meerderheid goedkeur, en daarna moet die bevolking dit in ʼn referendum steun.

Abe mik vir 2020 om dit reg te kry. Met die verkiesingsoorwinning vir die LDP, wat in al twee huise ʼn tweederde meerderheid het, is dit wel ʼn beduidende stap nader aan dié doelwit. Natuurlik is dit nie genoeg om net die grondwet te verander nie. Dit sal ook ʼn sielkundige verskuiwing van die Japanse bevolking vereis. Die ou generasie is nog onder die indruk van die Tweede Wêreldoorlog se vernietiging, by name die kernbomme op Hirosjima en Nagasaki as weerwraak vir Japan se aggressiewe oorlogsvoering, en die daaropvolgende generasies het gewoond geraak aan gewaarborgde voorspoed en veiligheid onder die ontwikkelingstaat-model. Die jeug is baie meer vertroud met vermaaktegnologie as met wapentuig.

Abe is sedert 2012 aan bewind, maar was al van tevore, vir ʼn jaar tussen 2006 en 2007, reeds aan stuur van sake. As hy sy nuwe termyn net halfpad voltooi sal dit hom die langs regerende leier van Japan sedert die Tweede Wêreldoorlog maak.

Die LDP is die party wat die moderne Japan gevorm het en wat ten spyte van ʼn mate van korrupsie en afname in steun oor die jare weer kon hervorm en homself hervestig as Japan se verstek-opsie. Meeste leiers van die LDP was gesiglose tegnokrate wat net kort regeer het, maar af en toe kom ʼn meer charismatiese persoon met visie na vore en druk sy stempel af, soos Junichiro Koizumi van 2001 tot 2006 en nou Abe.

Behalwe vir die bedreiging deur Noord-Korea is demografie een van die land se groot uitdagings. Japan het van die laagste geboortesyfers ter wêreld en hoewel die land dig bevolk en sterk verstedelik is en ʼn bevolking van 128 miljoen het, is vir volgehoue ekonomiese groei ook bevolkingsgroei nodig. Anders as in Westerse lande, wat ook demografies krimp, is daar feitlik geen emigrasie na Japan nie, deels weens die land se streng immigrasiewette, deels weens die land se geografie as ʼn eilandgroep en deels weens ʼn geslote samelewing met ʼn baie spesifieke kultuur.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Sebastiaan Biehl

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk as navorser, argivaris en toergids vir die Orania Beweging in Orania, is ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling en skryf is veral politiek, geskiedenis, reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae