#JongStemme: Die politieke skaakspel in Suid-Afrika

Deur Vincent Geldenhuys

Vincent Geldenhuys.

“’n Man wat oor homself baas is, is nooit die kneg van ’n ander nie.” – C.J. Langenhoven.

Om op te som wat tans in ons land aan die gang is, is baie soos om ’n skaakspel op te som. Jy het twee spelers, die boere en die EFF. Verstaan my wel, boere sluit ek nie net die Afrikanervolk in nie, want ons het gewys by Senekal dat ons nie hierdie ’n rassekwessie wil maak nie – wit, swart en bruin mense staan saam teen die plaasmoorde in ons land, waar die EFF net nie kon wag om dit ’n wit teen swart te maak nie.

Maar met hierdie kwessie, soos in skaak, moet ons nie onsself in die verkeerde posisie plaas of van die hoofdoel afwyk nie, naamlik die beëindiging van plaasmoorde. Ons moet nie ons koning in ’n posisie plaas waar hy oorrompel kan word nie. Met dit gesê, moet ons nie oorhaastige besluite maak, soos om sommer ’n burgeroorlog te wil verklaar nie. Ons moet die hoofdoel – die koning – steeds beskerm en steeds aanhou baklei vir die beskerming van ons boere.

Ek verstaan ook dat die oomblik wanneer emosie bygevoeg word tot die spel, dit soms moeilik kan wees om onsself rustig te hou. Wanneer die EFF haatspraak verkondig – nee, eintlik sing – moet ons nie geïntimideer voel nie. Ons as boere word mos nie maklik geïntimideer nie – dit het ons keer op keer aan die Engelse gedurende die Anglo-Boere Oorlog bewys. Want sodra ons op emosie reageer, gaan ons onsself in die voet skiet en ons koning gaan oop en bloot wees, reg vir enige iemand om oor te neem, reg vir die regering om ons saak as onbelangrik te bestempel (soos Bheki Cele al duidelik gemaak het), en ons as terroriste te brandmerk, soos gesien met André Pienaar.

Soos C.J. Langenhoven gesê het, ons moet oor onsself baas wees, en dit sluit ons denke en gedagtes in. Ons moet nie beïnvloedbaar wees deur politieke ekstremiste wat hierdie situasie uitbuit vir eie gewin nie; wat hierdie tragiese gebeurtenis gebruik om as helde van hul volk gesien te word nie. Want dit gaan veroorsaak dat daar ’n bloedbad gaan kom, net omdat Julius Malema en Izak van Zyl hulle oorlogsfantasieë wil uitleef.

En voor ek gekritiseer word deur enige iemand omdat ek miskien sag of bang voorkom, ek is nie. Ek bestempel myself as ’n patriot en ek is trots daarop. Ek het wel gesien wat oorlog aan ’n mens kan doen… My pa was op die grens, en tot vandag toe kry hy steeds byna elke aand nagmerries oor wat daar gebeur het. Ons kan nie die tweede Rwanda word nie.

Nou vra ek jou, oom Izak, dink jy ons jonger generasie sal dit kan oorleef? ’n Burgeroorlog? Het jy ook tans na die ekonomiese toestand van ons land gekyk? Dit sal die laaste vonk wees wat nodig is om hierdie land totaal en al af te brand. Los vir Malema om die eerste fout te maak, en dan reageer ons daarop. Ons moet nie eerste beweeg nie, laat hy en sy kommunistiese rooi golf van volgelinge dan as die terroris bestempel word. Laat hy sy pion skuif soos hy lus kry en ons só net nog ’n makliker kans gee om by sy koning uit te kom.

Ek wil afsluit met ’n bedanking aan almal wat nie afwyk van die hoofdoel nie, wat nie hul pionne verkeerd rondskuif en die koning in die oopte los nie. Julle is die kampvegters vir die beëindiging van plaasmoorde, wat ’n vreedsame optog reël en daarby bly, en nie tussen die EFF inmarsjeer nie (vroue en kinders ingesluit). Dankie aan julle.

Mag ons almal ’n helderder lig aan die einde van die donker tonnel ervaar, mag ons almal saamstaan teen die politieke ekstremistiese groep in hul rooi uniforms wat elke geleentheid wat hulle kry, sing oor hoe hulle ’n einde aan ons lewens wil bring. Mag ons nooit die name van die mans, vroue en kinders vergeet wat wreedaardig om die lewe gebring is nie. Want hoewel hulle baie is, kan ons as boere saamstaan, oor die kleurgrense heen, want: “Ons vir jou, Suid-Afrika!”

  • Vincent Geldenhuys is ’n derdejaarstudent in BCom menslike hulpbronnebestuur aan die Universiteit van die Vrystaat.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.