#JongStemme: Druk dryf ons

Deur Andre van Graan

Andre van Graan

“Matriek is die hoogtepunt van jou hoërskoolloopbaan. Dis die beste jaar van jou lewe.”

Matriek… is moeilik én stresvol. Die ongemaklike waarheid is dat om vandag in matriek te wees, moontlik nie dieselfde is as 20 of 30 jaar gelede nie.

Matriek in 2022 is ʼn drukpot. Tussen sport, kultuur, akademie en al die sosiale dramas en hormone wat deel is van 18 jaar oud wees, het die lewe ʼn konstante balanseertoertjie geword. Dit voel of as ons net vir ʼn oomblik fokus verloor, alles in duie gaan stort.

Die grootste druk kom egter in die vorm van ʼn enkele dokument wat jou toekoms kan bepaal: die universiteitsaansoek. Skielik kan ʼn mens nie net toelaat dat Gods water oor Gods akker loop nie. Ons kom tot die besef dat wat ons dié jaar bereik, heel moontlik ons toekoms gaan bepaal; iets waarop ons nie volgende jaar kan verbeter nie. En só word nog ʼn (on)gesonde skeut angs tot ons lewens gevoeg. Boonop is die kriteria vir die toelating baie strenger as in die verlede.

Veral as ʼn toekomstige dokter (hopelik), is die standaarde só hoog dat dit haas onmoontlik is om te behaal. Vra enige huidige mediese student en hulle sal vir jou kan sê, dis amper nie eers die moeite werd om aansoek te doen as jy ʼn gemiddeld onder 90% het nie. “Eers by so 93% het jy ʼn redelike kans om keuring te kry”, sal daar boonop bygevoeg word. Dié onnatuurlike hoë verwagtinge is egter nie eksklusief tot die mediese rigtings beperk nie, maar is die meer ekstreme voorbeeld. Punte word só belangrik dat persoonlike geluk daardeur bepaal word; voorlopige keuring regverdig groter feesvieringe as op jou 18de verjaarsdag. Sulke akademiese gemiddelde was 20 tot 30 jaar gelede ongehoord gewees. Nie omdat die mense toe dommer was nie, maar eerder omdat die druk wat tans op ons skouers geplaas word, soveel meer is.

Wat my bring by die kruks van die kwessie; hierdie druk moet as ʼn voordeel, nie ʼn nadeel gesien word nie. Hierdie druk dien as voorbereiding vir die werklike wêreld daarbuite. Indien hierdie bykomende stres korrek aangewend word, sal dit ons dryf om ons beste te lewer. Ongelukkig is die prys wat die mensdom betaal het vir effektiwiteit, sekuriteit en vooruitgang, ʼn sekere vlak van standaarde en die druk wat daarmee gepaardgaan.

Sonder dié standaarde sou ons wêreld nie kon funksioneer nie. Kom ons gebruik weer dokters as voorbeeld. ʼn Neurochirurg het ook slegs een geleentheid om sy operasie uit te voer, en die prys wat betaal gaan moet word as hy misluk, is aansienlik groter as jou normale matriekleerder. Gaan ons nou as gevolg van die druk en stres wat hy/ sy daagliks ervaar, skielik verwag dat hy nie sy werk hoef te doen nie, maar steeds betaal word daarvoor? Natuurlik nie, en as hy/ sy nie deur die voorbereiding van 14 jaar se studies gegaan het nie, sou hy/ sy waarskynlik geknak het onder die druk. Dit is dus heeltemal redelik om van iemand te verwag wat graag die werk eendag wil doen, om onder druk geplaas te word om te presteer, want die prys vir agterlosigheid is te groot om te betaal.

Daar is ʼn Bybelvers wat my hele lewe by my gebly het. In Lukas 12:28 sê Jesus dat van diegene vir wie baie gegee is, daar baie verwag word. Ek het eers dié jaar die waarde van die woorde besef. Ek sou nooit hierdie druk ervaar het as daar nie so baie in die lewe vir my gegee is nie. My ouers het my na een van die beste skole in die land gestuur, en ek moet hierdie voorreg en geleentheid met beide hande aangryp, al beteken dit ʼn paar slapelose nagte. Baie mense in Suid-Afrika mag dalk nooit hierdie druk ervaar om 93% in matriek te behaal nie, maar hulle gaan hul wel bekommer oor waar die volgende maaltyd vandaan kom.

Die lewe is uitdagend, maar op die ou einde gaan ons as mense moet kies watter moeilik ons wil hê. Ek wil graag die alombekende woorde van die skrywer Stan Lee net so effe aanpas: “Saam met groot voorreg, kom daar hope verantwoordelikheid.”

  • Andre van Graan is ʼn matriekleerling aan Helpmekaar Kollege.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 26 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou. 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

AmY ·

Baie sterkte vir jou.
As jy medies wil studeer, hoop ek jy word gekeur.

Colla ·

Mooi so, André! Ons is almal supertrots op jou. Jy gaan ‘n briljante dokter wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.