#JongStemme: Is kleurblindheid voordelig?

Deur Sven Spangenberg

W.E.B. Du Bois, bekende sosioloog, het in die 19de eeu voorspel dat “die probleem van die twintigste eeu die probleem van die kleurlyn sal wees”.

In ons moderne veelrassige samelewing het die simbool van kleur ‘n kragtige wapen geword wat skeiding bring en die kategorisering van mense in ’n “ons”- en “hulle”-mentaliteit bevorder. Kleur soos kultuur, taal en kreet het, en sal altyd, as bepaler onder mense dien. In die verlede het kleur ’n groot invloed op sosiale en ekonomiese strukture gehad wat tot vandag nog vereffen word.

Hoe beweeg ons deur die samelewing met hierdie verskille sonder om iemand aanstoot te gee? Is die antwoord ’n blinde oog wat maak asof dit nie kleur kan sien nie? Of bly ons bewus daarvan en erken dat ons kleur wel sien?

Op die oog af klink kleurblindheid moreel en reg. Ons vat Martin Luther King jr. ernstig op met sy versoek om mense te beoordeel op grond van hul karakter, eerder as die kleur van hul vel.

Kleurblindheid is ‘n ideologie in rasseteorie wat bepaal dat die kleur van ‘n mens ‘n onbeduidende fisieke verskil is. Dit verklaar dat mense op geen manier verskil nie en dat hulle sonder vooroordeel gelyk behandel moet word. Maar deur te kies om ras en kleur te ignoreer, en blindelings daarteen op te tree, neem jy aktief deel aan die ignorering van die vertoning van diskriminasie.

Verskille is tog goed, nie sleg nie. Jy distansieer jouself van rasse-stigmatisering en rasse-ideologieë. Maar in dieselfde asem erken jy dat jy ook geen rassebevoorregting sien nie, jou blindheid is ‘n vorm van ongevoeligheid teenoor ras en omstandighede, en dat jy nie aandag gee aan hoe stelselmatige rassisme steeds ‘n relevante probleem is nie. Kleurblindheid skep ‘n samelewing wat negatiewe rasse-ervarings, kultuur, en geskiedenis ontken, en die belangrikste is dat dit die perspektiewe van mense as ongeldig beskou.

Kleurbewustheid is die aanslag wat self bepaal dat gelykheid nie genoeg is nie. Dit erken rasseverskille, die waarde van multikulturalisme en die nee-sê vir oorhoofse assimilasie. Kleurbewustheid bevorder die idee dat mense vry moet voel om ras en kleur te bespreek en dit nie te ignoreer nie.

Om gesprekke en debatte openlik te voer oor die geskiedenis, struwelinge en kulture van mense, baan die weg tot geregtigheid en gelykheid waarna gestrewe moet word buite wette en instellings.

Die voortslepende aanval op anti-diskriminasie-wetgewing en regstellende aksie gaan waarskynlik

die debat oor kleurblindheid teenoor rassebewustheid aan die gang hou. Hopelik sal daar na empiriese werklikhede gekyk word om die argumente te aktualiseer. Daarbenewens sal die stemme vir rassebewustheid hard en oortuigend praat om die mens-tot-mens-verbrokkeling, wat al lank aan die gang is, terug te druk.

  • Sven R. Spangenberg is ’n tweedejaarstudent in BA filosofie en sielkunde aan die Universiteit van Pretoria.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Anton ·

Gee tog een voorbeeld van die voordeel van multikulturalisme. Na watter kultuur stroom die inwoners van die wereld?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.