#JongStemme: Mag jou ‘innerlike kabinet’ beter wees as Ramaphosa s’n!

Deur Kyla van der Merwe

Pres. Cyril Ramaphosa tydens die bekendmaking van skuiwe aan die kabinet. (Foto: Kopano Tlape/GCIS)

Op 6 Maart 2023 het president Cyril Ramaphosa sy nuwe kabinet aangekondig. Die doel van hierdie verandering was om te verseker dat die regering behoorlik bekwaam is en daarop gerig is om die beloftes wat in die staatsrede en die begrotingsrede gemaak is, uit te voer.

Op skrif klink hierdie verandering doeltreffend en optimisties, maar soos enige ander gebeurtenis in Suid-Afrika is daar ook ʼn negatiewe aspek om uit te lig. Vyf lede van Ramaphosa se nuwe kabinet staar ernstige aantygings in die gesig. Die aanklagtes hou verband met omkopery, korrupsie en misbruik van staatsfondse.

Dit is kommerwekkend dat ons toekoms in die kabinet se vuil hande rus. ʼn Samehang van korrupte ministers wat in hul eie belang optree eerder as om die belange van die burgers te bevorder. Dit kom voor asof die aanklagte as ʼn voorvereiste dien om as lid van die kabinet aangestel te word.

Hierdie onbillike aanstellings veroorsaak innerlike konflik by die jeug van vandag, wat ʼn loopbaan in politiek beoog. Dit skep ʼn donker beeld en aantal vraagtekens oor die toekoms wat vir hierdie jong studente wag. Hoeveel van hulle waardes sal hulle moet prys gee om deel te vorm van die kabinet? Sal hulle bereid wees om dit te doen? Of sal hulle, as hulle nie kan wen nie, by die kabinet se waardes aansluit?

Die geriefliker opsie sal wees om by die kabinet se waardes aan te sluit. Dit skep vir die student ʼn gewaarborgde toekoms, maar dan word hulle self die probleem waarteen hulle veg! Wat sê dit dan eintlik van hulle integriteit? Hoeveel politieke studente sal bereid wees om die moeiliker en eerliker pad te stap?

Kyla van der Merwe (Foto: Verskaf)

Politieke studente moet die belangrikheid van integriteit in die politiek verstaan. As die toekomstige leiers van die land, is hul verantwoordelik daarvoor om die regering verantwoordelik te hou en om vir die belange van die mense op te staan.

Hulle moet besluit of hulle bereid is om te veg vir wat reg is, selfs as dit beteken dat hulle teen die regering moet opstaan.

Dit is wel onregverdig om al die groot eise op die politieke student te plaas. Die regering moet self lei deur ʼn voorbeeld te wees en hulle moet verantwoordelik gehou word vir hul dade. Die aanstelling van individue met twyfelagtige verledes stuur die verkeerde boodskap aan die publiek en ondermyn die integriteit van die regering.

President Ramaphosa moet hierdie bewerings ernstig opneem en verseker dat diegene wat in sy kabinet aangestel word, individue van onberispelike karakter is wat die mense met toewyding en eerlikheid sal dien.

Ons land se toekoms is nie net in die president se hande nie. Dit rus ook by ons toekomstige leiers.

  • Kyla van der Merwe is ʼn tweedejaarstudent in politiek, filosofie en ekonomie aan Akademia. Sy het ʼn groot passie vir joernalistiek en die politiek.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 26 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.