Kanada vier 150 jaar van sy bestaan

kanada-vlag-seemeeu

Foto: Pixabay/Pexels.com

Op 1 Julie, Kanadadag, vier Kanada jaarliks sy totstandkoming as land in 1867. Hierdie jaar is dit ‘n besonder groot gebeurtenis, met 150 jaar sedert dié land se stigting.

Kanada se oorspronklike inwoners is al vir eeue Indiaanstamme en Inuïete (Eskimo’s). Die eerste Europese ontdekking het in die 11de eeu deur Wikings onder aanvoering van Leif Erikson plaasgevind, maar dit het nie tot ‘n standhoudende nedersetting gelei nie. Met die herontdekking van Amerika deur Christoph Columbus (wat in die Karibiese streek geland het) in 1492, het veral Britse en Franse ontdekkers Kanada daarna verken. John Cabot (eintlik ‘n Italianer, Johanno Caboto) het in 1497 die kus van Labrador en New Foundland vir Brittanje verken en in 1534 het Jaques Cartier vir Frankryk die mond van die St. Lawrencerivier verken. Die Britte het New Foundland in 1583 as eerste kolonie opgeëis. Die ontdekkings aan die Ooskus en in die gebied van die St. Lawrencerivier en die Groot Mere-gebied het voortgegaan en nedersettings wat bedoel was as handelsposte waar handel met die Indiaanstamme gedryf is, is gevestig. Veral die handel met pelse was winsgewend.

Samuel de Champlain het Quebec, een van die eerste Europese nedersettings in Kanada, in 1608 gestig. In die 17de eeu is die nedersettings tot kolonies saamgevoeg met die doel om die gebied ekonomies te ontsluit. Frankryk het die kolonie Nieuw Frankryk rondom Quebec by die mond van die St. Lawrencerivier in 1627 gestig, en Brittanje die Hudson Bay Company in 1670. In die 18de eeu het die Franse en Britte toenemend in mekaar se invloedsfere gekom en die Indiaan-stamme is van beide kante probeer beïnvloed om alliansies teen die ander land aan te gaan.

Met die Sewejarige Oorlog in Europa (1756-1763) tussen Brittanje, Frankryk en hul onderskeie bondgenote het vyandighede tussen die Britte en Franse ook in Kanada uitgebreek. Die militêr sterker Britte, ook versterk deur die Britse nedersettings in die gebied van die latere VSA, het die beslissende veldslae gewen en Frankryk moes sy gebied aan Brittanje oorgee, nie net in Kanada nie, maar geheel en al in Noord-Amerika (Frankryk het deur onderhandelinge met Indiaan-stamme ‘n groot gebied langs die Groot Mere en die Mississippi vir hulle opgeëis). Dit was ‘n beslissende gebeurtenis in die geskiedenis. Sou Frankryk gewen het en Noord-Amerika ‘n Franse kolonie geword het, was Frans waarskynlik vandag die wêreldtaal en nie Engels nie. Wat verder in Brittanje se guns getel het, was dat hulle groter getalle setlaars gehad het, wat ook meer gekonsentreerd was, terwyl Frankryk in ‘n “Overstretch of Empire” wyd verspreide en yl bevolkte vestings gehad het, met die idee om soveel as moontlik grondgebied deur blote teenwoordigheid, sonder effektiewe besetting en bewerking van die land, op te eis. Ten spyte van die militêre neerlaag is die Franse se taalregte en hul godsdiens egter erken en het hulle ‘n permanente minderheid geword – die grootste konsentrasie Franssprekendes buite Frankryk.

In die 19de eeu het immigrasie en die stig van nedersettings toegeneem en nuwe administratiewe distrikte is geskep. Op 1 Julie 1867 is die vier kolonies – Ontario, Quebec, Nova Scotia en New Brunswick – met die British North America Act saamgevoeg en het hulle ‘n domimium gevorm (‘n Britse gebied met selfbestuur, soortgelyk aan die Unie van Suid-Afrika van 1910). Só het Kanada as ’n politieke eenheid tot stand gekom, hoewel nog nie in sy huidige grense nie. Ander gebiede soos Manitoba, British Colombia en Prince Edward Island (1870), asook Alberta en Saskatchewan (1905) het later bygekom en Kanada het gedurig sy grondgebied vergroot. Met die Statuut van Westminster van 1931 het die domimiums feitlike onafhanklikheid van Groot-Brittanje gekry (dit het ook vir Suid-Afrika in dieselfde tyd gegeld). In 1982 het Brittanje ook sy laaste magte aan Kanada se regering oorgegee. Kanada is ten volle onafhanklik, maar het nog steeds die Britse koningin as staatshoof en is ook lid van die Britse Statebond.

Anders as die VSA met sy “smeltkroes”-beleid en Engels as die taal vir almal, is Kanada ‘n tweetalige land en kon die Franse minderheid in Quebec dit regkry om talle toegewings af te dwing. Selfs die afskeiding van Quebec was (en is) ‘n politieke opsie en is in 1995 net-net afgeweer toe die separatiste  naelskraap ‘n referendum oor afskeiding van Kanada met slegs 1%-verskil verloor het. Daarna het die steun vir afskeiding egter afgeneem, maar taal- en kultuurregte bly steeds belangrik in Quebec. In 1999 het Kanada ‘n verdere beduidende stap vir die erkenning van minderheidsregte geneem en die semi-outonome gebied Nunavuut uit die Northern Territory uitgesny wat ‘n meerderheid Inuïete het.

Kanada het vir lank ‘n beeld- en selfbeeldprobleem gehad. Buitestanders het die land as koud en vervelig beskou en dit was nie juis ‘n gewilde toeristebestemming of sogenaamd “hip” nie. Kanadese het wel die beeld van besonder vriendelik en hoflik en is gevorm deur ‘n geskiedenis van pionier wees, nes in Suid-Afrika. In die laaste paar jare het dinge verander. Die media-liefling en eerste minister, Justin Trudeau, speel ook ‘n rol daarin. Deesdae is Kanada een van Lonely Planet se gunstelingbestemmings en is die stede baie meer divers en multikultureel as vroeër. Veiligheid is goed, die staatsdiens effektief, korrupsie feitlik afwesig, sosiale kohesie sterk en konflikte min. Kanadese stede word as van die mees leefbares gereken. Die etniese wrywing tussen die meerderheid Engelssprekendes en die minderheid Franssprekendes is deesdae ook min en die minderhede word voorbeeldelik geakkommodeer.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Ken2 ·

Ons kon die anglo boereoorlog vermy het en so n baie groter bevolking vandag gehad het deur eerder saam met die Britte te gewerk het. Hulle het toe nooit ons taal en kultuur vernietig nie. Kyk byvoorbeeld wat in die Kaap gebeur het – ons taal en kultuur het daar voortbestaan en groei onder die Britte. Soos hierdie artikel uitwys het die Franse ook nie gekwyn onder die Britte in Kanada nie.

JC ·

Die Britte het hard probeer, en sou, as dit nie vir ons as Afrikaners se wilskrag, volkstrots(eens op ‘n tyd…) en vernuf was nie! Mens moet asseblief nie jouself bluf met daardie oorgawe argument nie. Hulle het ons GEHAAT(eintlik nog steeds, kyk maar na En. Brittanica se GELAAIDE EN BEVOOROORDEELDE beskrywing van ons ) en NET DIT ALLEEN sou genoeg rede vir die Britte wees om ons taal en alles wat ons is; totaal te vernietig. Die pioniers in Kanda was nie in ‘n oorlogstryd om onafhanklikheid en soewereiniteit betrokke met die koloniste Brittanje nie. Vandag word boere op ‘n ry vermoor, en wie gee om…? Ons verdien alles wat nou met ons gebeur, vir ons ontsaglike ruggraatloosheid!

MTSteyn ·

Vreemde, vreemde opmerking wat jy hier maak, Ken2. Afrikaner kultuur en die Afrikaanse taal het nooit onder die Britse hiel gedy nie; nie onder Britse bewind in die Kaap nie, en ook nie in die verowerde Boere Republieke nie. Daar is baie goeie skrywes beskikbaar oor bg., en dit behoort jou van jou onkunde te genees.

Wat die vorige ‘regering’ (De Klerk en kie) by die Boere Republieke kon leer, is dat jy nooit oor on-onderhandelbare kwessies, soos jou voortbestaan!, onderhandel nie.

Ken2 ·

Maar tog was deur die dekades en steeds is die Afrikaanse kultuur so sterk in die kaap?

Leendert ·

Dankie, lekker gelees, interessant, ons kan ook maar ‘n paar lesse uit hul boek neem. Pioniers en kolonialisme, en kyk waar is hulle vandag.

Maar o’nee, ons en Helen sal hier net verguis word as ons eens daaraan dink. Maak soos die DA, die ANC en baie, baie ander, draai eerder om en stap weg. Ons beter groot word, dan sal dit ook beter met ons gaan.

JC ·

Ons is Afrikaners. Wat op aarde het ons met Zille, ‘n liggelowige en nou-ontnugterde Jodin, te doen??

Leendert ·

JC, laat weet gerus watter deel van my kommentaar begryp jy nie, ek praat van diegene wat hul rug op die realiteite van die geskiedenis draai, als wat kolonialisme en wit is verguis, ook die Afrikaner, hulle kan ‘n les uit die Kanada boek neem.

Leendert ·

JC, ek lees jou kommentare al lank, jy is pro-Afrikaans wat skrik vir niks, ek sou nie in die Boereoorlog jou vyand wou wees nie, ons veg aan dieselfde kant.

Therese van Schalkwyk ·

Baie interessant!

Kanada het beslis een van die mooiste en mees herkenbare vlae in die wêreld en kan trots wees daarop!

Daar is heel duidelik vrede tussen die verskillende bevolkingsgroepe. Die groot kontingent Hollywood-sterre en ander beswaarde Amerikaners het hopelik ook na die Amerikaanse verkiesing goed ingeskakel.
Of wag die “media-liefling” nog op die invloei van plegtig genooides? :-)

Eish ·

Baie interressante artikel dankie. Ek wonder tog of die oorspronklike inwoners dieselfde nostalgie koester oor die geskiedenis dan die hedendaagse Kanadese burgers? Kanada en die VSA wat in hierdie artikel bespreek word, se onderskeie mylpale en oorloë teen opponerende groepe vanuit die Weste word aangehaal maar nie n woord gerep oor die inheemse bevolkings se wel en weë tydens die proses tot onafhanklikheid en groei daarna nie. Inheemse groepe in beide lande is gereduseer tot minderhede wie se stem grootliks geignoreer word. Amerikaanse indiane, wat hul tradisionele leefwyse beoefen, word in reservate gevind, opsygesit vir die doel. Die vooruitgang en mylpale bereik is prysenswaardig. Dit moet egter ook gemeld word dan in die VSA, byvoorbeeld, pre- Columbus getalle van Indiane vir Noord, Sentraal en Suid Amerika geraam is op 50 tot 100miljoen mense. n Geraamde 80 tot 90% van die mense het gesterf sedert die aankoms van die Europèers. Redes sluit onder andere in oorloë, siektes oorgedra soos pokke, ens. Die Amerikaanse regering het vir baie jare n beleid van assimilasie gevolg waar gepoog is om Indiane as n etniese groep uit te wis, dus volksmoord. Die donker kolle in die geskiedenis word meesal blatant geïgnoreer en dit op sigself het n ongeballanseerde uitbeelding van die waarheid tot gevolg.

Jakobus ·

Terwyl jy by die onderwerp van Indiaanse reservate is, is dit interessant om te sien hoeveel honderde reservate daar is, veral Kanada, van hulle het so min as 1,000 inwoners. As daardie tradisionele mense deur die menigte opgeslurp word, sal hul kultuur en taal binne ‘n oogknip verdwyn. Dit is dalk vir baie van daardie net ‘n kwessie van tyd.

Johann ·

Eish en sien jy sê in die artikel word Kanada EN die VSA bespreek. Net Kanada word bespreek en dan word daar een keer na die VSA verwys. Verder verwys jy dan na die toestande van die Amerikaanse indiane.

Eish ·

Jakobus, baie waar, dalk tekenend wat minderheidsgroepe se toekoms behels? Sien artikel oor hoeveel Afrikaanse skole verengels het.
Johann,
Korrek, daar word slegs na die VSA verwys. Tog deel hul n gemeenskaplikheid betreffende die geskiedenis van die inheemse groepe, is bure wat deur n bykans identiese proses van kolonialisering gegaan het. Verder, dui dit op die feit dat minderheidsgroepe mettertyd in onrelevantheid verval.

Theresa ·

Sebastiaan, is Suid-Afrikaners welkom om in Kanada te gaan woon en werk? Is hul ook so streng wat ouderdom aanbetref?

Ampie ·

Die skrywer is myns insiens naief oor die situasie tans in Kanada. Justin Trudeau is net ‘n media-liefling omdat hy so liberaal, progressief en anti-konserwatief is. Hy is basies ‘n tweede Hillary Clinton. Onthou toe Obama ‘n media liefling was? Kanada se moeilikheid kom nog – die land word deur vreemdes betrek en Trudeau gaan soos Angela Merkel toelaat dat die land se blanke inwoners verder vervreem word. Toronto is al klaar soos Parys of new York – ‘n verenigde nasies. Ek het die pragtige land al in die 1990’s besoek en dit beslis nie as vervelig beskou nie. Koud wel, maar ‘n “hip” Trudeau gaan nie die weer verander nie.

Koos ·

JC gebruik elke geleentheid om sy verregse sogenaamde Afrikanertrots te verkondig. Praat van ‘n leunstoel kommentator. Op elke forum iets te sê met dieselfde deuntjie. Gaap

Gatiep ·

Eks n Kanadees. Justin Trudeau is n uber-liberaal. Erger as Jacob Zuma. Het sopas R100 000 000 (Honderd MILJOEN!!) van my belasting geld aan n erkende terroris uitbetaal as vergoeding oor hy toegesluit was nadat die terrorist n Amerikaanse soldaat vermoor het en nog een verblind het in n handgrenaat aanval. Kanada loop die pad van Europa…jammer om die bubble te bars

Therese van Schalkwyk ·

Gatiep,

Die skrywer se gebruik van die woord “media-liefling” vir Trudeau behoort vir jou ‘n aanduiding te gee dat hy ten volle bewus is van die feite.
Trouens, ek twyfel of daar veel Maroela-lesers is wat nie weet hoe diversiteit, multi-kulturalisme en liberalisme in Kanada aangeprys en -gepor word nie.
Jy is heeltemal reg, selfde paadjie as Europa.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.