Moenie die vervolgde Christene vergeet nie

Boris Johnson. Foto: (AP Photo/Matt Dunham)

Kersfees is nie net ’n vreugdefees vir Christene en ’n groot kuiery vir talle ander mense nie, dit is ook die tyd van Kersboodskappe van godsdienstige en politieke leiers om die jaar mee af te sluit.

Die boodskappe is gewoonlik oproepe tot vrede, versoening, beter menseverhoudings, die beter hantering van vlugtelinge, die beskerming van die omgewing en ander dinge waarmee almal saamstem en wat gewoonlik deur die koerantopskrifte bepaal word.

Daar word natuurlik gepoog om die boodskap van Kersfees so inklusief moontlik te hou, sodat niemand enigsins uitgesluit of te na gekom voel nie. Daarby is Kersfees egter ’n Christelike fees, saam met Paasfees seker die belangrikste fees vir Christene ondanks die onsekerheid of dit werklik Jesus Christus se presiese geboortedag was al dan nie.

Boris Johnson, die Britse eerste minister, was een van die min leiers wat in sy Kersboodskap die fokus op ’n onderwerp geplaas het wat normaalweg eerder vermy word: die wêreldwye vervolging van Christene, wat Kersdag nie soos die meeste Westerlinge knus in hulle familiekring met ’n lekker ete en geskenke deurbring nie, maar in die tronk of ten minste iewers in skuilings. Johnson het nie net sy simpatie met Christene wat weens hulle geloof vervolg word, uitgespreek nie, maar ook belowe om hulle lot te help verbeter. Ook die pous het die onderwerp aangeraak. Juis op Kersdag is daar weer verskeie kerkgangers vermoor oor hulle geloof.

Om die lot van Christene uit te lig word om polities korrekte redes dikwels vermy. As daar genoem word dat Christene vervolg word, dan moet natuurlik ook gesê word deur wie, en dit is in die eerste plek deur Moslems. Die Christen-netwerk Geopende Deure fokus op die ondersteuning van vervolgde en onderdrukte Christene en monitor die situasie van Christene in elke land op aarde. Hulle stel ook jaarliks ’n indieptelys van die graad van vervolging saam, naamlik die wêreldwye waarnemingslys. Daar is sowat 50 lande waar Christene vervolg en onderdruk word, van matig tot uiters erg. Matige vervolging kan beteken dat daar burokratiese belemmerings is vir kerke of Christelike instellings om hulle werk te doen, uiterste vervolging beteken marteling en dood.

Argieffoto

Die meeste lande wat Christene vervolg, is in Asië en in die noordelike deel van Afrika. Onder die toptien lande van vervolging is sewe Moslemlande (Afghanistan, Somalië, Libië, Pakistan, Soedan, Iran en Jemen), en ook andersins is die situasie vir Christene die ergste waar Islam die hoofgodsdiens is. Die ergste vervolging in die wêreld geskied egter in kommunistiese Noord-Korea, waar die staat en sy leier absolute onderdanigheid eis en Christene, wat eerstens aan God gehoorsaam is, in tronke en kampe stop of selfs martel en doodmaak. Dit geld ook vir die kwasi-kommunistiese Eritrea (nommer 7 op die lys).

Vervolgers van Christene is dikwels die staat en sy magte, maar ook Moslem-ekstremiste, veral in mislukte state waar staatsbeheer swak is, soos in Mali, Nigerië, Libië, Sirië en Afghanistan. Ook in Indië, met sy meerderheid Hindoe-bevolking, neem onderdrukking van die klein Christelike minderheid toe namate Hindoe-nasionaliste die politiek beheer. Die land is intussen selfs op nommer 10 van die vervolgingsindeks, ten spyte daarvan dat dit roem op sy verdraagsaamheid, demokrasie en diversiteit.

In Europa is daar geen staat wat Christene vervolg nie, hoewel sekere Christelike oortuigings soos om jou kinders self te wil opvoed volgens die Christelike geloof, of om dinge soos die homoseksuele huwelik af te keur, jou in die moeilikheid kan laat beland. In die Westelike hemisfeer (Noord- en Suid-Amerika), wat sterk Christelik bepaal is en waar Islam ’n geringe rol speel, is vervolging min (slegs in Mexiko en Colombië is dit ’n faktor weens bendes en linkse guerrillas).

Hoewel die Christendom die grootste geloofsrigting in die wêreld is met 2,4 miljard aanhangers en boonop diegene wat die meeste versprei voorkom, is dit die geloof wat die meeste vervolg word. State waar Christene ’n meerderheid vorm, is gewoonlik verdraagsaam teenoor ander godsdiensrigtings, maar waar hulle self die minderheid is, word Christene dikwels grusaam onderdruk.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.