ʼn Uittog uit Egipte

Charlotte Fourie. (Foto verskaf)

Deur Charlotte Fourie

In die April 2022-uitgawe van Die Boodskapper het ek die vraag gevra: Is die naaste skool die beste skool? Die belangrikste deel van die antwoord op hierdie vraag is of ons kinders se onderrig by ʼn spesifieke skool geanker gaan wees in ʼn Christelike lewens- en wêreldbeskouing of nie. Steeds het ek nie klarigheid oor die groot besluit wat in 2023 op ons wag nie.

Ons woon in Centurion en daar is nie ʼn tekort aan om-die-hoek-opsies ten opsigte van openbare en koste-effektiewe Afrikaansmediumlaerskole nie. Afrikaans as onderrigtaal, alhoewel baie belangrik, is egter nie die enigste vereiste waaraan ʼn skool vir ons kinders moet voldoen nie. Ons wil nie terug na die kospotte van Egipte nie.

Ons is op soek na ʼn skool met gelowige opvoeders, wat gehalte- en Skrifgefundeerde onderrig aan ons kinders oordra. Ons is ook op soek na ʼn skool wat nie na die staat se pype rondom kwessies soos taalbeleid, gedragskodes, geslag en badkamers en seksuele onderrig hoef te dans nie. Dit klink nie na baie gevra nie, maar min skole in ons direkte omgewing voldoen aan al hierdie vereistes.

Tuisonderrig nie vir almal nie

In November 2022 het die gesprek oor tuisonderrig behoorlik vlam gevat. In ʼn openbare skool word daar dikwels van onderwysers verwag om ʼn vasgestelde kurrikulum en inhoud, in ʼn vasgestelde volgorde en teen ʼn vasgestelde tempo, volgens ʼn vasgestelde manier, aan alle kinders te onderrig. Met tuisonderrig kan ouers die materiaal en kurrikulum self kies en het volle beheer oor die lewens- en wêreldbeskouing wat gedurende “onderrig” by hul kinders gevestig word.

Tuisonderrig het die afgelope paar jaar ʼn toenemend gewilde onderwysopsie geword. ʼn Klompie gelowige ouers met wie ek gesels het, se rede hiervoor was eenvoudig: Hulle kan nie met ʼn geruste hart hul kinders by ʼn skool in hulle omgewing aflaai nie.

Wat as daar ʼn ander opsie is?

As ons nie tuisonderrig kan doen nie en daar is nie ʼn onafhanklike skool in ons omgewing waar ons ons kinders met ʼn geruste hart kan aflaai nie, is die oplossing eenvoudig: Bou ʼn nuwe skool!

Die meeste ouers sien net die bestaande, uitnemende, Afrikaansmediumskole en ervaar nog nie ʼn krisis met betrekking tot die toekoms van onderwys nie, maar hierdie skole is aan die afneem. Soos die padda in die lou water, is ons al gewoond aan die omstandighede in ons skole, maar die water gaan nog warmer word.

Slegs 1 303 van die ongeveer 25 000 skole in die land was in 2020 nog Afrikaansenkelmediumskole – 15% minder as in 2012.[1] ʼn Skrale 94 hiervan is onafhanklike skole met die nodige vryheid om hul geloof, taal en kultuur uit te leef.

Onafhanklike Christelike skole staan as bakens van hoop vir onderwys in Suid-Afrika, maar met ʼn groeiende Afrikanerbevolking is daar nie naastenby genoeg van hulle nie en die platteland trek die swaarste.

“Een van die grootste vraagstukke vir ons gemeenskap is of ons kan verseker dat daar uitnemende onderwys vir die volgende geslag sal wees,” sê Dirk Hermann in ʼn onlangse toespraak oor die toekoms van Christelike, Afrikaanse onderwys buite die staat. Ek wil byvoeg: “… in elke Afrikaanssprekende gemeenskap.”

Solidariteit Beweging het in Julie 2019 soos volg op die jongste bevolkingsberaming deur Statistieke Suid-Afrika reageer:

“Die bevolkingsgroepe se werklike getalle is aan die toeneem. Dit beteken dat die Afrikanerbevolking meer gaan word, maar dat dit ook kleiner gaan word in vergelyking met die res van Suid-Afrika se bevolking. Daar gaan dus groter druk in die openbare sfeer op die Afrikaner wees, maar terselfdertyd meer mag en geleenthede in die private sfeer indien hierdie groep verder binne bepaalde geografiese gebiede konsentreer soos wat reeds die afgelope tyd die tendens is,”[2] aldus Connie Mulder, hoof van Solidariteit se navorsingsinstituut.

Ons voorouers het nie uitnemende Afrikaanse onderwys op ʼn skinkbord ontvang nie – hulle het dit “gebou” en aan ons nagelaat. Ons het ʼn verantwoordelikheid om toe te sien dat die derduisende Afrikaanssprekende kinders wat in die volgende jare onderrig moet ontvang, ʼn veilige plek sal hê waar hulle sonder vrees Afrikaans, Afrikaner en Christen mag wees én gehalteonderrig ontvang.

Deelnemer eerder as toeskouer

Daar waar gemeenskappe die behoefte aan ʼn nuwe skool raaksien, is hulle meestal huiwerig om sonder ʼn “volledige pakkie” die groot stap te neem en net te begin. Daar word normaalweg op “iemand” gewag om ʼn perfekte produk op die tafel te sit wat vinnig en goedkoop, groot en goed gaan wees. Wanneer het ons net afwagtende toeskouers en kommentators geword, eerder as deelnemers en bouers?

In 1920 het ʼn klein groepie kinders in iemand se huis begin skoolgaan. Sewe jaar later het daardie skool geweldig gegroei en ʼn nuwe terrein benodig. In 1929 was die skool so groot, dat hulle besluit het om die seuns en dogters in aparte geboue te huisves. In 2022 is daar ongeveer 2 500 leerders in beide hierdie skole: Afrikaans Hoër Seunskool en Afrikaans Hoër Meisieskool.

In die 1990’s is die Beweging vir Christelik Volkseie Onderwys in die lewe geroep nadat ouers visionêr die belangrikheid van onderwys buite die staat raakgesien het. Die eerste onafhanklike en selfstandige CVO-skole is met ʼn handjievol kinders en personeel begin. Vandag is daar 28 CVO-skole regoor die land wat hul eie kurrikulum-innovering gedoen het met onderrigpraktyke wat individuele aandag moontlik maak, kinders blootstel aan die samehang tussen dissiplines, ʼn holistiese benadering tot onderrig en leer beklemtoon en ook ʼn groot klomp kinders teen die ideologie van die staat beskerm.[3]

Die pioniers wat geslagte vooraf begin bou het, het nie met ʼn maklike stap vir stap-handleiding begin nie.

Gehalteonderrig is ononderhandelbaar!

Buiten om onderrig vir die volgende geslag te verseker, moet ons ook verseker dat ons dit in ʼn beter toestand oorgee as wat ons dit ontvang het. Ons kan dus nie voortgaan soos daar die afgelope 200 jaar in onderwys gehandel is nie.

Ons moet woeker met die nuutste navorsing om die ideale van verpersoonlikte leer, geïntegreerde onderrig en leer, spelgebaseerde leer, en vele meer (die einste voordele van tuisonderrig) ook in “tradisionele” skole moontlik te maak.

Solidariteit Skoleondersteuningsentrum werk juis aan só ʼn aangepaste onderrig- en leermodel wat kinders, opvoeders, ouers en gemeenskappe deelnemers eerder as toeskouers van onderwys maak.

Neem aksie en begin bou!

Wil ons ʼn groot vis hê, maar net een klein dam? Of baie damme met baie groot visse? ʼn Vis in ʼn klein dam, bly klein. ʼn Vis in ʼn groot dam, word groter (so sê my pa). Ons moet die dam van onafhanklike Afrikaanssprekende Christelike skole vergroot en dan groot hou. Dit vat net 20 kinders, 3 opvoeders, ʼn gemeenskap en ʼn kerksaal om ʼn skool te begin!

Dit is ons elkeen se plig om nie terug te verlang na die vleispotte van Egipte nie, maar ons skoene af te stof en ons jongmense na die Beloofde Land te lei.

Bronne

[1] https://skole.co.za/afr-skole-verslag/

[2] https://beweging.co.za/afrikaner-gemeenskap-neem-toe-werk-nou-nodig/

[3] Dit is insiggewend dat die AP-kerke sedert stigting deurlopend verbondsouers aanbeveel om hul kinders in CVO-skole te sit – red.

  • Hierdie artikel is eerste op die APK se webwerf gepubliseer en kan hier gelees word. 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.