Nene se “kunstige systappie”

Nhlanhla Nene. Foto: GCIS

Nhlanhla Nene. Foto: GCIS

Nota: Aangepas van ETM Analytics se premiumskrywe aan kliënte: “The Artful Nene”

Nhlanhla Nene, die nuwe minister van finansies, se mediumtermynbegrotingstoespraak is onlangs gelewer. In ʼn premiumontleding, wat aan kliënte verskaf word, bespreek markstrateë ETM Analytics insiggewende kommentaar oor die mediumtermynbegroting van 2014.

ETM beskryf die toespraak as ʼn “kunstige systappie”. Die volgende punte uit ETM se kommentaar word uitgelig:

Praatjies alleen bevorder nie fiskale gesondheid nie
Op die oog af het Nene se toespraak as oordeelkundig, sinvol en nugter voorgekom. Dit volg in die spore van vorige ministers wat weet hoe om die regte geluide in die parlement te maak.

Ongelukkig is Nene se praatjie nie veel meer as dit nie, grootpraat. Die probleem is dat niks genoem is wat in werklikheid die huidige trajek van Suid-Afrika se fiskale verval gaan stuit nie. Werklike hervorming van die staatsfinansies gaan nie plaasvind nie.

Geen betekenisvolle verandering aan die struktuurvan die staatskas nie
In sy toespraak maak Nene miskien melding van “besnoeiingsbesparings” en “versigtigheid”, maar die algehele effek van sy begroting is steeds die onstuitbare groei van die Staat.

Voortdurend gaan die lewe uit die dinamiese sektors gepers word om onaanpasbare sektore van verval te red: sodoende gaan hulpbronne van die produktiewe sektore ontneem word en na staatsbevoordeelde sektore en instellings vloei.

Dié begrotingsvooruitsig is ʼn resep vir ekonomiese stagnasie. ʼn Hoër belastinglas word in die gesig gestaar, maar nie ʼn direkte aanslag op jou beursie nie, eerder ʼn stil-stil aanslag. Aanpassings in die belastingkerwe, wat jou inkomste stil-stil in reële terme opeet, kan verwag word.

Saam met hoër belastings verwag ETM ʼn verhoging van heffings by alle punte waar die staat gelde kan onttrek, byvoorbeeld hoër tolgelde, hawebelastings, lisensiëringskostes en boetes is ʼn sterk moontlikheid.

Die oorkoepelende probleem kan na ons bultende en ingrypende welsynstaat herlei word. Die staatsdiens het tans omtrent 3 miljoen werkers. Op sigself vereis dit aansienlike hulpbronne. Individue en besighede staan verder gebuk onder die gewig van ʼn skynbaar onstuitbare vloei van nuwe wette en regulasies wat ʼn rem op die ekonomie plaas.

Gebrekkige kapitaalformasie en beleggings in die privaatsektor beteken dat die privaatsektor nie na verwagting sal groei nie. Swakker belastinginkomstes is ʼn logiese gevolg hiervan.

Hoop vir die beste wanneer die ergste meer waarskynlik is

Soos meestal die geval het die Tesourie groeiende verwagtinge van ekonomiese groei oor die mediumtermyn. Die verwagtinge is egter nader aan fiksie as feite. Miskien is dit net ʼn manier om die markvertrouefeetjies tot lewe te probeer roep.

Daar is vier beduidende probleme wat die Tesourie sal moet oorkom om ekonomiese stagnasie te vermy:

1. Die bars-uit-sy-nate welsynstaat
Die Suid-Afrikaanse welsynstaat is besig om welvaart vinniger tot nuut te maak as wat nuwe welvaart geskep kan word.

2. Skuldverswelging
Baie middel- en lae inkomstegroepe is vasgevang in ʼn web van skuld en word nou effektief in skuldslawe verander. Skuldslawe spandeer groot gedeeltes van hulle inkomste aan skulddelging en is ʼn flou hoop vir ʼn ekonomiesegroei-verrassing. Produktiwiteitsgroei is nou die Tesourie se enigste hoop. Dit op sigself vereis geduldige markgedrewe kapitaalformasie wat nie strook met die staat se huidige ingrypende gedrag nie.

3. Internasionale realiteite
Sou die golf van Dollar-likiditeit in 2015 begin kwyn, kan dit ontbloot dat Suid-Afrika nie voldoende by die huidige internasionale ekonomiese realiteite aangepas het nie:

• China is besig om te verander op ʼn manier wat ons uitvoere kan benadeel;
• Europa is in ʼn langtermyn depressie; en
• die VSA se sakesiklus moet oudergewoonte ook een of ander tyd verswak.

Die streke gaan dus moeilik ʼn ekonomiese reddingsboei vir Suid-Afrika kan gooi.

4. Kapitaalhervestiging
Kapitaal (menslike-, korporatiewe- en finansiële-) is besig om na ander lande te hervestig. Dit kan aan heersende beleidsonsekerheid toegedig word. Kapitaalhervestiging is moeilik om om te draai en verteenwoordig ʼn aansienlike risiko vir Suid-Afrika.

Suid-Afrika is sedert 2007 onder die duim van ʼn depressie. ʼn Kort oplewing was in 2010-2011 teenwoordig. Dit was as gevolg van ʼn opswaai in die goudprys, China se krediet-oorvoorsiening en ʼn sterk rand wat ʼn tydelike blaaskans aan die depressie gegun het.

Ongelukkig het die skynwelvaart ook in die korttermyn ʼn oorverbruik van verbruikersgoedere veroorsaak. Dit is dié realiteit wat die Tesourie se fiskale-berekeninge en rooskleurige vooruitsigte nie genoeg onder die loep geneem het nie.

Die Tesourie se vooruitskatting van belastinginkomste is uiters rooskleurig, maar ʼn Skuldoordeelsdag is nou nie meer as net ʼn langtermyn moontlikheid nie, dit is ʼn groeiende mediumtermyn kommer.

Die syfers
Die Tesourie reken dat die begrotingstekort met -2,6% van BBP gaan krimp. ETM Analytics verwag eerder dat dit bo 4% sal bly. Dit kan selfs erger wees indien ʼn harde ekonomiese afswaai van die bestaande 2009-2014 aandeelborrel plaasvind. As so ʼn afswaai gebeur sal die volgende moontlik wees:

• ʼn behoefte aan selfs meer staatskuld sal geskep word;
• afgraderingsrisiko’s sal verhoog word; en
• staatskuld sal duurder word.

ANC en ANC-personeel
Nene wil staatsdienswerkers se verhogings tot die inflasiekoers beperk. Dit beteken egter dat die staat se betaalstaat teen inflasie sal groei. Ervaring toon dat die staat ʼn sogenaamde indiensnemer-van-laaste-hoop is en dat ʼn inkrimp van die staatsdiens moeilik sal plaasvind.

ETM noem vier opsies vir toekomstige staatsindiensneming:

1. Onderneem massa afleggings met hoër-as-inflasie aanpassings van die oorblywende staatsdienswerkers. Dié opsie is polities moeilik uit te voer.

2. Neem in diens soos gewoon, maar gee laer-as-inflasie-loonaanpassings. Betogings en stakings kan hierop volg. Dit kan verder beteken dat groot dele van die staatsdiens se dienste gevolglik gestaak word. Opsie twee is dus ook onwaarskynlik.

3. Vries huidige poste en gee inflasie-verwante verhogings aan die oorblywende werkers. Die opsie is werkbaar, maar is teenstrydig met van die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) se doelwitte. Dit sal ook die getal werklose mense verder laat groei. Stakings in sleutel departemente is ook moontlik.

4. Neem in diens teen ʼn laer koers met hoër-as-inflasie-loonaanpassings. Die opsie is werkbaar, maar sal nog steeds Nene se begroting onder druk plaas.

Opsie 3 sal die ANC se politiese aptyt sterk toets en kan tot ingrypende stakings lei. Opsie 4 is die maklikste oor die korttermyn, maar sal beslis die begrotingstekort bo verwagtinge vergroot. ʼn Staatdiens wat te swaar op personeel in plaas van kapitaal steun kan ook deur opsie 4 geskep word. Geen maklike antwoorde op die kwessie bestaan nie, en die unies kan in elk geval die finale sê hê.

Privatisering onder dwang
Sprake bestaan dat die Tesourie R20 miljard se nie-strategiese bates gaan afverkoop. Maak nie saak of dit nou Telkom- of Vodacom-bates is wat afverkoop gaan word nie, soos wat markpraatjies wil voorgee nie; die fondse sal nog steeds op die finansiële swartgat van Eskom bestee word.

Terwyl ʼn vermindering van lywige instellings in staatsbesit, soos SAL, die Suid-Afrikaanse Poskantoor en die Landbank verwelkom word, is dit moeilik om te glo dat die soustrein van lewenslange werksekuriteit – wat dié instellings vir die polities-ekonomiese elite beteken – enigsins gestaak sal word.

Dinge kan erger wees
Alles is darem nie verlore nie. Suid-Afrika se begroting en begrotingsproses is ten minste deursigtig. Belangriker as dit, die nasionale skuld is nog hanteerbaar en die rentekostes daaraan verbonde behoort te stabiliseer in die komende twee jare. Die Reserwebank druk darem nog nie direk die gelde wat nodig is om die staatstekorte te dek nie, soos wat in Ghana die geval is nie.

Ons is (nog) nie oor ʼn onoorkombare finansiële afrond af nie. Ons geval is eerder soos ʼn groot skip wat op ʼn ysberg af vaar: alles voel normaal totdat die ysberg getref word – dan verander die prentjie heeltemal. Die kruks van die saak is dat Suid-Afrika nog nie rigting verander het nie, en dit is wat saak maak.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae