Oorwinning sonder teenstand

Deur Johan Smit

Voormalige presidente Nelson Mandela en FW de Klerk vier die einde van apartheid.

Sun Tzu, die gerekende Chinese generaal en militêre strateeg uit Antieke tye, is welbekend vir sy merkwaardige insig oor hoe om te werk te gaan om ʼn vyand te verslaan. Die hoogste vorm en doel van oorlogvoering, volgens Sun Tzu, is om totale oorwinning te behaal sonder om ʼn skoot te skiet. Hiervoor het Sun Tzu, onder andere, geglo moet jy jou vyand baie goed ken.

ʼn Eietydse voorbeeld van dié strategie is Nelson Mandela en daarna die ANC-leierskap van 1994 wat moeite gedoen het om Afrikaners baie goed te leer ken. Mandela se interaksie met die Nasionale Party-verteenwoordigers en sy optrede by die 1994-wêreldbekerrugbytoernooi is tekenend hiervan.

Om ʼn vyand totaal te verslaan beteken natuurlik dat jy hom uiteindelik van alles ontneem en vernietig as entiteit. Dit behels dus onder andere die wegneem van sy ekonomiese geleenthede, sy rykdom, sy eiendom, sy leefruimte en sy kultuurruimte. Laasgenoemde is veral belangrik aangesien dit die samebindende faktor is wat dit moontlik maak vir individue om te verenig en weerstand te bied.

In terme van Sun Tzu se benadering is die doel egter om die vyand te oortuig om alles vrywillig prys te gee. Dit beteken die party moenie besef wat die uiteindelike implikasies vir hom is nie. Die mate waarin die ANC Roelf Meyer kon oortuig van hulle goeie bedoelings, is ʼn merkwaardig praktiese illustrasie hiervan. Meyer het byvoorbeeld tydens onderhandelinge gesê dat die ANC en NP so naby mekaar is dat daar eintlik geen verskil tussen hulle is nie (behalwe velkleur).

‘n Standbeeld van Sun Tzu in Japan. (Foto: Wikimedia)

Oudregter Albie Sachs het Meyer soos volg aangehaal:

We are more than friends because we made peace together. I think that is very applicable to the relationship between the deputy president and myself.

Meyer is dus totaal ontwapen deur die ANC en Cyril Ramaphosa en alhoewel liberale kommentators vandag uitvaar oor Ramaphosa wat geen leier is nie, getuig voorgaande oorwinning, wat meesterlik uitgevoer is deur Ramaphosa, duidelik die teendeel. Uit sy euforie blyk dit egter dat Meyer skynbaar geen benul gehad het van wat sou volg nie.

Die vraag is dus nie of Ramaphosa ʼn leier is of nie, maar eerder wat sy strategie op die oomblik is. Van sy en die ANC se uiteindelike doelwitte is daar egter min twyfel.

Gerekende kommentators, soos dr. Frans Cronjé, voormalig van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rassevershoudinge (IRR), is al lank op rekord dat die ANC nooit die Nasionale Demokratiese Rewolusie (NDR) prysgegee het nie.

Die feit dat die meeste nie eers weet van die NDR nie is bewys van die sukses van dié strategie.

Alle twyfel is deur Ramaphosa self uit die weg geruim nadat hy die afgelope ruk by verskeie geleenthede homself verbind het tot die NDR. Voorgaande kom daarop neer dat die demokratiese roete gevolg word (met as beginpunt die skikking van 1994) om uiteindelik deur ʼn getalle-oorwig ʼn totalitêre, sosialistiese en kommunistiese staat te vestig. Om die IRR se webblad aan te haal:

The NDR strategy is so destructive in its socialist and communist goals and so outdated and illogical that most people find it hard to believe the ruling party could truly be committed to it.

Dis egter glad nie hoe blankes dit gesien het of selfs vandag sien nie. In die verband is Hermann Giliomee se mening dat Afrikaners in 1994 hulle vryheid, of dan die vermoë om hulself te regeer, prysgegee het vir die belofte dat hulle, hulle rykdom sou behou, relevant.

Roelf Meyer voormalige Suid-Afrikaanse minister van verdediging en leidende NP-figuur luister na vrae van lede van die WVK (Waarheid-en-versoeningskommissie) tydens die verhore in Johannesburg 15 Oktober 1997. (Foto: ODD ANDERSEN / AFP)

Terwyl Meyer en die Nasionale Party-leierskap geglo het dat hulle ʼn skikking bereik het wat demokratiese beginsels onherroeplik sou vestig en die blanke minderheid se belange sou beskerm, was die oorgang in 1994 in werklikheid net die begin van ʼn langdurige, maar fel, stryd om blanke Suid-Afrikaanse burgers (eintlik alle rasse groepe) van alles wat vir hulle kosbaar behoort te wees te ontneem.

Wat merkwaardig, maar nie heeltemal vreemd is nie, is dat Afrikaners meesal entoesiasties hieraan meedoen. Om uit te brei oor die redes sal kompleks wees maar ʼn eenvoudige verduideliking is dat baie nog glo dat hulle ʼn tweede kans gekry het in 1994 en dus moreel aangekla is. FW de Klerk se oortuiging in die verband is welbekend. Die ANC het dus die morele hoë grond (gehad).

Na die prysgee van hulle vryheid, sonder die behoorlik beskerming van hulle minderheidsregte, soos wat baie nou besef (die wat nog twyfel kan gerus die bekende grondwetlike kenner, prof. Koos Malan, se boeke hieroor lees) het blanke Suid-Afrikaanse burgers entoesiasties deelgeneem aan die vernietiging van hulle eie en ander se toekoms deur te buig voor transformasie.

Blankes in senior posisies in maatskappye en industrieë het hulle verbind daartoe en glo dis moreel reg om teen ander blankes en veral jongmense te diskrimineer, alhoewel die optrede dikwels nie so edel is nie aangesien die vals hoop bestaan dat die persoon darem sy termyn sal uitsien.

In praktyk beteken dit natuurlik dat alle, maar veral jong blankes, van geleenthede in Suid-Afrika ontneem word terwyl getransformeerde instellings in duie stort omdat meriete by die agterdeur uitgesmyt word. Dit lei weer tot die vals, maar goed bewerkstelligde, oortuiging by die ouer generasie, wat eers hulle vryheid en toe hulle kinders se geleenthede weggegee het, dat daar geen toekoms in Suid-Afrika is nie. Baie verlaat dan inderdaad die land met net die klere aan hulle lyf.

Dit bring ons weer by Sun Tzu se siening dat die hoogste vorm van oorwinning behaal word sonder om ʼn skoot te skiet, terwyl jy jou vyand totaal vernietig. Vir die wat nog twyfel of voorgaande moontlik is, behoort hulle eie oortuigings en optrede of die van baie naby hulle duidelik die teendeel te bewys.

Die snelle verval van Suid-Afrika begin egter bogenoemde slim en stadige wurggreep aan die kaak stel. Dit terwyl daar terselfdertyd ʼn hardnekkige en gesuiwerde oorblyfsel van Afrikaners vorm wat glo in hulleself en hulle toekoms en… wat weet.

  • Johan Smit is ‘n besigheidsman, boer, Christen en patriot.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Kobus ·

Mnr Meyer en kie ontken tot vandag toe dat hulle nie geswig het voor die ANC nie en dat die onderhandeling / oorgawe met Mandela ‘n wen/ wen situasie was.

Jack ·

Ek was uitgenooi na die ANC se oorwinningsdinee in die Carlton hotel net na die 94 verkiesing. Die uitbundige vreugde van die ANC leiers aan die hooftafel was fassinerend ontstellend. Hulle het gejuig omdat hule baie meer gekry het as waarvoor huiie ooit gehoop het, nl totale kapitulasie van blanke politieke mag. FWdK, Roelf Meyer en hulle raadgewers was totaal naief. Hulle moes eerder ag geslaan het op die aanbevelings van die SA Native affairs Commission van Lord Lagden (1903 – 1905.

houopkruip ·

…….. en mense, instansies, ens (insluitend Maroela) plaas vandag nog meyer se sieninge en berigte !!!
Die man se mening is soveel werd as wat dit destyds was.

Petrus Albertus ·

Mnr. Smit, u deurskou die situasie baie helder en raak. Ek wil net weet vir hoe lank gaan die skikkingsgenerasie van Afrikaners nog so aankarring voir hul oë begin oopgaan? Want dit is veral die gegoede, ontwikkelde Afrikaners wat steeds allergies is vir enige vorm van georganiseerde teenstand teen hierdie vernietigende proses, wat steeds hulle kinders ba openbare universiteite stuur eant dit is “mooi”…

Republikein in die Wes Kaap ·

Baie waar! Meer as 35 jaar gelede het PW sy ministers gewaarsku om versigtig te wees vir die ANC. By Kodesa het die ANC reeds vroeg die uitklophou geplant. Die NP was bloot onbevoeg en onvoorbereid om te onderhandel. FW se aandag was elders. Maar dis gedane sake. Ons moet nou oplossings vind. Die ANC is tans uiters kwesbaar en kan ook val sonder ‘n enkele skoot.

Manie ·

de Klerk het tydens die nag van die Generaals etlike hoë profiel generaals in die Weermag en Polisie wat teen die totale oorgawe was afgedank. Daar is deesdae weer baie inligting in omloop wat verduidelik hoeveel geld by die oorgawe betrokke was.

Treurwilger ·

Uitstekende opsomming, Johan Smit.

‘n Mens kan net in jou hande huil.

annie ·

Een van die groot voorvegters vir oorgawe was De ‘Kerk’ wat Afrikaners oortuig het dat naasteliefde, gekoppel aan die Roomse idee van koop jou plek in die hemel, die hoogste vorm van geloof is. Steeds bly die idee van ‘human rights’ gekoppel aan die glo verontregting van swartes as die ewige sonde wat beveg moet word. Die groot komiese tragedie is dat Marxiste ateïsme beoefen en ons opoffering vir ongelowiges was. Mandela was volgens internasionale nuusbronne verknog aan die Indiese Ghandi se sieninge en lg se Hindoe-geloof. Die Weste se rol is/was suiwer gierige magsbeheptheid.

Jaco ·

“Uit sy euforie blyk dit egter dat Meyer skynbaar geen benul gehad het van wat sou volg nie.” Vreemd dat ek en báie ander in daardie tyd wel ‘n benul gehad het van wat sou volg: regstellende aksie, plaasmoorde, onteiening sonder vergoeding, verswakking van dienslewering, diskriminasie teen Afrikaans. Maar ons waarskuwings is afgemaak as rassisties en onchristelik. Wat nou in SA gebeur is natuurlik nie rassisties en onchristelik nie.

Hendrik ·

Jaco jy s baie reg. Die leuen het in die tyd voor 1994 geseevier en die NP is deur die verslaafdes tot volkafgod verhef. Deur die ganse land is die volk van vergadering tot vergadering belieg. Die geringste oposisie KP en Jaap Maraies was neerhalend beledig terwyl die NP lede met vermaak gejuig het.

Marthinus W ·

Die ANC se vyand was nie net ons blankes nie. Baie swartmense het gesterf, maar dit is een van die feite wat nog in die mis van oorlog weggesteek le. My familie was in die polisie, weermag, staatsdepte, en het eiehandse kennis hoe die gematigde swartmense uitgewis is, bv halssnoer: n motorband vol barndstof word pm n persoon se nek gegooi en aan die brand gesteek; n wrede dood. n Week of twee voor 16 Junie 1976 het n familied wat vir die munisipaliteit werk, n valskerm by jabavu-stadion gekry: iemand het dus van buite af “ingespring” en die opstoot aan die gang gekry. n Vreind was seksieleier op daardie dag; hy het handevol randnote ontvang as “tjo-tjo”-geld om nie die skelm te arresteer en te skiet nie. Op daardie dag is menige van die mense wat gesterf het, deur swartmense in Soweto vermoor; dit is op ons wittes se rekening gesit. Het Albert Luthuli werklik in n treinongeluk gesterf, of was hy “gestoot”? En Hani?

De Bok ·

Johan. Jy is reg, maar wat is die pad vorentoe? Hoe kry die Afrikaner sy vryheid terug?

Jaco ·

En daar kritiseer almal weer NET vir FW en Roelf. Toe die verregse AWB in die 1980s ‘n volkstaat bedink het, het die regerende Nasionale Party gesê dis rassisme. Die ewe regse Konserwatiewe Party en die Herstigte Nasionale Party (vreemd; dié 2 partye kon NOOIT saamwerk nie) het gesê “ ‘n volkstaat kan nie werk nie”. In 1991, toe ALMAL al geweet het dat die ontbande ANC ‘n veelrassige verkiesing sou wen, het net 60 mense darem Orania gestig, maar na 32 jaar het Orania net 2377 mense, wat terloops in 8 kerke verdeel is. So selfs daar is onenigheid.
Byna 1 miljoen nee stemme in 1992 se referendum was in 1994 af na 425 000 vir die Vryheidsfront.Die Konserwatiewe Party het mos daardie verkiesing geboikot.Daarna het die VF-Plus in elke verkiesing verswak, tot by bietjie van ‘n oplewing in 2019.Ons het kanse verspeel deur oplossings af te skiet met “dis rassisme”, “dit sal nie werk nie”, ” daars nie geld daarvoor nie”, enersdenkende groepe wou nie saamwerk nie en ons boikot verkiesings

Werner ·

Een van die beste atrikels in ‘n lang tyd. Beter as mnr Johan Smit kan ek dit beslis nie stel nie. Die hoogtepunt van die artikel, in die laaste paragraaf, het my sommer opgewonde gemaak, want ek woon in Orania en kan eerstehands getuig: “Dit terwyl daar terselfdertyd ʼn hardnekkige en gesuiwerde oorblyfsel van Afrikaners vorm wat glo in hulleself en hulle toekoms en… wat weet”. Die toekoms is blink vir Afrikaners, hier in Afrika.

Hendrik ·

Ons woon in Kleinfontein en hier kry ons oook die Afrikaners wat hardnekkig glo en wat hard werk. Net 20km wes van ons is Afrikaners in Pretorianers wat kreun onder misdaad, beurtkrag en watertekorte. Hier sit one met ‘n viervoet heining en wonder maar steeds hoekom die mense al hierdie dinge beproef net vir die gerief van ‘n supermark naby en jy betaal vir alles want jy wil TV kyk. Hulle is maar seker nie afrikaans sprekende afrikaners wat liewers sal emigreer as 20km migreer.

Nettie ·

WOW.
So 15 jaar terug het ‘n politieke ontleder, Mike Smith, ‘n reeks artikels geskryf, genaamd Pandora’s Box. Dit was so omstrede dat hy later ondergronds gegaan het. Basies het hy gesê wat sopas hier beskryf is in hierdie artikel. Die ANC se hele plan, asook die NDR-uiteinde en dat dit als volgens Sun Tzu se beginsels ontwikkel is (die ANC was opgelei in Rusland vir dekades lank).

Ons is was nog altyd die slagoffers, die teiken, NIE die skuldige of oortreders nie!

Dis vir my ‘n riem onder die hart dat mense nou openlik hieroor kan begin praat en skryf, sonder dat koerante hulle brandmerk as verregs en rasissties. Party van ons het lank gewag vir hierdie dag!

BAIE DANKIE, mnr. Johan Smit. Mag ons nog baie meer artikels uit jou pen kry!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.