Redakteursbrief: Fontein-se-watse nonsens?

Jy is dalk een van die Maroela-lesers wat al vir agt jaar, sedert ons in 2011 ons eerste nuusstorie publiseer het, getrou saamkuier. Jy kook van ons resepteblad af, volg die wel en wee van bekendes op die vermaak-afdeling, slyp jou taal-tande op Toetentaal en bly op hoogte met die nuutste nuus.

En toe, skielik, toe jy nou die dag kommentaar wil lewer op Maroela se artikel oor onse eie mej. Heelal wat terug is in die land, moet jy skielik hoor: “Jammer, jy moet deel van Maroela-fontein wees om kommentaar te lewer.”

Watse fontein-nonsens-twak is dit hierdie? skryf een oom baie boos vir ons.

Moenie bekommerd wees nie. Maroela-fontein is ʼn lekker plek – dis wa’ jy hoort, sê ons. Jy is mos darem lank al deel van die Maroela-gemeenskap met dié dat jy saamkuier op Maroela en op ons sosiale media. Met Maroela-fontein wil ons lojale lesers soos jy beloon met ekstra funksionaliteit – steeds gratis – waartoe ander lesers nie toegang het nie.

As jy registreer om deel te word van Maroela-fontein, word jy as ‘t ware ʼn inwoner van ons digitale dorpie. En dié inwonerskap gee jou allerlei voorregte, soos dat jy kommentaar kan lewer wanneer jy ingeteken is, dat jy tiekies kan verdien wanneer jy aktief is op die webwerf, en dat jy vir jou deelname allerhande erebalkies kan ontvang waarmee jy op sosiale media kan spog. Die emosies-funksionaliteit by stories en kommentaar stel jou in staat om te wys hoe jy oor ʼn artikel voel sonder dat jy ʼn lang relaas in die kommentaar hoef te tik. Jy kan ook kies uit ʼn rits lekker tong-in-die-kies-poskaarte wat jy elektronies vir iemand kan stuur op spesiale dae soos Vaders- en Moedersdag, verjaardae, met die geboorte van ʼn baba, ʼn huwelik of op Valentynsdag. En wie weet, as jy ʼn aktiewe inwoner is en jou mooi gedra, besluit ons dalk sommer om jou as burgemeester van Maroela-fontein te kroon.

Op ʼn ernstige noot: Ons hier by Maroela neem kennis van ons lesers se ongemak met kommentaar wat soms onsensitief is en aanstoot gee. Om die kommentaar af te skakel, is nie vir ons ʼn opsie nie, want ons is immers ʼn gemeenskap, en ʼn gemeenskap moet darem met mekaar kan gesels (en ʼn bietjie stry). Die enigste ander opsie is om seker te maak elkeen wat kommentaar lewer, weet dat ons weet wie hy of sy is. Daarom moet jy met ʼn geldige e-posadres registreer vir Maroela-fontein-inwonerskap.

Ons beplan nog allerhande lekkertes vir Maroela-fontein, en werk reeds aan ʼn volgende klompie voordele wat jy as Maroela-fontein-inwoner sal kan geniet (en waarmee jy kan tong uitsteek vir ander Maroela-lesers wat nie wil registreer nie), soos ʼn boekmerk-funksie en area-spesifieke nuus vir die omgewing waarin jy woon.

As jy nog nie die vormpie voltooi het om ʼn Maroela-fonteiner te word nie, doen dit sommer nou: Besoek maroelamedia.co.za en klik op die “Maroela-fontein”-blokkie regs bo op ʼn rekenaarskerm (op ʼn selfoon kan jy klik op die “word deel”-skakel heel bo aan die skerm). Jy kry sommer dadelik ʼn klompie tiekies én ʼn Groentjie-erebalkie op die koop toe (wat jy te siene kan kry as jy jou profiel besoek wanneer jy ingeteken is). En as jy jou e-posbus dophou, skryf die burgemeester dalk nog vir jou ʼn briefie om jou persoonlik welkom te heet in jou nuwe tuisdorp.

 

Toe, kom neem jou intrek in Maroela-fontein, en kom kuier saam van hanekraai soggens tot die genneryter laatnag sy laaste dampe uitblaas. Dis wa’ jy hoort!

Groetnis
Susan Lombaard
Uitvoerende hoof: Maroela Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Lourens CFG ·

Goeie middag hier van die Weskaap af, ons sal nog kyk hoe die nuwegeite uitwerk vorentoe.
Kan jul net asseblief die wit venstertjie met die swart kruisie onder aan die skerm, en die wit pyl met grys agtergrond regs bo aan skerm verwyder?
Die skermpie is klaar kleinerig om ‘n ekstra wit venstertjie ook nog by te sit.
Die wit pyl is onnodig want, wanneer jy tot heel onder gelees het, gaan jy na volgende artikel, en nie terug na die begin nie.
Baie dankie vir die puik lees stof deur die jare.
Lourens

Bloedhond ·

Ek lees MM al baie jare en dis die beste nuus web in ons land. Baie dankie dat ek nooit meer Media24 se snert hoef te lees nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.