Vasbyt in Malawi

Deur Riaan Lombard

Malawi se nasionale vlag (Foto: David Peterson/Pixabay)

ʼn Honderd jaar. Dis hoe lank die Kays nou al in Malawi boer. Hulle landgoed, Satemwa, is geleë in die Shire-Hooglande naby Thyolo, sowat 40 km vanaf Blantyre. ʼn Tee- en ʼn bietjie koffieplaas, met hoë nyanga-plantkruin-bome en norrings ou mahonies, en heuwels vol immergroen teeplantasies omsoom met silwereike en ander bome. Hier word kwaliteit tee produseer; ʼn wye verskeidenheid swart, groen-, Oelong-, donker en wit tee.

Huntington House, gebou in die 1930’s, met sy breë stoep en fraai tuin was eens die Kays se woonhuis. Vandag is dit ʼn gastehuis. In dié statige ou huis is daar baie gepraat oor die land; eens Nyasaland, toe Malawi. Sedert die vyftigerjare het die Kays immers dramatiese politieke veranderinge in die land beleef.

Ná onafhanklikheid in 1964 regeer dr. Hastings Kamuzu Banda Malawi met ʼn ysterhand. Sy diktatorskap, en Malawi se eenpartystelsel, word eers ná die referendum van 1993 beëindig. Na 1993 is ses algemene verkiesings gehou; die oorgange van mag, almal vreedsaam. Die geld- en ander ekonomiese beleid het ook gereeld verander.

Tee is, naas tabak, Malawi se vernaamste uitvoerproduk en ʼn belangrike verdiener van buitelandse valuta. Maar die internasionale teeprys is laag en ʼn bron van kommer vir Satemwa se mense. In Mei 2023 was die gemiddelde teeprys op drie internasionale veilings $2.70 per kilogram[i]. In Malawi was die uitvoerprys amper die helfte minder[ii]. Net soos in die geval van tabak, daal die prys[iii] van tee – gemeet oor drie dekades – op die wêreldmarkte.

Maar daar is ook ander sorge.

Verlede jaar het twee siklone, Ana en Gombe, verwoesting in Malawi gesaai. Vanjaar, sikloon Freddy. Stygende brandstof- en kunsmispryse, as gevolg van die konflik in Oekraïne, was verdere skokke op die ekonomie.

Brandstoftekorte en lang kragonderbrekings het ekonomiese aktiwiteite verder gekniehalter.

Malawi was reeds in ʼn swak posisie toe Ana en Gombe die land vroeg in 2022 tref. Die land was toe al klaar diep in die skuld[iv] met min buitelandse valutareserwes om die skokke te versag. Verder was die regering se vasgepende wisselkoers ʼn treurige skokdemper.

Noodgedwonge moes die regering in Mei 2022 die kwacha-prys van ʼn Amerikaanse dollar met 25% verhoog. Terugskouend was dié devaluasie van die kwacha egter nie genoeg om die land se benarde betalingsbalansposisie te verbeter nie. Malawi se buitelandse valutareserwes het verder tot krities lae vlakke gedaal[v].

Desnieteenstaande die beheerde wisselkoers, wat veronderstel is om inflasieverwagtinge te anker, is inflasie hoog[vi].

Afgesien van die regering se geldbeleid dra sy oorbesteding by tot die land se eksterne wanbalans en voortdurende druk op die kwacha-wisselkoers.

Verwagtinge van ʼn verdere devaluasie is ook ʼn rede vir die skaarste van dollars en ander buitelandse valuta. Gevolglik het die regering sy beheer oor uitvoer en die terugvloei van uitvoerbetalings verder verskerp.

Nou is die regering onder groot druk om Malawi se buitelandse krediteure te oorreed om die terugbetaling van die land se skuld te herskeduleer, of om die land van sekere skuldverpligtinge vry te stel. Sukses kan die deur open vir ʼn langer termyn lening vanaf die Internasionale Monetêre Fonds (IMF). Verder kan dit ook meer valutafondse beskikbaar stel vir invoer, aangesien Malawi se hoë skuld en skuldverpligtinge tans ʼn groot hap neem uit die land se karige uitvoerverdienste.

Malawi met sy hoë bevolking, waarvan die meeste baie arm is.

Wanneer die mistigheid op Satemwa opklaar, sien jy Mulanje, Malawi se hoogste berg, in die verte. Dit bring die besef: Jou eie uitdagings mag jou ontmoedig, totdat jy perspektief kry op die struikelblokke wat ander moet aanpak én oorkom.

Bronne

[i] Die Wêreldbank “Pink Sheet”, Junie 2023

[ii] April 2023 Ekonomiese Oorsig van die Reserwebank van Malawi.

[iii] Die dollarprys, aangepas met inflasie. (Soos gepubliseer deur die Wêreldbank (Pink Sheet)).

[iv] Die Mutharika-regering het kwistig geld in die buiteland gaan leen, maar toe styg Amerikaanse en ander rentekoerse en droog die geldkraantjie op.

[v] Teen die einde van April 2023 was Malawi se buitelandse valutareserwes gelykstaande aan slegs 0,8 maande se invoer. (April 2023 Ekonomiese Oorsig van die Reserwebank van Malawi)

[vi] In Mei 2023 was die VPI-inflasiekoers, gemeet oor 12 maande, 29.2%.

  • Dr. Riaan Lombard is ʼn onafhanklike ekonoom.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.