Waar is die individu in die hele verhaal?

Kritiese gedagtes in verband met Afrikanerskap (Deel 1)

In die debatte oor die toekoms van die Afrikaanse kultuur word die rol van die individuele lewe onder Afrikaners dikwels oor die hoof gesien. Ons besef nie hoe belangrik dit is om lojaliteit en betrokkenheid te kweek op individuele vlak nie. Is nuwe instellings en die stryd om politieke vryheid moontlik sonder grondige veranderinge in ons individuele lewenswyse?

Die Afrikanerdebatte van ons tyd bestryk ‘n ongelooflike wye veld. Ek twyfel of dit ooit so wyd geloop het in ons hele geskiedenis. Daar word gepraat oor politieke modelle, oor kultuurstrategie, oor taalpolitiek, oor godsdiens, oor filosofiese kwessies en oor die maniere waarop vryheid verkry kan word vanuit die posisie waarin ons tans verkeer. Die Afrikanergesprekke is nog meer uiteenlopend as in die verlede omdat ons oor soveel kundiges beskik in studievelde wat voorheen nie eens bestaan het nie: dink maar aan vakrigtings soos toekomskunde, strategiese studies, ekologie, demografie, ontwikkelingsekonomie, kultuurfilosofie, godsdienswetenskap, sake-etiek, stelselteorieë, sosiale liguïstiek, en so meer. Sowat vyftig jaar gelede het regsgeleerdes, predikante, onderwysers en politici min of meer al die debatte oorheers, met hier en daar ‘n eensame ekonoom wat probeer het om tussen die geraas deur te kom met sy praktiese argumente.

My indruk is dat ons in die debat oor die toekoms van die Afrikanervolk mekaar dikwels verkeerd verstaan; want ons is nie altyd ingelig oor redevoering of diskoerse binne kennisvelde waarin ons nie geskool is nie. Ons verstaan die definisie van begrippe of die aanbieding van oplossings te maklik verkeerd. Daar is natuurlik nie ‘n eenvoudige remedie daarvoor nie.

Daar is egter ‘n ander, maklik-waarneembare rede waarom ons mekaar dikwels verkeerd verstaan. Ons praat soms oor probleme en oplossings wat klaarblyklik fokus op verskillende vlakke in ons samelewing – en sodoende gebeur dit dikwels dat ons by mekaar verby praat. ‘n Studieprojek waarin die retoriek van die Afrikaners se gesprekke en debatte ondersoek word sal uiters interessante fasette na vore bring. In hierdie stuk gaan ek net kortliks kyk hoe ons miskien blinde kolle ontwikkel het wat hierdie vlakke, arenas of “fokusareas” betref.

Drie arenas waarbinne ons probleme en uitdagings ervaar

Afrikanergesprekke kan onder andere beteken word aan die hand van spesifieke arena’s waarbinne ons die politieke of kulturele probleme ontleed. Die mees opvallende een is die arena van die staat en die politieke instellings – daardie liggame wat beleid maak, wette opstel en wette vertolk. Ons debatte is gevul met argumente oor nuwe wetgewing, oor die mag en die rol van die staat, oor die verval van nasionale state en die filosofiese kwessies rondom grondwette en die politieke orde in den brede. In dieselfde asem praat ons ook oor ons volk se verlies aan politieke regte of selfbeskikking; en ons debateer oor die toekoms van ons volk op staatkundige gebied. Kan ons onsself byvoorbeeld weer sien in ‘n vrye republiek van ons eie? Hoe word state as sulks gebore en hoe breek mens uit onderdrukkende meerderheidsisteme uit? Dit is die trant van ons heersende Afrikanergesprekke.

‘n Tweede arena is dié van instellings en organisasies, wat eintlik die liggaam van ons hele samelewing behels. Dit gaan dan oor instellings wat in die volkslewe ‘n kritieke en belangrike rol speel om mense te vorm, om waardes uit te dra, en om belange te verdedig. Hierdie instellings is daardie ondernemings wat die kulturele lewe in die algemeen verryk, en wat funksionele prosesse soos ekonomiese en politieke handelinge moet bemiddel – ongeag wat die stand van sake in die eerste arena is. Op hierdie vlak is daar ‘n groot verskeidenheid van kwessies wat in ons debatte uitslaan. Dink maar aan die debatte oor die onderwys, oor Afrikaanse universiteite en die verskillende instellings wat hulle met taal en kultuur bemoei. Dan gaan dit ook oor beroepsorganisasies, welsynsdienste, ouetehuise, landbou-organisasies, die Afrikaanse kerke, sportliggame, radiostasies, uitgewers, handelaars, vakbonde en andere. Die problematiek is dié van ons instellings en die waardes wat hulle onderlê: kan ons byvoorbeeld nuwe Afrikanerinstellings skep, en hoe kan ons die bestaandes red?

Daar is egter ook ‘n derde arena wat soms betrek word in ons gesprekke of wat terloops aangesny word, maar wat ek persoonlik dink veels te min aandag geniet. Dit is die arena van die individu, die man op straat, die gewone werker in sy daaglikse lewe, die huisvrou, die dosent, onderwyser, kind of skolier. Kom ons noem hom/haar die “gewone ou”: tiksters, vragmotorbestuurders, opsigters, polisielede, verkeersbeamptes, kunstenaars, fietsryers, boksers en tennisspelers. Hoe lyk die problematiek wat die individu ervaar in so verre as wat dit sy of haar Afrikanerskap aangaan? Maak die woord Afrikaner nog sin vir hom of haar? Hoe sien hy of sy hul verbondenheid aan die Afrikaner se kultuur en geskiedenis? Is Geloftedag vir die individu nog belangrik? Wat is sy of haar ervaring as hulle klas moet loop aan gemengde universiteite of skole? Wat beleef die dosent wanneer hy of sy vakke moet doseer in Engels om aan te pas by ‘n multikulturele omgewing? Hoe oorleef die individu binne ‘n wêreld waarin daar teen Blankes en teen Afrikaanssprekendes gediskrimineer word wat betref werkverskaffing, bevordering, die toekenning van beurse en dies meer? Hoe reageer die individu byvoorbeeld op uitdagings van kulturele aard, soos die miskenning van Afrikaans en die miskenning van Christelike waardes?

Waarom hierdie verskillende arenas raakgesien moet word

Uiteraard kan hierdie drie arenas onderskei, maar nie geskei word nie. Maar waarom doen ons dit? Ek dink die gesprekke rondom strategieë en optrede in die rigting van groter selfstandigheid en vryheid vir die Afrikanervolk sentreer dikwels om bepaalde probleme sonder dat ons die geheel in die oog hou. Om dié bewering te illustreer noem ek die volgende drie voorbeelde:

(a) Wanneer ons praat oor die erkenning of die gebruik van Afrikaans is daar aksies wat hulle aktief bemoei met hoe die instellings daar moet uitsien, wat instellings en organisasies (soos skole, besighede, banke, howe, ens) moet doen om Afrikaans te handhaaf en tot sy reg te laat kom. Ons praat ook oor hoe taalhandhawing deur middel van spesiale instellings bevorder moet word – maar, in dié proses vergeet ons dalk van die arena waarin die individu leef, die waardes, gewoontes en praktyke wat op die grond posvat en wat sy of haar taalkeuses bepaal. Dink byvoorbeeld aan die Afrikaans wat op die rugbyveld, in die kroeg, in klaskamers, in winkels of in besighede gehoor word. Om instellings te skep los sulke probleme nie vanself op nie; en om bloot gunstige wetgewing deur die staat aanvaar te kry gaan dit eweneens nie oplos nie – al is die argumente rondom die rol van die staat ook hoe sterk. En hoe stel ons byvoorbeeld die verwronge uitspraak van sekere Afrikaanse woorde reg? Wetgewing kan dit nie doen nie, en instellings kan weinig daaraan doen. Dit ontstaan in gesinskringe en in die leefwêreld van die individu, waaroor niemand beheer oor het of dit wil hê nie.

(b) Die hele masjienerie van die staat, van burgerlike liggame en vrywillige organisasies kry dit blykbaar nog nie reg om renosterstropery te stop nie; ten spyte van gesamentlike aksies. Daar is blykbaar individue wat nie waarde heg aan die bewaring van die natuur nie, hulle deel hoegenaamd nie die gevoel vir die natuurlewe van die beskaafde wêreld om hulle nie. Vir hulle tel geld, en geld alleen – en daarom pleeg hulle die afgryslike renostermoorde en raak hulle betrokke by smokkelbendes. Iets soortgelyks kan gesê word oor plaasaanvalle. ‘n Klinkklare oplossing deur wetgewing of deur die optrede van instellings is daar klaarblyklik nog nie; daar is vermoedelik dieper probleme betrokke – probleme van menslike gedrag en waardes, of eerder dan gebrek aan waardes. Daar is politieke motiewe aan die werk wat nie bespreek of aangeraak word nie. Wat hierdie voorbeelde betref is dit duidelik dat die problematiek sigself op al drie die genoemde arenas uitspeel.

(c) Wat die onderwys betref, word dit lankal aanvaar dat die staat alleen nie al die oplossings kan verskaf nie; dat onderwysprobleme vanuit die oogpunt van deugsame instellings benader moet word. Maar ook hier is daar kwessies wat op die vlak van die individu bestaan: die wil om deel te neem aan moedertaalonderwys en die wil om Afrikaans in onderwysinstellings te gebruik. As die individu (en hul gesinne) onverskillig geraak het, gaan taalgetroue en volksgetroue instellings dit nie sonder meer regstel nie. Liefde vir jou taal en kultuur (as individu, of as gesin) is iets wat nie uit die lug val nie – dit sluit aan by ‘n geskiedenis en tradisie waarin taal op sigself as ‘n belangrike merker van identiteit beskou word. Die onbetrokkenheid van ouers by die opvoeding van kinders is een van die knaende onderwysprobleme. Goeie instellings ondervang dit nie sonder meer nie. En geen wetgewing kan ‘n grondige verandering van gesindhede op daardie vlak bewerkstellig nie.

Ons sou heelwat meer voorbeelde kon aangee van gevalle waar Afrikaners se probleme baie dieper lê as wat ons soms dink. En wanneer ons hierdie kwessies nie in geheel beskou nie is ons geneig om aan simplistiese oplossings te dink; of ons argumenteer gewoon by mekaar verby oor die oorsake van ons probleme.

Waar staan ons met die individuele betrokkenheid van Afrikaners?

Net so min as wat ons alle probleme kan projekteer op die staat of op gebrekkige instellings binne die samelewing, net so min kan ons al ons probleme projekteer op die individu. Tog dink ek dat ons die uitdagings wat ons in die gesig staar heeltemal gaan onderskat as ons die arena van die individuele lewe (miskien saamgelees met die gesinslewe) heeltemal miskyk of ignoreer. Ons debatteer ook te min oor die derde vlak – en sommige sal dit wou aandui as die prioriteitsvlak van ons politieke/kulturele stryd. Sonder verandering en vernuwing in die lewe van individuele Afrikaners kan ons nie sterk en gesonde instellings opbou nie; en sonder toegewyde individue kan ons nie nuwe politieke of staatkundige werklikhede skep nie. Miskien moet die derde vlak dan die eerste vlak word waarop ons moet werk? Dit gaan die sukses van instellings en die politieke stryd tot ‘n hoë mate bepaal. Ek herinner my ‘n Geloftedagrede van generaal Paul Roux te Diyatalawa-kamp in Ceylon, wat min of meer hierdie argument onderstreep. Hy het die dekadensie wat in volksgeldere posgevat het gedurende die dekade van die 1890’s beskryf.

In ‘n volgende aflewering sal ek meer wil sê oor die rol of die stand van die individu. Maar ek wil hier volstaan met die vraag: bly daar nog iets oor van die individuele gewete en pligsbesef in ons samelewing? Is daar nog die emosie oor, soos wat dit opklink in een van CM van den Heever se gedigte, Eenmaal:

EENMAAL

Ook eenmaal in die kringloop van die tye
sal hierdie aardbol uitgebrand en dood
in eindelose leegtes hang en afstand-swye
sal nog sy uitgeworpenheid vergroot.

En al die mensgeslagte sal vergete
en weggebrand wees net soos gras;
Maar, God, die swaarste – hoe klein! – is tog die wete
Dat ek ook deel van dié verwoesting was!

Hierdie artikel word eersdaags gebruik as ʼn verslag van die Instituut vir Kultuur en Geskiedenis – Red

_________________________
Literatuur:

(1) CM van den Heever se gedig, Eenmaal. Aangehaal uit Groot Verseboek van DJ Opperman, Derde Uitgawe, Tafelberg Uitgewers, 1971.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meinhard Peters

Meer oor die skrywer: Meinhard Peters

Meinhard Peters is in die joernalistiek aktief as politieke ontleder en deelnemer aan radio-debatte. Tans is hy betrokke by die Instituut vir Kultuur en Geskiedenis, ’n loodsprojek in Pretoria.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae