Waaraan sal ons weet?

Deur Theuns de Bruyn

kruis-pers-sonsondergang

(Foto: Aaron Burden/Unsplash.com)

Die mens se toekomsverwagting bepaal sy hele lewensingesteldheid. Dit bepaal wat die mens doen. Dit bepaal waaraan die mens homself verbind. Dit bepaal ook hoe die mens sy nageslag opvoed.

In Afrikaners se gedrag kan daar uiteenlopende toekomsverwagtinge raakgesien word. Die feit dat daar al hoe meer bejaardes is wat kinders in die buiteland het, spreek boekdele. Daar is by baie Afrikaners nie ʼn positiewe verwagting van die toekoms hier nie.

ʼn Groeiende hoop by Afrikaners wat steeds in Suid-Afrika bly is egter in ʼn groot mate ook waarneembaar. Die feit dat daar instellings vir tersiêre opleiding in Afrikaans gevestig word, spreek van ʼn baie meer positiewe toekomsverwagting.

Niemand wil egter hulle lewensbesluite op lukrake raaiskote oor die toekoms baseer nie. Mense sal eerder berekend tendense fyn dophou, die toekoms ekstrapoleer en op grond daarvan besluite neem. Dit bly egter wel niks meer as ʼn berekende raaiskoot nie. Die vraag wat Afrikaners hulself steeds sal vra: Waaraan sal ek weet?

Die Beskikker van die toekoms

Met betrekking tot die toekoms wil die mens iets verstaan van hoe die wêreld werk. Indien die mens verstandelik ʼn greep op die werking van die kosmos kan kry, sal hy ingeligte besluite kan neem.

Die waarheid is egter dat die wêreld nie in ʼn geslote sisteem werk nie. Wat ons om ons sien, is nie maar net bloot wêreld nie. Dit is nie maar die resultaat van die werking en aanwending van natuurwette nie. Wat ons om ons sien is skepping. By implikasie is daar dus ʼn Skepper[1]. Hierdie Skepper is dan ook nie afwesig in die voortgang van die geskiedenis nie. Inteendeel, Hy is geen God van ver nie, maar van naby[2]. Hy is nie alleen Skepper nie, maar ook Beskikker. Toekoms en verlede is volledig in sy hande. Logies sou daar dus ingeligte besluite oor die toekoms geneem kon word, indien Hy geken sou kon word.

Dit is dan op hierdie punt wat daar vir die mens ʼn groot probleem ontstaan. Hoe kan die mens die onsigbare God ken? Is kommunikasie tussen die ewige God en tydelike mens moontlik? Sal eindige mense en die oneindige God met mekaar gemeenskap kan hê. Sal Hy wat onbegryplik is Homself openbaar in terme waarin ons Hom kan begryp? Steeds bly die vraag: Waaraan sal ek weet?

Die verbond van sy genade

In die dae van die aartsvaders het Abram dieselfde vraag gehad. Hy het die Here gevra: Waaraan sal ek weet?[3] God het hom geantwoord deur die genadeverbond formeel en sigbaar met hom te sluit. In die verbond wat God met die mens opgerig het lê dus die antwoord op die vraag: “Waaraan sal ek weet?”

Die verbond is die band waarbinne die mens as skepsel sy Skepper kan ken. In die verbond betrek God die mens om hom te laat deel aan die heerlike gemeenskap wat Hy Drie-enig in Homself het. Die verbond is immers gegrond in die Drie-enige Wese van God[4]. Die goedheid en trou wat God Drie-enig in Homself het word verbondsmatig aan sy kinders toebedeel[5]. Dit wat in die Here verborge is, sy diepste gedagtes wat Hy in liefde aan die mens wil openbaar, kan alleen vanuit sy verbond met die mens geken word[6].

Daarom mag die toekoms alleen verbondsmatig bedink word. Die hoogste sekerheid vir die toekoms word van Hom wat oor die toekoms beskik in genade aan sy kinders geopenbaar. Goedheid en guns is alleen syne om toe te deel. Die verbond alleen leer ons aangaande die wyse waarop Hy dit doen. Wanneer Afrikaners dus die toekoms bedink, en beplan moet Psalm 25:14 die vertrekpunt wees: “Die verborgenheid van die Here is vir die wat Hom vrees, en sy verbond om hulle dit bekend te maak.”

Voetnote

[1] C. van Til, The Intellectual Challenge of the Gospel, p11.

[2] Jeremia 23:23

[3] Genesis 15:8

[4] L. Berkhof, Systematic Theology, p263.

[5] A.L.A. Buys, Eerstelinge van God, p31,40.

[6] K. Schilder. De Reformatie, VI, no 49,3.

  • Theuns de Bruyn is ʼn finalejaarstudent aan die Teologiese Skool op Potchefstroom.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.