Wat is kultuur?

Deur Botha Laubscher

Botha Laubscher

Net voor Kersfees verlede jaar, gooi ek ʼn klip in die bos, met die vraag aan my gesinslede of kultuur geneties is? Ek vergelyk kultuur met instink by diere, neem as voorbeeld sekere honderasse wat unieke gedragspatrone het – is dit aangeleer of aangebore?

ʼn Interessante diskoers volg waar die meeste van my gesinslede oortuig is dat kultuur suiwer aangeleer is en glad nie geneties van aard is nie. Ek wend my tot Google en vind ʼn samevatting van ʼn mediese artikel1) wat soos volg lei: “Cultural inheritance refers to the storage and transmission of information by communication, imitation, teaching and learning. It is transmitted by the brain rather than by genes. However, it does have a genetic basis, the genes involved determining the structure of the brain.”

Ander bronne beweer weer dat ʼn baba sonder enige kultuurgeneigdheid gebore word, maar net soos om ʼn taal aan te leer, geweldig maklik en op ʼn vroeë ouderdom sekere kulturele gebruike aanleer.

Verdere bronne op Google beweer dat die mens altyd onderwerp is aan twee evolusieprosesse, naamlik ʼn genetiese evolusie en ʼn kulturele evolusie. Die kulturele evolusie vind egter vinniger plaas as die genetiese evolusie en eersgenoemde is ook besig om te versnel as gevolg van beter kommunikasie ensovoorts.

Wat is die definisie van kultuur? Hier kry ons baie verskillende definisies en kan jy amper kies watter definisie jy van hou, maar, miskien is een van die meer omvattende definisies om te verwys na kultuur as die kumulatiewe gedeelde denkraamwerk (paradigma) binne ʼn groep mense van wat hulle sien as reg en verkeerd, goed of sleg. Hier moet die woorde reg, verkeerd, sleg en goed in baie wye terme verstaan word. Reg kan beteken wat aanvaarbaar is, hoe dit gedoen moet word, wat lekker is om te doen ensovoorts. Dit dek ook baie verskillende aspekte van die samelewing soos byvoorbeeld taal, die ekonomiese stelsel, werksetiek ensovoorts.

Om kultuur beter te verstaan moet ons kyk na hoe dit gevorm word. Kultuur is die kumulatiewe kennis of suksesvolle gebruike wat oor baie geslagte opgebou is ten einde oorlewing en selfs ʼn voorspoedige samelewing te verseker. Dit is die kumulatiewe oplossings van alledaagse probleme vanaf die tipe klere wat jy aantrek, voedselsoorte wat geëet word, sosiale orde-reëlings ensovoorts. Die invloed van gelowe en omgewing is krities in die vorming van kultuur.

In die lig van bostaande kan kulturele evolusie maklik verstaan word. Almal se kultuur is dus heeltyd besig om te verander en aan te pas afhangend van die omgewing, interaksie met ander kulture, tegnologiese ontwikkeling ensovoorts. Ou oplossings word voortdurend vervang deur nuwer oplossings.

Kultuur is ongelukkig in baie mense se denke beperk tot gebruike wat reeds verouder is en verval het soos byvoorbeeld sekere kleredrag (Voortrekkerrokke), musiek, danse (Volkspele) ensovoorts. Hierdie beperkte siening van kultuur veroorsaak dat verskille in kulturele denke en sieninge tussen verskillende kultuurgroepe maklik tot misverstande en konflik lei, bloot omdat die ander persoon nou dieselfde klere dra as jy, dieselfde kos eet ensovoorts, word daar gedink dat hy ook dieselfde moet dink oor byvoorbeeld die ekonomiese stelsel.

Vanuit bostaande word ʼn paar kenmerke van kultuur uitgelig:

  • Kultuur is groepspesifiek, dit bestaan binne ʼn sekere groep of gemeenskap.
  • Kultuur is die kumulatiewe oplossings wat die betrokke groep, oor baie geslagte heen, op verskeie en uiteenlopende uitdagings ontwikkel het. Dit word van geslag tot geslag oorgedra.
  • Dit is ʼn evolusieproses, dit wil sê dit is nie revolusionêr nie – verander dus stadig en net ten opsigte van dié aspek waar die groep of gemeenskap besluit dat die “nuwe” oplossing ʼn beter oplossing is as die bestaande. Verandering in kultuur kan dus nie van buite af op die groep afgedwing word nie, maar moet evolusionêr deur die groep aangeneem word. Al die menigte van “oplossings” verander ook nie gelyktydig nie – slegs die aspek waar die oplossing beter geag word deur die groep, word verander en word dan geïntegreer met ander bestaande oplossings.
  • Kultuurgebruike/ denke van verskillende groepe is nie noodwendig reg of verkeerd nie, maar die een kultuurgroep sal die ander se gebruike/ denke telkens as verkeerd of onaanvaarbaar vind suiwer omdat dit nie met sy denke en gebruik ooreenstem nie. Hierdie probleem is en was heel waarskynlik die oorsaak van die meeste konflikte en selfs oorloë in die verlede.
  • Mense is in wese slegs vry en gelukkig as hulle binne ʼn gemeenskap en onder wetgewing leef wat in lyn is met hulle kulturele denkraamwerk.

Suid-Afrika se bevolking is saamgestel uit ʼn hele aantal kultuurgroepe. Aangesien baie swart mense oor die jare verstedelik het, waar hulle in noue kontak met ʼn Westerse tipe-kultuur gekom het, het dié mense se kultuur evolusionêr begin om sekere aspekte van die Westerse kultuur aan te neem – sodoende het daar subkulture ontstaan in bykans elke kultuurgroep, wat die kultuurverskeidenheid in Suid-Afrika verder vergroot het.

Vermoedelik is kultuurverskille (lees denkraamwerkverskille) die onderliggende oorsaak van die ANC se faksiegevegte. Dit is ook die rede waarom die koalisieregerings in Suid-Afrika altyd redelik onstabiel sal wees.

In Suid-Afrika is daar eenvoudig te veel verskillende en uiteenlopende kulture om almal in ʼn eenheidstaat, soos tans, te probeer saamsmelt. Dit het nie onder apartheid gewerk nie en die huidige eksperiment het ook misluk. Ons enigste oplossing is ʼn federale bestel, waar die kultuurverskeidenheid van Suid-Afrika erken en gerespekteer word en elke kultuurgroep of sub-kultuurgroep grootliks oor hulself en in lyn met hulle kultuur regeer word. Ons moet eerder naas mekaar leef as onder mekaar. In eersgenoemde geval sal daar respek en eerbied vir mekaar se kultuur gekweek moet word, sodat ons in vrede naas mekaar kan leef. Die alternatief van ʼn eenheidstaat, soos tans, gee aanleiding tot konflik en lei tot vernietiging.

  • Laubscher is afgetrede uitvoerende direkteur van Clover.

Bron:

  1. The importance of cultural inheritance

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

OW ·

Baie goeie skrywe oor die vele aspekte van kultuur.Eerwaarde Allan Hendrikse het in die vroeë 1980’s ‘n konfederasie van state voorgestel maar is summer afgeskiet oor die voorstel.’n Paradigma kan ook ‘n sekere patroon van dinge doen wees,wat binne ‘n verskeidenheid van groepe voorkom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.