Daar is altyd lewende hoop

Reg en Corlia Smith

Augustusmaand is Vrouemaand, die maand waarin ons die vrou vier – ons vier die vlam wat binne haar brand, nie net om ʼn sterk vrou te wees nie, maar ook ʼn sterk mamma, suster, vriendin en bruid van God.

In my gedagtes moet ons eintlik elke dag van elke maand ons vrouwees in Christus vier. Ek wil graag met julle vandag ’n getuienis deel. My pa is sewe jaar en sewe maande gelede skielik oorlede in die see op vakansie. Hy was en is steeds my held. Maar hierdie dag se heldedaad het boekdele gespreek van watter kaliber man my pa was. Hy het my ma uit die see gered.

Gedurende hierdie sewe jaar en sewe maande het die Here so gereeld met my en my sussies en ma gepraat deur tekens, volgepak met liefde en genade asook bevestiging en antwoorde op vrae wat ons gehad het. My ma kuier tans ʼn bietjie by ons, al die pad van Swellendam af, en dit is altyd so lekker om haar in en om die huis te hê, sy vul ons tuiste met ’n sagte vreugde net soos ʼn ma kan.

Een aand na werk deel my ma met my ’n preek wat sy aanlyn geluister het van ds. Lounette Engelbrecht. Sy is self ook ʼn sterk vrouedominee in haar eie reg. Haar preek het plaasgevind in die hartjie van Swellendam by die NG Moederkerk.

Die NG Kerk Swellendam (Foto: Dominique Racki/Pixabay)

Hierdie kerk is op sigself een van die mooiste geboue, of altans tuistes vir Christene, wat ek al ooit gesien het. In 1911 is die kerk gebou, die argitekte was FW Hesse en F Hesse van Kaapstad.

Die inwyding geskied op 10 Julie 1911. Hierdie kerk weerspieël ook Kaaps‑Hollandse kenmerke. Nou dat ek hierdie prentjie geskets het in julle gedagtes… maak jouself tuis in een van hierdie kerk se stoele en luister na hierdie getuienis waar die Here weereens vir ons versekering gee en weereens met my en my ma en sussies praat oor my pa.

Dominee Lounette se preek handel hierdie Sondagoggend oor “die lewende hoop” uit die skrifgedeelte Klaagliedere 3:24: “Die Here is my lewe, daarom hoop ek op Hom.” Hierdie teksvers staan op my pa se grafsteen. Soos wat my ma my vertel oor juis hierdie vers, skiet my oë vol trane want dit staan nie net op sy grafsteen nie, maar dit was ook sy gunstelingskrifgedeelte uit die Woord van God en dit was sy laaste woorde aan my gesin op die strand. Sy laaste woorde was: “Daar is hoop”.

Weereens hier bevestig die Here met sy woord dat hy luister na ons gebede tot ontferming. Dominee Lounette vertel dat wanneer mense op hulle swaarste kry en steeds deur die pyn en seer aanhou aanbeweeg, heers daar ʼn lewende hoop binne hulle. Die volgende skrifgedeelte wat vassteek in my hart se kamers en waarna Dominee Lounette verwys, is 1 Petrus 1 vers 3 tot 6.

Maar voor ons deur die Skrif lees, moet ek eers agtergrond skets. Na my pa se dood was my ma gebreek. Hartseer som nie op hoe haar gemoed was met die afsterwe van my pa nie. Hulle was nie net beste vriende nie, maar werklik sielsgenote. In die oggendure van 1 Januarie 2015, 14 dae na my pa se dood, het my ma op haar kamervloer gaan lê, in haar eie trane, en vir die Here gesmeek om haar te kom haal. Sy wou nie meer aangaan sonder haar geliefde nie. Soms in hierdie oomblikke van rou vergeet mens van die lewende hoop wat binne jou heers. Soms vergeet mens in hierdie donker oggendure van die sterk vrou wat jy eintlik is. Soms voel jy net alleen, hopeloos en hartseer, soveel te meer as jy verlang na iemand wat jy nooit weer sal kan vashou nie.

My ma getuig dat terwyl sy lê en smeek vir die Here om haar te kom haal, hoor sy die Here se stem. Sy sê vir my dat God se stem is die mooiste klank wat sy nog ooit gehoor het. God sê vir my moeder “1 Petrus 1”. My ma is tans in die teenwoordigheid van God hier op haar kamervloer, hier tussen haar trane, kies God om sy stem aan haar te openbaar en Hy herhaal weer “1 Petrus 1”. Die Here het my ma die krag gegee om op te staan en haar Bybel oop te maak en die skrif te lees…

Die lewende hoop en die egte geloof Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Nou het ons ‘n lewende hoop op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel ook vir julle in bewaring gehou word. En omdat julle glo, word ook julle deur die krag van God veilig bewaar vir die saligheid wat reeds gereed is om aan die einde van die tyd geopenbaar te word. Verheug julle hieroor, selfs al is dit nodig dat julle ‘n kort tydjie bedroef gemaak word deur allerhande beproewings sodat die egtheid van julle geloof getoets kan word. Julle geloof is baie kosbaarder as goud, Selfs die suiwerheid van goud word met vuur getoets, en die egtheid van julle geloof moet ook getoets word, sodat dit lof en heerlikheid en eer waardig mag wees by die wederkoms van Jesus Christus. Hom het julle lief, al het julle Hom nie gesien nie. Deur in Hom te glo, al sien julle Hom nou nie, het julle reeds deel aan die saligheid wat die einddoel van julle geloof is. En dit vervul julle met ‘n onuitspreeklike en heerlike blydskap.

My ma sê “God het my kom troos, dit het vir my versekering gegee my liefling is in die Hemel want hier sê God vir my, Hy berei vir ons wat glo, ʼn Hemelse woning voor…” Die Here ontferm hom oor my ma, hy praat met haar, Sy dogter, Sy bruid. Hy doen dit die 1ste Januarie 2015 en weer deur hierdie preek van Dominee Lounette sewe jaar en sewe maande later. Is dit nie net wonderlik hoe die Here homself beskikbaar stel vir ons elke dag nie. Hoe Hy met ons praat deur tekens en skrif as die lewe jou slaan tot op jou knieë. Hoe Hy jou troos wanneer jy bedroef is. Hoe Hy die lewende hoop binne ons laat spoel om ons weer na sy voete toe te bring.

Die realiteit is dinge gaan nie altyd volgens plan verloop nie. Ons reaksie is ons bly kwaad, ons voel ons is ’n slagoffer, die lewe skuld ons iets. So ons raak kwaad vir God of vir mense wat iets aan ons gedoen het. En net soos Petrus hierdie brief vir mense geskryf het, sê hy vir ons daar is iets wat niemand van ons kan wegneem nie en dit is ʼn lewende hoop. Die hoop wat ons het in Christus, dat Hy vir ons sê hierdie lewe is tydelik, maar ons is op pad na sy hemelse tuiste; ons het ’n erfenis wat niemand van ons af kan weg vat nie. Daarom kan jy in hierdie lewe leef, anders as ander omdat jy lewende hoop het.

Die vrae is wel:

  • Hierdie lewende hoop waarom het ek dit nodig?
  • Hoe kry ek dit?
  • En hoe werk dit in ons lewens?

Dominee Lounette antwoord hierdie vrae soos volg:

Waarom het ek dit nodig?

Wat gebeur met mense as hulle swaarkry. Hulle raak lelik en aggressief en trap op ander of hulle gee moed op of hulle het ʼn innerlike hoop wat nie afhang van omstandighede nie. Victor Franklin sê: “Those who have a why to live, can live with almost any how.” Die Woord sê vir ons ons sal enige iets kan hanteer. Ons lewende hoop hang nie af van ons omstandighede nie. Ek weet nie altyd of hierdie lewende hoop genoeg is vir nou en of dit my kan deurdra nie, maar die gebed moet wees dat die lewende hoop net meer en meer word.

Hoe kry jy die lewende hoop?

Omdat Christus Hom oor ons ontferm, het Hy vir ons die nuwe lewe geskenk en daarom het ons ʼn lewende hoop. Glo dit en jy het dit. Glo dat Ek vir jou gesterf het, dat Ek opgestaan het, dat Ek die dood oorwin het en dat Ek vir jou ʼn plek, ʼn erfenis bewaar in die hemel en dit is hoe jy dit kry deur dit te glo. Sê net Here ek staan met oop hande. Dankie vir u geskenk, dankie vir u beloftes, dankie vir u hoop in my.

Hoe werk die lewende hoop in jou lewe?

Ek kan bly wees en my verheug terwyl ek swaarkry. As ek swaarkry kan ek steeds blydskap hê. Daardie hoop binne ons kan so wees dat ek kan bly wees ten spyte van. As mense deur ʼn moeilike tyd gaan, wonder jy hoe maak hulle dit. Hoe doen hulle dit? Dit is iets wat ons nie kan verklaar nie, maar dan dink ek dit is die lewende hoop, want uit jou eie uit kan jy nie. Wanneer jy swaarkry het jy die hoop van die Here so nodig.

Verder verduidelik Dominee Lounette so mooi oor die suiweringsproses van goud waarna daar verwys word in 1 Petrus 1 vers 7. Julle geloof word gesuiwer soos goud gesuiwer word. Goud word gesmelt en warm gemaak, die hitte word dan al warmer en meer toegepas sodat die suiwer goud kan uitkom. So, terwyl die goudsmid kan sien dat daar nog onsuiwerhede is, stel hy die hitte hoër. Terwyl hy besig is met die proses, moet hy heeltyd na die goud kyk, want eers wanneer hy homself kan sien in die goud en daar niks meer onsuiwerhede is nie, dan eers weet hy die goud is reg.

Dit is wat die Here met ons geloof ook doen. Om ons te suiwer. Maar Hy hou die hele tyd sy oog op ons, Hy het beheer oor die hitte in jou lewe, Hy los jou nie net nie. En sy doel is dat jy so gesuiwer moet word sodat Hy homself in jou kan sien. Sodat jy sy beeld sal uitstraal.

Daar is altyd hoop in Christus.

Vroue is die hartklop van ons samelewing. Daar is dikwels goed wat in die pad staan van voluit vrou-, meisie-, suster-, ma- en vriendin-wees. Hierdie goed wat in die pad daarvan staan, kan fisiek, emosioneel en geestelik van aard wees.

Die FroueVonds (met opset verkeerd gespel om aan te pas by ons leuse, “want alles loop nie altyd reg nie”) wil hier ingryp om dié gaping(s) te vul, die brug te bou tot ʼn beter lewe, die kettings van armoede te verbreek wat dreig om te vernietig, sodat vroue wat deur hierdie goed gekeer word, op die ou einde as gesonde vroue in die samelewing kan funksioneer. Gesonde vroue lei tot gesonde gesinne en gesonde gemeenskappe.

Die FroueVonds doen dit deur volhoubare projekte, in samewerking met ander vennote, aan te pak.

Besoek http://www.frouevonds.co.za om te sien hoe jy betrokke kan raak om vroue in Suid-Afrika te bemagtig.

Meer oor die skrywer: René Roux

René Roux is adjunk-uitvoerende hoof en woordvoerder van Solidariteit Helpende Hand.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.