Jý verdien ʼn toekenning

Deur Esmarie Yssel

Esmarie Yssel

Mense is deesdae so trots op hulleself.

Ek dink sosiale media het ons grootliks só gemaak. Ons is amper ongesond op die eie-ek ingestel. Ék het dít vermag, ék het dit of dat gedoen, ék is tog so oulik. Ék, ék, ék.

Dit het nooit vir Jesus oor homself gegaan nie. Hy het geleef – en gesterf – vir ander.

Nee, daar’s niks fout daarmee om trots te wees op jouself, jou prestasies te vier of daaroor te spog nie. Tog het mense wat spog vir my geen aantrekkingskrag nie. Maar dalk moet ons onsself vra of dit alledaags geword het om dít wat ons doen te doen en te bemark vir die aansien van mense.

Daar’s baie mense wat vanjaar soveel verrig het. Só ʼn groot rol in ander mense se lewens vervul het. Wat elke dag klein oorwinnings behaal het. Wat agter die skerms golwe gemaak het, maar misgekyk is en verdien om te hoor: Ek is trots op jou!

Daarom wil ek dit vandag, voor Kersfees 2022, sê:

As jy hierdie jaar ʼn geliefde aan die dood afgestaan het, jy gevoel het of jy nie meer wil of kan voortleef nie, maar jy’t voortgebeur en elke dag opgedaag vir die lewe: Ek is trots op jou.

As jy drome van ʼn nuwe werk koester en wyd en syd gesoek het sonder sukses: Ek is trots op jou.

As jy en jou gesin wil emigreer, maar julle word begroet deur een terugslag op die ander, maar julle hou aan probeer: Ek is trots op jou.

As jy ʼn troeteldierkind aan die dood afgestaan het en jy weet nie hoe om die verlies vir ander te beskryf nie. Ek verstaan en ek’s trots op jou, omdat jy ʼn dier so innig liefgehad het.

As jou kind(ers) meer siek was as wat jy op jou een hand kan tel en jy’t sterk gebly vir hulle, maak nie saak hoe moeg jy was nie: Ek is trots op jou.

As jy self meer siek was as wat jy op jou een hand kan tel en moes aangaan te midde van jou gesondheidsprobleme, omdat jou huishouding eenvoudig nie sonder jou of jou inkomste kan aangaan nie: Ek is trots op jou.

As julle vanjaar ouers geword het, deur al die nuwe uitdagings en aanpassings moes gaan, maar aangemeld het vir elke dag se gewone uitdagings en meer dankie gesê as op die moeilike tye gefokus het: Ek is trots op julle.

As julle sukkel om swanger te raak, maar julle hou moed en bly glo en vertrou dat God se tydsberekening perfek is: Ek is trots op julle.

As jy besig is om deur ʼn uitdagende egskeiding te gaan: Hou moed. As jy reeds deur ʼn egskeiding is en jouself weer van die grond af moes opbou en steeds in die liefde glo: Ek is trots op jou.

As jy vanjaar besluit het om minder te sosialiseer, meer vir ander “nee” te sê en meer vir jouself “ja” te sê, omdat jy trauma moes verwerk: Ek is trots op jou.

As jy al vir jare bid vir daardie iemand spesiaal en vanjaar het wéér een liefdesteleurstelling ná die ander opgelewer, maar jy het nie hoop verloor nie: Ek is trots op jou.

As jy moedeloos gesukkel is met jou gewig en jy kyk terug op hierdie jaar en besef jy’t weer nie genoeg geoefen of jou manier van eet aangepas gekry nie, maar jy’s reg om weer te probeer: Ek is trots op jou.

As jy hierdie jaar in matriek was en deur swoeg, sweet en trane gespanne geleer het om jou skooljaar op ʼn hoë noot te kan afsluit: Ek is trots op jou.

As jy vanjaar ʼn paar keer gevoel het om op te gee toe die depressieduiwel jou in sy gryp beetgekry het, maar jy het nie: Ek is trots op jou.

As jy op die sosialemediaplatforms sien hoe almal om jou met vakansie gaan, maar jy en jou gesin is nie finansieel daartoe in staat om weg te breek nie, ondanks die feit dat jy jaar na jaar deurwerk en smag na vakansie, maar jy byt vas en glo dat vakansie ook binnekort vir julle beskore sal wees: Ek is trots op jou.

As jou gesin finansieel swaar trek, maar jy hou aan koeksisters bak vir ʼn ekstra inkomste om brood en melk op die tafel te sit: Ek is trots op jou.

As jy ondanks jou eie storie steeds daartoe in staat was om met belangstelling na ander te luister, sonder om vir ure aaneen te praat oor jouself, jóú lewe en jóú probleme: Ek is trots op jou.

Jy’t dalk nie ʼn toekenning ontvang vir jou persoonlike deurbrake hierdie jaar nie, maar glo my as ek vandag vir jou sê: Jy verdien ʼn hele paar!

Maar nou weet ek ook dat mense soos jy, wat weet van hard werk en onbaatsugtig dien, nie waarde aan toekennings heg nie, want jy heg waarde aan veel dieper dinge, soos ʼn doelgerigte lewe.

Vandag sê ek vir jou: Ek is trots op jóú. Maar ek hoop dat jy jouself ook geluk gewens het vir die vordering wat jy gemaak en die welslae wat jy behaal het waarvan niemand weet nie.

Mag die wêreld en sy storms nooit jou hart verander nie. Wees geseënd hierdie Kersfees en weet dat God jou raaksien, jou storie ken en beloof om jou ook deur 2023 te dra.

  • Esmarie Yssel is ʼn omroeper en inhoudsregisseur by Pretoria FM.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.