Kruipslag: ‘Op 35 begin ek swem’

Ter illustrasie. Foto: Sven Simon/Picture-Alliance/AFP.

Van swem weet ek nie veel nie. Behalwe dat Tatjana Schoenmaker links en regs medaljes wen en dat meisies van Ryk Neethling hou; selfs wanneer hy pap adverteer.

Oor my eie beskeie vertoning in die swembad is daar nie veel te sê nie. Ek onthou wel dat ek vrek kwaad vir my ouers was toe hulle my destyds by my tjommie se parkie-verjaardagpartjie kom haal het sodat ek by mnr. Gouws kon swemlesse kry.

Die uiteinde van hierdie ontvoering – ek beskou dit as sulks omdat ek teen my wil na ʼn plek geneem is waar ek nie wil wees nie – is dat ek as tienjarige eenkeer derde in die rugslagitem was.

En dit was bloot net omdat een van die vier swemmers in ons “eindstryd” onder die indruk was dat ons vryslag moes swem. Hy is terstond gediskwalifiseer.

Daarom is dit vir my effe vreemd dat ek en my vrou spesiaal weer by ʼn gimnasium aangesluit het sodat ons kan swem.

Ons is dan albei ouer as 30!

Maar 2023 is ons twee se jaar van ongekende fiksheid en ná deeglike oorweging het ons besluit dat swem ʼn mens nie net [hopelik] goed laat lyk nie, dit sal ook my ou brose asmatiese longetjies sterker maak.

Ons het ʼn groot sportkettingwinkel besoek waar ons éérs vir die swembroekpryse geskrik het en tóé gehoop het dat die goedkoopste mediumgrootte-costumes vir ons sal pas.

Een kort YouTube-vryslagvideo later en siedaar: Ons is gereed om die swembadwaters aan te durf!

Die twee dapper leerling-swemmers. Foto: Maroela Media.

By die gimnasium aangekom leer ons die eerste belangrike les: Dit verg leeuemoed net om in die swembad te klim. Want maak nie saak hoe warm hulle op die kennisgewingbord beloof die water is nie, dit bly deksels koud.

ʼn Mens kry sommer nuwe respek vir Jack wat so lank aan daai stuk plank in Titanic kon klou terwyl Rose haar monoloog lewer.

Ek het dapper ingeklim en met ʼn vaart begin hondjieswem; alles in ʼn poging om net weer my arms en bene te voel.

Natuurlik was my oë stokstyf toegeknyp tydens die hele storie en toe ek voel dat ek dit uiteindelik kan waag om dit weer oop te maak, het ek my boeglam geskrik: Ek was dan oënskynlik besig om te verdrink!

“Help, help!” babbel ek terwyl ek rondspartel. Skielik onthou ek dat die swembad nie baie diep is nie en dat ek eintlik sonder enige moeite regop kan staan.

Terwyl ek so grasieus as moontlik my voete probeer vind – daar is immers toeskouers op die nabygeleë trapmeule – kom ek agter dat ek steeds net water voor my oë sien.

“Haal net jou bril af,” hoor ek ʼn engelstem iewers in die verte.

Met bewende – dog manlike hande – gryp ek na my ou brilletjie en die water stroom oor my gesig. Ek het nooit die blêddie ding reg opgesit nie en ʼn liter water (of so het dit gevoel) was tussen die lense en my oë vasgevang.

“Jou weirdo,” sê daardie einste engelstem. Hierdie keer so ʼn bietjie beskuldigend.

Ek kyk rond en sien my vrou waar sy soos ʼn trapsuutjies aan daardie silwer leertjie in die vlakkant klou. Slegs haar voetjies is nog in die water.

“Ek kan nie, dis te koud,” is haar eenvoudige verduideliking.

Nou, ʼn week en verskeie video’s later, droom ons al van die Olimpiese Spele.

Om vir Danie Botha (dalk ʼn bietjie verkeerdelik) aan te haal: “Swemmers, swemmers, swemmers wil ons wees”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.