Life Esidimeni-skandaal bly valse noot op Menseregtedag

Argieffoto (Foto: Bret Kavanaugh/Unsplash)

Vandag vier Suid-Afrika Menseregtedag. Menseregtedag is ʼn dag wat die regte van mense gedenk. In Suid-Afrika word dit as ʼn openbare vakansiedag gevier. Vir my is dit net ʼn vakansiedag, dit is nie ʼn dag wat ek kan vier met ʼn opregte hart soos wat ek byvoorbeeld Geloftedag of Kersfees vier nie. Ek besin al die afgelope agt jaar op hierdie dag oor wat menseregte nou eintlik is…

Vir my beteken die woord “menseregte” dat alle mense in ons land die reg moet hê om mens te wees, om te bestaan. Ek stel dit nou baie eenvoudig, maar dit is waarop dit vir my neerkom. My mensereg is my reg om René Roux te kan wees, om die mens te kan wees wat God in gedagte gehad het toe Hy my met ʼn spesifieke doel geskep het.

Vandag bevind ek my in my gedagtes in die kamer van pasiënt X. Op die kussing waar haar gedagtes rus, staan die naam Life Esidimeni in blou en rooi geskryf. In my gedagtes wandel ek verby haar bed waar sy lê en huil, maar nie kan praat nie. Ek loop verby haar bedtafeltjie en sien ʼn vrot appel. En ek besef: Dit is al wat haar sogenaamde versorgers haar gebied het om te eet, en sy kon nie eens self by die appel uitkom nie. ʼn Mens kan hulle nie eintlik versorgers noem nie, want hulle het haar nie versorg nie; hulle het haar net daar gelos om te sterf. Haar gehuil word al sagter tot dit later wegsterf, want niemand luister nie.

Pasiënt X noem hulle haar, want vir hulle is sy nie ʼn mens nie; sy is net nog een van die dodetal. Ek noem haar *Sandrien, want vir my is sy meer as net ʼn nommer. Sy is ʼn mens – ʼn mens met regte. Aan Sandrien is die universele regte toegeken wat alle mense as vanselfsprekend aanvaar: ras, geslag, ouderdom, geloof en kultuur. Die witskrif oor Sandrien se regte sluit die volgende in:

  • Die reg op gelykheid. Niemand het die reg om teen haar te diskrimineer op grond van onder meer ras, geslag, huwelikstatus, etniese of sosiale oorsprong, kleur, seksuele oriëntasie, ouderdom, gestremdheid, geloof, gewete, oortuigings, kultuur, taal of afkoms nie.
  • Die reg op menswaardigheid. Sy het inherente waardigheid en is daarop geregtig dat dit gerespekteer word.
  • Die reg op gesondheidsorg, voedsel, water en maatskaplike dienste.
  • Die reg op vryheid en sekerheid. Dit beteken dat Sandrien net soos alle ander mense die reg het om vry te wees van alle vorme van geweld van openbare of private oorsprong.
  • Die reg op persoonlike privaatheid
  • Die reg op vryheid van uitdrukking
  • Die reg op toegang tot voldoende behuising

René Roux (Foto: Verskaf deur SHH)

Tog is hierdie regte van die weerlose Sandrien ontneem. Die staat het haar geneem, haar menseregte geïgnoreer, en haar weerlose liggaam is tot vandag toe nog nooit weer gevind nie. Al haar regte is misken – haar menseregte, haar sosiale en ekonomiese regte, en die regte waarop sy as ʼn persoon met gestremdhede kon aanspraak maak. Alles is misken. Haar regte en ook die regte van 144 ander weerlose mense.

Vandag vier ek nie Sandrien se menseregte nie. Vandag huil ek saam met haar geliefdes en die geliefdes van 144 ander slagoffers. Vandag bid en veg ek dat geregtigheid geskied vir hierdie slagoffers wat in die staat se oë net nommers was, nie mense met name nie, slagoffers wat nou elkeen ʼn adres in die ewige lewe by ons hemelse Vader het.

Kom ons stel vandag op Menseregtedag die waarheid soos dit is. In 2016 het die Gautengse Departement van Gesondheid ongeveer 1 400 psigiatriese pasiënte van Life Esidimeni na verskeie nieregeringsorganisasies geskuif. Hulle het dit gedoen om geld te spaar en sonder om die pasiënte se menseregte in ag te neem. Van dié pasiënte is 144 oorlede – 144 mense wat ander mense se oumas, mammas, pappas, iemand se dogtertjie en iemand se seun was, is oorlede aan die hand van die staat.

Vir my is dit hartseer om vandag vir die agste opeenvolgende jaar opnuut te dink aan een van die grootste menseregteskendings ooit in Suid-Afrika. Net die wete dat ons nie sal ophou veg in die hof nie maak my hart rustig. ʼn Hofsaak kan hulle nie terugbring nie, maar dit moet die stemme wees wat hulle nooit gehad het nie, en my stem moet een van daardie stemme wees.

Die geregtelike doodsondersoek gaan steeds voort. Geregtigheid sál geskied. Daarvoor sal ek en Solidariteit Helpende Hand aanhou veg saam met advokaat Gerrie Nel en AfriForum se privaat vervolgingseenheid.

Daar moet nog baie werk gedoen word om menseregte in Suid-Afrika te bevorder en ten volle te beskerm. Menseregtedag is die ideale geleentheid om net weer by die staat te pleit om verantwoordelikheid te neem vir die dood van 144 mense.

Daar sal nooit weer ʼn vrot appel langs Sandrien se bed wees nie, haar oë sal nooit weer vol trane wees nie en haar deurmekaar gedagtes sal nooit weer twyfel of haar medemens haar liefhet nie.

Sandrien, ons gun jou die rus by die Here se voete. Rus sag; ons sal vir jou veg.

  • Mag Sandrien se stem gehoor word. Mag al hierdie slagoffers se stemme gehoor word, al is hulle nie meer hier nie. Geregtigheid móét geskied. Jy kan ons in hierdie saak ondersteun. SMS die woord “geregtigheid” na 45763 (elke SMS kos R2) en Solidariteit Helpende Hand sal jou skakel vir ʼn donasie om te help om die regskostes te dek. Of word deel van die Helpende Hand-familie wat omsien na persone met gestremdhede en vir hulle voorspoed verseker deur opleiding, ontwikkeling en opvoeding.

*Sandrien is ʼn skuilnaam.

  • René Roux is die woordvoerder en adjunk-uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.