Gaan op jou knieë vir gesonder gesinne, vra Dameskring

(Foto: Timothy Eberly/Unsplash)

“Sonder twyfel is dit rondom die gesin en die huis waar al die grootste deugde geskep, versterk en in stand gehou word.”

Só het die destydse Britse premier Winston Churchill oor die belangrikheid van gesonde huisgesinne gesê.

Net so vra die Dameskring, ʼn kultuurorganisasie vir Afrikaanse Christenvroue, vir Suid-Afrikaners om vanjaar weer tydens hulle Biddag vir Gesinne-geleentheid ʼn oomblik stil te staan om te vra vir die herstel van die Suid-Afrikaanse huisgesin.

Volgens dié organisasie word bereken dat net eenderde van die kinders in Suid-Afrika in ʼn gesin met albei biologiese ouers grootword. Gevolglik ervaar ons land grootskaalse geweldsmisdaad, armoede, gebrekkige skoolopleiding en onderprestasie as probleme.

Daarom sê Karin Stoffberg, die Dameskring se dagbestuurslid vir projekte, is dié biddag een van die Dameskring se hoof- nasionale veldtogte waarby al hulle takke sedert dié geleentheid se ontstaan in 2019, betrek word.

“Ons glo die gesin is een van die kosbaarste geskenke wat ʼn mens van God kan ontvang. Daarom is die versterking van die gesin een van ons grootste doelstellings,” verduidelik sy.

“Om te weet dat daar op ʼn gegewe tydperk regdeur die land bewusmaking geskep word en daar stilgestaan word om spesifiek gesinne na die Here op te dra, is iets besonders.”

Volgens Karin word daar veral vir die herstel van gesinswaardes, die heling van gebroke gesinne, wysheid vir jong kinders en die bewaring van die huwelik gebid.

Die Biddag vir Gesinne word vanjaar op 12 Mei, toevallig op Moedersdag, gevier – daarom is dit volgens Karin sommer ʼn dubbele spesiale geleentheid.

Elke Dameskring-tak pak die biddag op ʼn unieke manier aan, dikwels by die kerk waaraan hulle verbonde is.

In Pretoria kan belangstellendes op 12 Mei om 15:00 by die Collage Gemeenskapskerk in Elarduspark byeenkom vir ʼn spesiale vertoning deur die lofsprysingsgroep Onbeskaamd.

Kaartjies beloop R140, en dié vertoning word in samewerking met die Rapportryerbeweging (RRB), wat volgende jaar hul 75ste bestaansjaar vier, aangebied.

Dié organisasie streef daarna om “die Afrikaanse taal, Christelike geloof, geskiedenis en tradisies te ontwikkel, uit te leef, te handhaaf en te bevorder met die jeug en gesonde gesinsbande as vertrekpunt,” aldus hul amptelike webblad.

Cilliers de Kock, die RRB-president, sê dat dié kultuurorganisasie se visie, missie en waardes met dié van die Dameskring strook, daarom is daar besluit om hande vir die geleentheid te vat.

“Hoe sterker die man van die huis is, hoe sterker is die hele huisgesin. Só kan ons ook met passie ons Christenskap en kultuur uitleef,” sê Cilliers.

  • Besoek die Dameskring se webblad of Facebook-blad vir meer inligting.
  • Koop hier kaartjies vir die Dameskring se Biddag vir Gesinne-geleentheid in Pretoria.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.