Nuwe generasie Rapportryers dra nog die boodskap

Nog ‘n uitdunronde vir die Bybelvasvra-kompetisie is afgehandel. Die RRB onthaal die top-10 jaarliks by ‘n oord vir ‘n naweek. (Foto verskaf)

Vir Afrikaanssprekende Christene met ʼn liefde vir die Afrikaanse taal en die Afrikanerkultuur is daar ʼn tuiste: Die Rapportryerbeweging.

Johan Roos, die Rapportryerbeweging (RRB) se president, vertel dat die Rapportryers tans in ʼn oorgangsfase is, daar bruis nuwe bloed deur die beweging se are. Daar is baie jonger lede wat nuwe energie bring en vir Roos is dit ʼn opwindende tyd.

“Ná die negatiewe gevolge van Covid-19, wat ons byeenkomste en aktiwiteite in die wiele gery het, is ons weer op dreef en opgewonde oor die toekoms.”

Van waar, Gehasi?

Die oorspronklike Rapportryers was ʼn klompie perdekommando’s wat met die inwyding van die Voortrekkermonument in Pretoria op 16 Desember 1949 van dwarsoor die land, selfs vanuit die voormalige Suidwes-Afrika en Rhodesië, na Pretoria gereis het met groeteboodskappe, oftewel rapporte.

Aan die begin van 1949 is die Uniale Rapportryer-reëlingskomitee gestig om die vervoer van die rapporte te koördineer. Hierdie rapporte is toe deur perderuiters oor 15 roetes op ʼn aflosbasis deur die onderskeie kommando’s van Rapportryers vervoer. Soos die ruiters by dorpe aangedoen het, is nuwe rapporte in die kommando-bladsakke geplaas.

Benewens die boodskappe oor kultuurstrewes, godsdienstige oortuigings, opvoedkundige ideale en volksdeugde, het elke kommando ook ʼn Bybel in die bladsak geplaas, aangesien dit steeds die rigtinggewende boodskap vir die Afrikaner ingehou het. Hierdie Rapportryer-aantog het roetes van sowat 22 400 km afgelê om hulle waardevolle vrag by die Voortrekkermonument af te lewer.

Die trots van Rapportryerskap het by die onderskeie kommando’s en lede gebly. Op 3 Maart 1950 is daar deur mnr. Hennie Roux ʼn reünie van Rapportryers in die Bloukamer – destyds ʼn luukse restaurant by die Johannesburgse stasie – gereël. By dié geleentheid is spontaan besluit om ʼn Rapportryerklub te stig, wat maandeliks sosiaal sou byeenkom. Die gedagte was dat ʼn kort kultuurboodskap elke maand oorgedra sou word en dat die geleentheid gebruik moes word om nuwe intrekkers na Johannesburg te verwelkom en tuis te laat voel.

Kort voor lank het klubs op ander sentra gevolg. Teen 1960 het die behoefte ontstaan om al hierdie bewegings landwyd te konsolideer. So gesê, so gedaan. Op 12 Augustus 1961 het 35 klubs ʼn kongres in Pretoria gehou en ʼn oorkoepelende liggaam, die Federasie van Rapportryerkorpse (FRK), gestig.

Die FRK het met rasse skrede tot ʼn kragtige organisasie gegroei wat in 1979 uit 15 535 lede in 535 korpse oor die hele Suid-Afrika bestaan het.

Geleidelik, soos die beweging gegroei het, is ʼn behoefte bepaal dat diegene jonger as 35 ander voorkeure en werkwyses as die ouer manne het. Dit was die aanloop tot die totstandkoming van die Junior Rapportryerbeweging (JRB) in 1967. Die algemene praktyk was dat ʼn lid van die JRB, sodra hy die ouderdom van 35 jaar bereik, as lid van die FRK toegelaat is.

Politieke woelinge en veranderinge in die land het die twee organisasies in 2000 genoop om ʼn gesamentlike beraad te hou. Die JRB het sy naam gewysig na die Rapportryerbeweging (RRB), waarna die FRK ontbind en almal deel van die sambreelorganisasie die RRB geword het.

Vandag is daar 20 landwye korpse. Elke korps hou maandeliks byeenkomste, waar die sake van die dag en projekte bespreek word. Die formaliteite word altyd met ʼn gesellige vleisbraaiery afgesluit.

Projekte is prioriteit

Die RRB, AfriForum, Landsdiens en die Voortrekkers het saamgespan en die Kimberley-konsentrasiekamp skoon gemaak. (Foto verskaf)

Die hart van vandag se RRB is sy projekte. Die grootste hiervan is die Bybelvasvra-kompetisie vir laerskoolleerders. Roos vertel dat honderde leerders van Februarie tot Oktober weekliks ure aan die Bybel afstaan, saam met hulle onderwysers en ouers, om al die inligting te memoriseer. Die kompetisie word in Afrikaans en Engels aangebied.

“Daar bestaan geen ander Christelike aktiwiteit waarvan ek bewus is waar leerders vanaf graad 4 tot 7 soveel tyd met die Woord van God deurbring nie. Die inhoud wat hulle leer, is in Afrikaans en daardeur leer hulle korrekte Afrikaanse taalgebruik, spelling en sinskonstruksie uit seker die mees taalversorgde geskrewe werk in die Afrikaanse taal.”

Die Ouboet-projek lê hulle ook na aan die hart. As deel van dié projek word avontuurnaweke vir behoeftige seuns aangebied. Tydens so ʼn avontuurnaweek doen hulle allerhande lekker aktiwiteite saam met die seuns en motiveer hulle.

“Soveel seuns word vasgevang in hulle haglike huishoudelike omstandighede en die gebrek aan ʼn waardige rolmodel in die vorm van ʼn vaderlike figuur. Dit veroorsaak dat hierdie seuns nie hulle volle potensiaal bereik nie en vasval in mishandeling, drankmisbruik, dwelms en pornografie. Ons wend ʼn poging aan om ʼn verskil in hulle lewensuitkyk te maak,” verduidelik Roos.

Korpse reël ook geskiedenisuitstappies vir leerders om toe te sien dat die Afrikanergeskiedenis behoue bly en doen hulle deel om tasbare erfenis op te spoor, te noteer en te bewaar.

Op plaaslike vlak doen die korpse verskeie dinge. Roos vertel dat Newcastle se korps ʼn gedenkmuur vir die Natalse rebelle by Fort Amiel opgerig het omdat daar nêrens erkenning gegee word aan die Natallers se bydrae tot die Anglo-Boereoorlog nie. Die Jakarandakorps deel gereeld kos aan behoeftige families uit en die Bloemfonteinkorps het onlangs aan die herdenkingseremonie by die Vrouemonument deelgeneem.

Lede van Kimberley se Danie Theronkorps druk hulle stempel af met die inhuldiging van gedenkborde by verskillende monumente. Op 12 Mei 2022 het hulle die eerste gedenkbord by die Kimberley-konsentrasiekamp ingehuldig en op 13 Augustus nog een by die Burgermonument te Magersfontein.

Word deel van die beweging

Spandou-korps van Graaff-Reinet het ‘n kranslegging by Gideon Scheepers se monument gehou. (Foto verskaf)

Individue of gesinne kan as lede van die RRB registreer. Hoewel die organisasie histories uit mans bestaan, is vroue ook welkom. Daar is trouens al ʼn vrouekorps in Pretoria gestig. “Party korpse bestaan nog net danksy die dames se betrokkenheid,” skerts Roos.

Daar is 10 mense aan die stuur van die Rapportryers, raadslede wat uit hoofsaaklik jonger manne bestaan, met ʼn paar swaargewig ouer mans vir balans en kontinuïteit.

Die jong bloed skep vertroue en selfs gemoedsrus, meen Roos, dat die RRB gedurende die volgende paar jaar werklik sal groei en nog duideliker sy stempel op die Afrikanerkultuur, tot voordeel van almal, sal afdruk.

By die Rapportryers kry jy kameraadskap en gesellige samesyn, sê Roos. Jy kry die kans om deel van ʼn span te vorm en diensbaar in jou gemeenskap te wees. Jy kan jou kultuur en liefde vir jou land en taal uitleef. Jy word deel van ʼn kring waarbinne Christelike waardes en samehorigheid voorop gestel word.

Kortweg, om onbevange Afrikaans te wees, saam met eendersdenkende mense. “Ons wil graag ʼn hand van vriendskap na almal in ons land uitreik en deelnemende burgers wees. Ons wil graag sien dat ons beweging in samehorigheid groei tot voordeel van almal in ons pragtige land Suid-Afrika.”

  • Besoek gerus RRB se webwerf vir meer inligting oor die beweging se projekte of om uit te vind hoe om aan te sluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Republikein in die Wes Kaap ·

Ons politieke oorlewing is nou van groter belang. Kom met nuwe oplossings vorendag. Indien nie, sal die meerderheid van al daai kinders eendag emigreer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.