Oom Herrie se kerrie: Jannetjie se kreef

Argieffoto (Pixabay)

Jannetjie se glimlag dié oggend was spontaan en groot. In sy hand piekel hy seker die grootste kreef wat hy nog gesien het. Dié het hy vroegoggend uit ’n rotspoel gehaal.

Vroeër dae was Jannetjie ’n voorste “poacher” en soos ’n vis in die water. Tot daai noodlotsdag toe ’n fratsgolf hom teen die rotse vasgeslaan het net mooi toe hy uit die see geklim het. Sy linkerbeen sou nooit weer regkom nie. Van toe af moes hy maar aas wat hy met die hand of ’n net uit rotspoele kon kry.

Jannetjie wikkel so vinnig as wat sy mank been hom toelaat in die rigting van sy huisie teen die randjie van Herrie se Baai. Maar dié oggend slaan die noodlot toe, in die vorm van ’n polisieman wat vroegoggend gaan kyk het of hy nie perlemoensmokkelaars in die hande kan kry nie.

“Ai oom Jannetjie, lat ek oom vanoggend met ’n kreef moet vang! Nogal ’n grote, by the way.”

Jannetjie dink so vinnig hy kan, maar kan met geen wettige verduideliking vorendag kom nie. Dis toe dat hy ten einde raad die ou grappie probeer, en hoop dat John, die polisieman, dit nog nooit gehoor het nie.

“Nei man, dis nie ’n wille kreef die nie. Dis Pietertjie, die kreef wat ek al van hy net ’n duim groot was, grootgemaak het.”

Sowaar het die polisieman daai storie nog nooit gehoor nie, maar dit beteken nie hy glo vir Jannetjie nie.

“Nou moet djy bewys daai kreef is mak.”

“Sien, ek bring elke oggend vir Pietertjie see toe en dan laat ek hom ’n ruk swem. Dan roep ek hom weer en ons gaan huis toe.”

“Nou lat ek sien,” seg John.

Met ’n swaar hart laat los Jannetjie die kreef in die vlak water. “Pietertjie” laat nie op hom wag nie, en sit af dieper see in.

“Nou toe, roep vir Pietertjie,” sê John ongeduldig.

“Pietertjie?” vra Janneman kamma verbaas. “Ek ken nie ’n Pietertjie nie.”

Kopskuddend stap John weg, maar toe hy omkyk wil hy tog lag kry. Jannetjie het sy broek opgerol, en kloof deur die branders. Kort-kort roep hy smekend: “Pietertjie!”

Pietertjie blyk nie baie intelligent te wees nie. Hy laat hom die tweede keer die oggend vang, maar die tweede keer is daar genoeg weerwraak ingebou … hy kry Jannetjie aan die groottoon beet, en dis sommer pure bloed.

John maak of hy niks sien nie, en verkas.

En Pietertjie het lekker gesmaak al het die groottoon so pynlik geklop.

Die storie het iewers aan die Weskus afgespeel, waar daar natuurlik ook nie ’n Herrie se Baai is nie. Trouens, vandag is daar nie meer ’n Herrie se Baai nie, maar daar was een. Dis die ou naam van Hawston, naby Hermanus, wat op sy beurt eers Hermanuspietersfontein geheet het. En dis regtig perlemoenwêreld.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae