Ses wenke vir suksesvolle aanlyn studies

Deur Iliz-Mari de Beer

Argieffoto (Foto: StartupStockPhotos/Pixabay)

Met die vinnige ontwikkeling van tegnologie en na aanleiding van die Covid-19-pandemie, was universiteite onder druk om te herstruktureer. Gevolglik was daar ʼn drastiese toename in keuses met betrekking tot aanlyn kursusse, wat gelei het tot die toenemende gewildheid van aanlyn studie.

Aanlyn studie het gewild geword, wat studente die moontlikheid bied om op enige plek, teen hul eie tempo, te studeer. Die buigsaamheid en gerief wat aanlyn studie bied, hou egter soms uitdagings in soos om gemotiveerd te bly en tyd doeltreffend te bestuur. Dit is dus baie belangrik om effektiewe strategieë in plek te hê om daarmee die suksesvolle voltooiing van jou aanlyn studies te verseker.

Uit persoonlike ervaring en navorsing kan daar eerlik getuig word dat die internet ʼn magdom hulpbronne en riglyne bied rondom die geheim van suksesvolle aanlyn studie, maar dat alles saamgevat kan word in die volgende.

  1. Beplan, organiseer en skep ʼn studieplan

Die daarstel van ʼn studieplan is van kardinale belang vir die suksesvolle voltooiing van jou aanlyn studies. Maak ʼn rooster wat jou studietye, opdragte en toetse duidelik uiteensit. Deur te beplan, ʼn struktuur te hê en georganiseerd te wees kan jy jou tyd doeltreffend bestuur en verseker dat jy al die werk wat van jou verwag word, binne die voorgeskrewe tydperk, voltooi.

  1. Stel realistiese doelwitte

Breek groot take op in kleiner, hanteerbare dele en vier jou suksesse, al is dit net met ʼn roomys. Deur realistiese doelwitte te stel, sal jy gemotiveerd bly, stresvlakke in toom hou en uitbranding voorkom.

  1. Skep ʼn produktiewe studieomgewing

Skep ʼn studieomgewing waar jy min afleidings het en rustig kan konsentreer, veral as jy aandagafleibaar is. Vermy afleidings soos televisie kyk, sosiale media en toestelle, soos byvoorbeeld ʼn Xbox. Kies ʼn plek met goeie beligting en ʼn lessenaar met ʼn gemaklike stoel. Deur ʼn produktiewe studieomgewing te skep, sal jy beter in staat wees om op jou kursusmateriaal te fokus en produktief daarmee om te gaan.

  1. Kommunikeer

Daar is ʼn ou gesegde: “Kommunikeer of kom in die moeilikheid”.

Die regte gesegde is dalk ʼn bietjie meer kras, maar stel basies dat kommunikasie die sleutel tot sukses binne enige omgewing is, hetsy in die werkplek, gedurende studie of in ʼn verhouding.

Kommunikasie is dus ʼn baie belangrike deel van aanlyn studies aangesien dit jou ondersteuning bied: dit help jou om vrae te vra, om probleme aan te spreek, om probleme op te los. Maak seker dat jy in kontak bly met jou dosente en medestudente deur gebruik te maak van e-poskommunikasie, forums, of ander kommunikasiemiddele wat deur jou kursusverskaffer beskikbaar gestel word.

Deur aktief betrokke te bly, kan jy hulp kry om jou studiemateriaal selfs beter te verstaan, sou dit nodig wees.

  1. Vorm ʼn studiegroep en vind ʼn ondersteuningstelsel

Oorweeg dit om ʼn studiegroep met medestudente te vorm. ʼn Studiegroep bied die geleentheid om kennis en idees uit te ruil, om mekaar sodoende in die leerproses te ondersteun. Deur met ander studente saam te werk, kan moeilike konsepte makliker verstaan en uiteengesit word en nuwe maniere vir probleemoplossing gevind word. Studiegroepe dien dus as ʼn motiveringsomgewing wat stresvlakke help beheer en produktiwiteit verhoog.

  1. Bestuur jou tyd doeltreffend

Doeltreffende tydbestuur is van uiterste belang vir die voltooiing van jou aanlyn studie. Stel ʼn realistiese skedule op en wees streng met jou tydsbeplanning. Maak ʼn lys van prioriteite en identifiseer die belangrikste take wat gedoen moet word. Werk rustye en klein belonings in wanneer doelwitte bereik word . Deur jou tyd doeltreffend te bestuur en nie toe te laat dat afleidings jou pootjie nie, sal jy die werkslading kan hanteer, sonder om jouself uit te brand en moedeloos te raak.

Wees toegewyd, gemotiveerd, doelgerig – en jy sál die vrugte van jou harde werk pluk.

  • Iliz-Mari de Beer is ʼn dosent in kommunikasiekunde by die APA.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.