Waarmee is jy só besig?

(Foto verskaf)

Deur Rosa Duvenhage

If the devil cannot make you do bad things, he will make you busy. Pastoor Adrian Rogers

Dit is ʼn pikdonker Maandagoggend aan die begin van Augustus. Die enigste teken van dagbreek, is die wasige pienk skynsel van die Outeniquaberge teen die horison. Soos die meeste ander oggende balanseer ek alles wat moet saamgaan werk toe in my linkerhand. Ek hang my rekenaar oor my regterskouer en vat my sleutels en lewensnoodsaaklike oggendkoffie in dieselfde hand. Ek weet al presies hoe om skuins te draai om met my pakkasie deur die deur te pas. Ek skakel die lig af met my elmboog en trek die deur agter my toe met my voet.

Baie tevrede met myself vang my oog die potplant op die stoep en ek maak ʼn nota iewers in my kop dat ek die plantjie moet water gee. Die week ontaard in ʼn resies en die volgende paar oggend is ek vaagweg bewus van die potplant, terwyl ek met die spoed van wit lig daar verbyhol.

Donderdag sus ek my gewete deur ʼn aantekening te maak dat ek die plant moet water gee as ek by die huis kom.

Saterdagoggend stap ek uit op die stoep met my stomende koffie en nog voor ek in die rigting van die potplant kyk, weet ek reeds wat die skade gaan wees.

Ek sit dadelik my koffie neer en gaan haal water vir die verwaarloosde plantjie. Terwyl ek met skuldige hande die verlepte plantjie water gee, ryg ek sommer ʼn string verskonings uit, asof die plant sal verstaan hoe besig my week was.

Terug op die bank met my koffie, dink ek aan die woorde van Jackson Brown, jr.: “Remember that children, marriages and flower gardens reflect the kind of care they get…

Hierdie baie waar woorde, wat effens bitter op my tong voel vanoggend, laat my dink aan ʼn berig wat ek onlangs oor taal gelees het. Die interessante ding van taal is dat dit ʼn manier het om te kom en te gaan. In 2019 het ons ewe skielik die woorde virus, sosiale afstand en pandemie begin gebruik. Die omstandighede in die wêreld het ʼn klimaat geskep waar die woorde binne konteks gebruik kon word. Intussen het die klimaat weer verander, die ergste is verby en die woorde word minder en minder gebruik.

ʼn Woord wat egter bo-aan die wêreld se mees gebruikte woordelys is, is die woord besig. Dit het ʼn modewoord geword wat al hoe meer en meer gebruik word juis omdat die wêreld ʼn klimaat skep waar besig-wees die norm is.

Kinders is te besig om te speel. Mammas is te besig om hul kinders op te voed. Pappas is te besig om hulle huishoudings te bestuur. Die kerk is te besig om die armes te versorg. Die regering is te besig om te luister. Ons almal is te besig, só besig dat ons die belangrikste ding verwaarloos: ons verhouding met die mense rondom ons.

Ons woon langs ʼn aftreeoord. Die mense van die aftreeoord is ook besig. Sommige van hulle is besig om te wag vir hulle kinders wat kom kuier, vir iemand om ʼn geselsie te maak, vir die bure wat kom koffie drink. Ander se parkeerplekke is leeg, die deure is toe en die kuiergaste skaars. Die dae sleep hulle voete en soos in Prediker geskryf staan, kom alles tot niks.

Dit is ʼn realiteit wat vir die meeste van ons wag. Daar gaan ʼn tyd kom wat ons almal se lewens die vrugte gaan dra van die verhoudings waarin ons belê het. ʼn Tyd wat jou ure op kantoor, jou bankbalans en jou titel geen waarde gaan dra nie.

Ons het ʼn vriend wat ʼn baie interessante teorie het oor die lewe. Hy vertel dat hy nie seker is oor hemel en die lewe na die dood nie, maar een ding waaroor hy wel seker is, is dat hy gaan voortleef in die mense rondom hom se gedagtes en stories. Vir hom lê die waarde van die lewe in die verhoudinge wat hy bou, die dinge wat hy weggee en die tyd wat hy afstaan aan die mense rondom hom.

Rosa Duvenhage.

Teen ʼn restaurant se muur het ek eendag ʼn slagspreuk gelees wat my in my spore gestuit het. Daar het gestaan: “If the devil cannot make you do bad things, he will make you busy!” Hoe belangrik is die dinge regtig waarmee ons onsself so besig hou? Wanneer laas het jy stil gestaan en gekyk na jou tuin, jou huwelik en jou kinders? Die drie goed wat nie jok oor die hoeveelheid aandag, tyd en liefde wat hulle kry nie.

Wat sou dit van my gevat het om net een oggend my pakkasie neer te sit en vir my plantjie water te gee? Om te gaan koffie drink by die tannie met die toe deur en die leë parkeerarea? Om te vergeet van ʼn deurmekaar kombuis en die wasgoed op die draad, en te luister na my tiener se skoolstories?

Soms is dit nodig om gekonfronteer te word deur ʼn verlepte plantjie op jou stoep, wat die direkte oorsaak van jou besige lewe is.

Om op ʼn helder Saterdagoggend, in die eerlike winterson, voorraadopname te neem van jou lewe en twee keer te dink oor woorde soos besig, moeg en later wat so maklik by jou mond uitkom.

Soms is dit nodig om alles wat jy balanseer, wat jou hande so vol maak, neer te sit. Om die bossies in jou tuin uit te roei. Om saam met jou kinders te kuier en te lag. Om op jou man se skoot te sit en te weet jy is besig met dinge wat groter en wyer en dieper is as nou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Patch ·

Uitstekende skryfstuk. Ek is skuldig aan die alledaagse haas en besig wees

Delia ·

Sjoe, baie waar. Besig wees, is n mode deesdae en almal wil so graag in die mode wees

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.