Wanneer die Suiderkruis verdrink

Deur Albi Prinsloo

suiderkruis

Suiderkruis. Foto: En.wikipedia.org

Daar is iets sinister aan ʼn hospitaal skuins vóór vyf in die oggend.

Die skemer hol-oog gange. Die moedige geratel van ʼn drupstaander op pad na die badkamer langs ʼn vooroor gekrimpte kamerjas.

Engele in uniform wat ligweg verby jou swiep. Mona Lisa-glimlaggies. Skoensole wat sjief-sjief op ʼn spieëlblink vloer. ʼn Klokkie wat iewers in ʼn kamer roep.

Die Berco-seephouer langs die wasbak in Saal F fluister sorg: hier kyk ons na jou, stik ons jou weer aanmekaar. Maak ons jou beter.

Dis deel van ons vasklou aan die lewe. Soos die narkotiseur se vrae voor ʼn gedwonge oorgawe aan ʼn droomlose onbewustheid. Dit waarin die noodlot jou sonder teëspraak gaan toevou: “Wanneer laas het jy geëet of gedrink?” “Allergies vir iets?”.

En tog so alledaags soos die Wiesenhof-koffiewinkel wat eens deel was van byna elke hospitaal se ingangsportaal.

Wanneer jy daagliks waak langs ʼn geliefde wie se toestand toomloos glip tussen hoop en wanhoop, word jou vertwyfeling één met die van ander. Herken jy jou woordeloosheid in hulle oë. Deel ons almal in die ritme van ons menslike broosheid.

Ook in elkeen se oornagtas vol verhale.

Die eiendomsagent wat angstig wonder of haar kliënt al die kontrakkie geteken het.

Die boer duskant Delmas wat wil boorde toe – voor dit ryp.

Die mooi vrou in haar vyftigs. Saans, as almal slaap, haal sy haar selfoon saggies uit die laai. Haar woorde bloot ʼn herhaling van die vorige aand: “Engel, waar is jy..?”

En dan is daar BJ.

Bee-Jay. Hoësorg. Nierversaking. Die drup aan sy bruingebrande hand lyk onvanpas. ʼn Dun buisie tussen aar en ontslag. Sy naelstring na vryheid.

Hy vertel graag van sy staptog in die Luangwa-vallei. Net hy en die spoorsnyer, Pepokae. Die keer toe hy gedink het hy dit wraggies nie gaan maak nie. Maar hier lê hy, jare later, om die storie wéér te vertel.

Dit was skuins voor Kersfees. Reënseisoen. Die wolke was heeldag dreigend, maar dis eers laatmiddag, op pad terug, dat die hemel sonder genade oor hul oopbreek. Daardie nag, sê hy, het die Suiderkruis verdrink.

In die gietende vlae het elke bos en boom later dieselfde gelyk: onbekend.

Vroeg die middag is hulle verby ʼn trop leeus en dit het BJ onrustig gestem. G’n vlammetjie sou aan deurnat hout lek nie.

Uit radeloosheid het hy en Pepokae hulle sit gekry in die oopte van ʼn uitgetrapte bospaadjie. Rug aan rug. Gewag vir die eerste lig. Met tye, as die reën draai, het hy hom verbeel hy hóór vuilbaard se rasper-asemhaling. Sommer híér, naby.

Toe die eerste skemerstrale die horison breek, het hulle aanstaltes begin maak.

Om hulle het die leeuspore geil gelê. En dáár, skaars ʼn asemuitblaas ver van sy eie agterstewe se merke in die paadjie, het die leeu se kwispelstert sowaar ʼn diep V in die modder oopgeskraap…

Deur die toegetrekte gordyne van Saal F breek óók ʼn nuwe dag. Iewers word ʼn baba die lewe in gelig. Iewers sterf iemand met oop oë.

Die lewe word immers nie gemeet aan hoe lank ons leef nie.

  • Albi Prinsloo is ‘n afgetrede joernalis. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

OW ·

Baie goed geskryf.Die hele skrywe gee my ‘n sinister beeld van metafore.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.