Wêreld-oseanedag: Beter bestuur word vir oseane gevra

Die Twee Oseane-akwarium is een van die Kaap se gewilde toeristeaantreklikhede. Foto: Two Oceans Aquarium via Facebook

Oseane bedek 70% van die aarde se oppervlak, maar omdat baie van ons die grootste deel van ons lewe op land deurbring, is die 362 miljoen vierkante kilometer blou daar buite nie altyd deel van ons alledaagse belangstelling en betrokkenheid nie.

Só skryf vier professore van drie Amerikaanse universiteite in ’n gesamentlike artikel in The Conversation ter herdenking van Wêreld-oseanedag wat vandag aan die bod kom. Die artikel van proff. Jennifer Silver, Leslie Acton, Lisa Campbell en Noella Gray is deel van ’n reeks artikels wat verskillende aspekte van die oseane belig. Die titel van hierdie artikel is “How a global ocean treaty could protect biodiversity in the high seas”.

Hoewel dit groot is, is die oseane beslis nie leeg nie. Hulle wemel van die lewe en is verbind met die samelewing deur geskiedenis en kultuur, skeepvaart en ekonomiese aktiwiteite, geopolitiek en ontspanning.

Maar oseane – saam met mense aan die kus en mariene spesies – is kwesbaar, en goeie bestuur daarvan is van uiterste belang om hierdie ruimtes te beskerm teen besoedeling, oorbevissing en klimaatsverandering, om maar net ’n paar van die bedreigings te noem.

Die afgelope aantal jare het verskeie probleme wat oseane onder menslike druk ervaar, of begin ervaar weens menslike bedrywighede, die nuus gehaal. Besoedeling, en in die afgelope ruk veral weens plastiek wat in die see beland en seelewe bedreig, is maar een hiervan. Daar was selfs berigte oor reuse-plastiekeilande wat ronddryf, wat gewoonlik darem net verwys na gebiede waar plastiek in hoër konsentrasie as gewoonlik ronddryf, die verwarming van die see, die toename in suurgehalte, oor-ontginning en uitbuiting, en vele meer.

Die Verenigde Nasies speel ’n sleutelrol in die bestuur van die oseaan en die VN se Konvensie vir die Seereg (UNCLOS) is ’n belangrike internasionale ooreenkoms. Die ooreenkoms verleen aan kus- en eilandstate gesag oor stroke van die oseaan wat tot ongeveer 200 km vanaf die kuslyn strek. Dit word eksklusiewe ekonomiese sones (EEZ) genoem.

Lande verleen die jurisdiksie daaroor en delegeer gesag aan staatsagentskappe wat die monitering, bestuur en handhawing in hierdie gebiede hanteer.

Die oop see is belangrik vir internasionale handel, vissersvlote en ondersese telekommunikasiekabels, en dit is ook van kommersiële belang vir mynmaatskappye. Die oop see het ’n groot verskeidenheid ekostelsels en spesies. Baie hiervan word onderskat of is heeltemal onbewese. Die seebodem word afsonderlik geïdentifiseer en die “gebied” genoem. UNCLOS en ander internasionale regulasies reguleer aktiwiteite in hierdie ruimtes en is daarvoor verantwoordelik om te verseker dat geen enkele land of maatskappy onbillik oorheers of bevoordeel word nie.

Ander multilaterale sektorgebaseerde reëlings bestuur veral ingewikkelde hulpbronne.

’n Gaping bestaan egter op die gebied van biodiversiteit. Tans is die internasionale reg nie sinvol vir die monitering en bewaring van biodiversiteit in die see nie. Hierdie “gaping oor biodiversiteitsbestuur” is die afgelope twee dekades kommerwekkend.

Sonder ’n bindende meganisme onder die internasionale reg is lande nie verplig om saam te werk aan die ontwikkeling en toepassing van bewaringsmaatreëls in die diepsee nie. Daarbenewens is die monitering van die gevolge van verskillende ekonomiese aktiwiteite, soos visvang en mynbou, op biodiversiteit onvoldoende. Mariene spesies of selfs hele ekosisteme kan verlore gaan voordat ons die kans gehad het om dit te identifiseer en te verstaan.

Die Algemene Vergadering van die VN het op 24 Desember 2017 gestem om ’n meerjarige proses te belê om ’n verdrag te ontwikkel oor die bewaring en volhoubare gebruik van mariene biologiese diversiteit van gebiede buite die nasionale jurisdiksie.

Drie van die geskeduleerde onderhandelingsessies het plaasgevind, terwyl die vierde en laaste een, wat beplan is vir Maart 2020, weens die Covid-19-pandemie uitgestel is. Vordering is egter wel gemaak.

Het die uitstel van die laaste onderhandelingsronde die onderhandelinge oor biodiversiteit rakende die seewier in die wiele gery?
Afgevaardigdes en onderhandelaars moet egter altyd toegewings maak tydens gesprekke, en meningsverskille duur voort nadat die verdrag onderteken is.

Die inwerkingstelling daarvan kan net so uitdagend en omstrede wees soos onderhandeling self.

Lees gerus ook die artikel van twee Suid-Afrikaners wat vandag in The Conversation opgeneem is, “Exploring the Indian Ocean as a rich archive of history – above and below the water line”. Die skrywers, Isabel Hofmeyr en Charne Lavery, albei van die Universiteit van die Witwatersrand, neem onder meer die geskiedenis van Oos-Afrika en blootstelling aan legendariese Oosterse beskawings, soos die Chinese ryke van die Ming-dinastie, Persië en Indië, die ontstaan van Swahili en vele meer in oënskou.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.