1910: Die ‘Groot Avontuur’ van Uniewording

Die eerste kabinet van die Unie van Suid-Afrika. (Foto: Af.wikipedia.org)

Op 31 Mei is nie net die Vrede van Vereeniging in 1902 gesluit nie, maar die Unie van Suid-Afrika is ook op daardie datum in 1910 gevorm en die Republiek van Suid-Afrika 51 jaar later, in 1961.

Lord Sydney Buxton, die Unie van Suid-Afrika se tweede goewerneur-generaal, het die Unie beskryf as die “Groot Avontuur”, gebore in ʼn tyd van groot emosie.

Toe daar met samesprekings oor selfregering begin is, het Jan Smuts in 1906 aan Winston Churchill geskryf dat Suid-Afrika ná die storms en omwentelinge van die verlede rustigheid nodig het.

“Maar dit kan net verkry word deur die uitskakeling van alle geregverdigde redes tot ontevredenheid en die onvoorwaardelike toepassing van die liberale beginsels op die regering van die nuwe kolonies; deur aan die mense van die land ʼn regverdige en billike grondwet toe te staan waaronder hulle hul eie saligheid kan uitwerk.”

Smuts se ontmoeting met Brittanje se eerste minister, sir Henry Campbell-Bannerman, sou die gang van Suid-Afrika se geskiedenis bepaal. Soos Smuts jare later geskryf het:

“Ek het daardie aand in Downingstraat 10 ʼn eenvoudige saak aan hom gestel. Dit het daarop neergekom: wil julle vriende of vyande hê? Julle kan die Boere as vriende kry en hulle het al bewys wat die gehalte van hul vriendskap kan wees. Jy kan kies om vyande van die Boere te maak en waarskynlik met nóg ʼn Ierland opgeskeep sit. As jy in vryheid glo – dit is ook hul oortuiging en hul geloof.”

Die vier kolonies vergader oor grondwet

Jan Smuts in Pretoria en John X. Merriman in Kaapstad was die belangrikste argitekte van die politieke eenwording van die vier kolonies, naamlik Transvaal, Oranje-Vrystaat, Natal en die Kaap. Hulle het van die begin af besef dat oudpresident Steyn van die Vrystaat se steun baie belangrik sou wees, omdat hy ná die Anglo-Boereoorlog die Afrikanerleier met die grootste aansien was.

ʼn Nasionale konvensie is in 1908 gehou om ʼn grondwet vir ʼn Unie van Suid-Afrika op te stel. Afgevaardigdes van al vier kolonies het tussen Oktober 1908 en Mei 1909 in Durban, Bloemfontein, Kaapstad en Pretoria byeengekom.

Die drie belangrikste sake was die kwessie van stemreg vir swart en bruin mense, die kwessie van die amptelike tale en die keuse tussen ʼn unitêre en ʼn federale stelsel en tussen ʼn buigsame en onbuigsame grondwet.

Regter J.B.M. Hertzog het hom op die taalkwessie toegespits. Hy het gelyke vryhede, regte en voorregte vir Engels en Hollands voorgestaan. Volgens een verslag oor die debatte by die konvensie was die Engelssprekendes so onthuts dat die debat verdaag moes word.

Die mees dramatiese oomblik by die konvensie was toe Steyn toetree. Hy het, soos die gewoonte was, na die Boere en Britte as verskillende rasse verwys en die afgevaardigdes gevra om “die duiwel van rassehaat” wat die land reeds so lank teister, uit te wis. Die manier om dit te doen, is om die twee tale op ʼn volkome gelyke voet te plaas – in die parlement, die howe, die skole, die staatsdiens, oral. Smuts en Merriman het stilgebly. In sy dagboek meld F.S. Malan, wat tot op daardie tydstip nie ten gunste van volledige tweetaligheid was nie, dat hy tot trane beweeg is.

“Ek moes my trane herhaaldelik afvee en het byna beskaamd gevoel oor my weekmoedigheid.”

Die konvensie het Hollands (eintlik maar Afrikaans) en amptelike meertaligheid erken. Dit maak van 20 Oktober 1908 dus ʼn groot datum in die geskiedenis van Afrikaners, maar ook van Suid-Afrika.

Onder die afgevaardigdes was daar verskille oor die vraag of die kolonies ʼn federasie of unie moes vorm. Hulle het eindelik op ʼn unitêre, meestal buigsame konstitusie volgens die Britse Westminster-model besluit, sonder inagneming van die feit dat ʼn diverse en kleurbewuste samelewing soos Suid-Afrika ʼn ander stelsel vereis om versoening te bevorder.

Die belangrikste eienskap van dié stelsel is dat dit mag in die sentrum konsentreer en die parlement, eerder as die Grondwet, soewerein maak. Dit moedig ʼn wenner-vat-alles-houding aan, wat in heterogene samelewings etniese of rassewrywing vererger. Verkiesings sou volgens die kiesafdelingstelsel gehou word. Daar is geen beloning ingebou vir koalisievorming of konsensus soek nie.

Dit was eers nadat die Grondwet aangeneem is dat ʼn leier soos Merriman twyfel oor die stelsel uitgespreek het. In ʼn brief aan Steyn het hy dit betreur dat hulle nie groter druk uitgeoefen het vir die Switserse stelsel eerder as die stereotipe stelsel wat wel aangeneem is nie. Die Switserse stelsel is gegrond op die proporsionele stemreg en moedig die bou van koalisies en die soeke na konsensus aan. Sodoende word die beskerming van minderhede in die hand gewerk.

Die Konsepgrondwet is deur al vier kolonies goedgekeur en is as ʼn wetsontwerp aan die Britse parlement voorgelê, wat dit ongewysig aanvaar het. Dit is in die merkwaardige kort tydperk van minder as agt maande opgestel – dit het Kanada drie jaar en Australië tien jaar gekos om hul federale grondwette op te stel.

Die Unie verrys as simbool van vooruitgang

Op 31 Mei 1910, presies agt jaar nadat die Vrede van Vereeniging (wat die Anglo-Boereoorlog beëindig het) onderteken is, is die Unie van Suid-Afrika gebore. Die Britse regering het lord Herbert Gladstone aangewys as die eerste goewerneur-generaal van die Unie – die verteenwoordiger van die Britse koning. Planne vir feeste oral in die land is afgelas omdat die Britse koning, Eduard VII, kort tevore oorlede is.

Louis Botha, die Transvaalse leier, is as eerste minister in die Ou Raadsaal in Pretoria beëdig. ʼn Aantal genooides en die pers was teenwoordig. ʼn Paar weke tevore het Gladstone vir generaal Botha gevra om ʼn regering saam te stel. In die kabinet was drie Transvalers, vier Kapenaars, twee Vrystaters en twee Natallers.

Botha was die verpersoonliking van die hele beweging – ʼn sterk geboude man en ʼn suksesvolle boer wat, soos Koos de la Rey en Christiaan de Wet, groot onderskeiding as ʼn militêre leier verwerf het. Vir Jan Smuts, sy grootste bondgenoot in die regering, was Botha ʼn “kolossale” figuur, ʼn man met groot persoonlike magnetisme wat hom ʼn houvas op mense gegee het wat groter was as enige ander vorm van mag. Smuts was, anders as Botha, geneig om ʼn afstand tussen hom en ander mense te hou.

Met Uniewording in 1910 het ʼn gesentraliseerde staat tot stand gekom. Provinsiale rade sou wel seggenskap hê oor onderwys, hospitale, paaie en munisipale sake. Oor die hoofstede was daar ʼn kompromis. Kaapstad sou die wetgewende, Pretoria die uitvoerende en Bloemfontein die geregtelike hoofstad word.

Daar was toe nog nie ʼn parlement nie. Die verkiesing was eers op 15 September. Met die eerste parlement se eerste sitting in Kaapstad is ʼn groot fees in Adderleystraat gehou. Die Unie het in 1911 volgens die Unie-jaarboek byna 6 miljoen inwoners gehad. Altesame was daar op daardie tydstip waarskynlik net meer as ʼn miljoen Afrikaanssprekendes, en baie ander sou dit kon verstaan en praat.

Konsolidasie en sentralisasie was die twee dringendste prioriteite van die SAP-regering, wat in 1911 gestig is om die koalisie van voormalige regerende partye te vervang. Die staatsdiens is gekonsolideer en Botha en Smuts het aan die argitek Herbert Baker die opdrag gegee om die nuwe regeringsgeboue te ontwerp. Die imposante Uniegebou is in 1913 op Meintjieskop, minder as 2 km van die middel van Pretoria af, teen ʼn koste van £1 180 000 voltooi. Die eindproduk het ʼn “edelheid van plek en styl” besit. Twee identiese blokke en torings het die “twee rasse van Suid-Afrika” – die Engels- en Afrikaanssprekendes – gesimboliseer, wat in die sentrale amfiteater in harmonie bymekaar gebring word.

Ná 1910 het Afrikanerkiesers die politiek oorheers in die regering en parlement, maar buiten die landbou het wit Engelssprekendes die ekonomie oorheers. Hulle het feitlik elke maatskappy besit en bestuur. Hulle het verder die beroepe en die boonste range van die staatsdiens oorheers. Die meeste Afrikaners in die stedelike ekonomie was ongeskoold of halfgeskoold. Heel onder op die leer was die verarmde bruin en swart werkers.

Vir die meeste wit mense was die Unie ʼn tasbare simbool van Suid-Afrika se vooruitgang as vinnig ontwikkelende land. Die naam Suid-Afrika was nie langer die naam van ʼn gebied nie, maar van ʼn staat met ʼn moderne ekonomie en ʼn snel ontwikkelende kommunikasiestelsel. Dié staat kon saam met Australië en Kanada ten volle sy plek inneem in die Statebond as ʼn selfregerende dominium.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

marius ·

Die britte was baie opgewonde …..oor die goud en diamante .

Jack ·

O ja, die Britte het skatryk uit Afrika se goud en diamante geword. Dielfde het in meeste ander kolonies gebeur. Gaan lees maar bietjie op oor Indië.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.