Die Afrikaanse Hoër Meisieskool in Pretoria (Affies) het vandeesweek hul opgeknapte weergawe van die Affie-nooientjie bekendgestel.
Dit volg nadat ʼn herrie vroeër vanjaar uitgebars het ná ʼn nuwe embleem in Maart bekendgestel is. Die nuwe weergawe het baie meer modern gelyk en is deur kritici as ʼn “Barbie-pop” bestempel.
Ontstoke oudleerders van Affies het in Maart ʼn petisie begin om te keer dat die ouer weergawe met dié moderne weergawe van die Affie-nooientjie vervang word.
Dié petisie het sukses behaal nadat dit meer as 2 000 keer onderteken is.
Die Affie-nooientjie is al vir die afgelope 84 jaar die Affies-embleem. Dié embleem is geskoei op ʼn kunswerk van Anton van Wouw.
“Die nooientjie op die skoolwapen is die geestelike besit van ons volk en word met trots deur elke Affie gedra,” het die groep oudleerders destyds in ʼn verklaring gesê.
Die opgeknapte embleem, deur die grafiese ontwerper, Lilanie Greyling, is reeds op 5 Augustus goedgekeur.
Greyling het aan Maroela Media gesê verskeie nuwe ontwerpelemente is gebruik om die ontwerp “skoner” te laat lyk.
“Die essensie van die Van Wouw-beeld het behoue gebly en is glad nie verander nie. Die letterwerk [van die leuse, ‘Ek sien haar wen’] is ook presies dieselfde, hoewel dit verfyn is. Die grootste sigbare verandering is dat sy nou na links kyk. Dit is ʼn heraldiese vereiste dat die nooientjie na die knope van die skoolbaadjie, dus links, moet kyk, daarom was dit altyd so op die skooldrag. Ons het dit goed gedink om dit oral so te verander,” het sy verduidelik.
Die nuwe ontwerp was om die embleem “meer praktiese uitvoerbaar” te maak, veral om die embleem te druk. “Die embleem moet konsekwent toegepas kan word op ʼn verskeidenheid items, van klerasie to waterbottels, ensovoorts. Die lynwerk van die embleem is bloot nou net skoner.”
Die Affie-nooientjie se kop is ook effens gelig, hoewel net die kritiese kyker dit sou raaksien. Greyling meen egter dié ontwerp het nie met simboliek te make nie. “Haar kop is net ʼn fraksie gelig. Dit gaan oor balans. Die ouer ontwerp se kappie was te lank, en was nie dieselfde as die beeld nie. Die nuwe ontwerp is nader aan die beeld.”
Dié ontwerp het ook tot dusver net positiewe reaksie uitgelok. “Die ontvangs is tot dusver baie goed, en daaroor is ons uiters tevrede.”
Pragtig! Groot verbetering op die ou wapen wat soos ‘n oumatjie met ‘n vingerhoed op haar kop lyk.
Die ou ene lyk vir my pragtig verkramp dog rustig
Affie-oumatjie vs Affie-nooientjie. beide is pragtig, elkeen het plek, die een om die ouer geslag te herdenk, die ander een, ‘n beedskone jong dame wat nog op skool is (met ‘n slanke nek).
@Maroela, paragraaf 3 lees nie reg nie, “om te keer dat die meer moderne weergawe met die ouer weergawe vervang word”. Dit is andersom, dit was juis om te keer dat die ouer weergawe met die nuwe een vervang word.
Dagsê Kiepie,
Dankie dat jy ons op dié verwarring gewys het, die berig is nou gewysig.
Groetnis
Landi nms Maroela Media
As Oud Affie is ek dood tevrede . . .
Die wapenverandering is méér simbolies as wat dit op die oog af lyk. Die dame op die ou wapen het vórentoe, na ‘n winkende toekoms gekyk. Darenteen kyk die meisie op die nuwe wapen terug, agtertoe, na die goeie ou dae wat verby is.