Ek wens ek het geweet …

Foto: Nils Nedel/Unsplash

Ek wens dat iemand wat reeds geëmigreer het, my destyds kon voorberei. Jy verwag dat jy nuwe dinge gaan leer en dinge anders gaan werk wanneer jy emigreer. Tog is daar so baie vrae wat jy nie geweet het om te vra nie.

Ons het nie geweet daar is ʼn register van agente wat jou kan help met jou visumaansoeke en die groot trek nie. Daar is baie mense wat ingedoen word en die verkeerde persoon betaal vir verkeerde raad.

Wees eerder oorversigtig. Begin by die webblad van die land waarheen jy wil gaan. Vra die vrae vir die immigrasiekantoor en nie vir Facebook of Google nie. Emigrasie is ʼn duur en tydsame proses, en jy wil nie geld in die water gooi nie.

Dis iets wat ek ook nie besef het nie: emigrasie is ʼn proses. Dis nie een dag besluit jy wil waai en die volgende dag vlieg en klaar nie. Dis vir die meeste mense ʼn paar jaar se navorsing, beplanning, voorbereiding, spaar en harde werk voor jy eens op ʼn vliegtuig kan klim. Opgewondenheid en vrees laat jou vergeet dat jou reis eintlik dan eers begin.

Jy kom nie in jou nuwe land aan as ʼn burger nie. Vir sommige lande is daar werkpermitte, tydelike residensie met voorwaardes, permanente residensie en dan uiteindelik burgerskap ná ʼn tydperk. Soms moet jy oor en oor aansoek doen vir visums oor die jare. Vir party mense is dit ook nie ʼn permanente skuif nie, vir enige van ʼn magdom redes. Dit kan wees dat die reëls verander en jy skielik nie meer kwalifiseer om aansoek te doen om permanent te bly in jou gasheerland nie. Of jy het gehoop om jou familielede soos jou ouers uiteindelik saam met jou te hê, maar die reëls of persoonlike omstandighede maak dit onmoontlik. Maak deeglik seker, voor jy skuif, dat jy presies weet waarvoor jy jou inlaat.

Baie mense het ʼn onrealistiese verwagting van wat dit beteken om ʼn immigrant in jou nuwe land te wees. Niemand het jou gesmeek om tog asseblief te kom nie. Hoewel daar ʼn persepsie is dat Suid-Afrikaners se talente, kennis en hardwerkendheid gesog is in baie lande, moet jy nie verwag jy gaan op die hande gedra word nie. Duisende, selfs miljoene, mense van oor die wêreld heen migreer daagliks. Dus kan die werkgewers kies en keur uit die room. Moenie arrogant genoeg wees om te dink hulle het jou meer nodig as wat jy hulle nodig het nie. Ook nie almal is ewe opgewonde oor immigrante nie. Jy gaan dalk voel soos die New York-taxibestuurders in hul geel karre, wat eens op ʼn tyd dokters of ingenieurs was. Jy gaan dalk behandel word asof jy minderwaardig is. En dalk gaan mense lelike goed aan jou of voor jou oor immigrante kwytraak. Soms sonder rede, ander kere vir goeie redes.

Een van die dinge wat my nou my kop in skaamte laat sak is die stories wat die plaaslike mense vertel van hoe die Suid-Afrikaners werkgewers misbruik om hier te kom en dan weer die pad vat. Of dat hulle Suid-Afrikaners ontmoet het wat arrogant, oneerlik of rassisties is. Nieu-Seeland is wel ʼn klein land, so dit mag dalk anders wees op ander plekke. Maar hier is mense nog eerbaar, en persoonlike verhoudings gaan baie verder as vreemdelinge se verwysings. Hou dit in gedagte voor jy droogmaak.

Moet ook nie arrogant wees teenoor jou mede-Saffas nie. Hier loop stories van mense wat hulp verwag asof die Saffas hier hulle dit skuld. Stories soos die mense wat vir weke bly nadat hulle een nag se akkommodasie gesmeek het. Stories van mense wat voorgee hulle is vars van die vliegtuig af, net om uit te vind hulle misbruik mense een vir een op ʼn vakansiereis deur die hele land. Stories van mense wat sonder ʼn asseblief of dankie ander vra vir huisraad of kontakte met potensiële werkgewers. Dit maak dat baie van ons baie versigtig is om die nuwelinge te help.

Tog vind ek dat mense baie meer gemeenskapsbewus is. Ons help mekaar. Ons gee raad, kuier saam en pas kinders op. Ons kloek dalk saam met ander Suid-Afrikaners. Soos Chinatown of Little Italy, soek ons almal na voëls van eenderse vere. En kry jy nou Perth-toria, AUS en Bruin Baai, NZ. Maar hou ook in gedagte dat almal wat Suid-Afrikaners is, nie noodwendig jou vriende is nie en nes in Ouland, kies jou vriende met oorleg.

Dan is daar die kultuurskok. Een dag tref dit jou en jy kan nie die smaak van die nuwe land se mayonnaise/vleis/tee verwerk nie. Jy is sommer lus om jou tasse te pak en terug te gaan Suid-Afrika toe. Om ʼn Wimpy-koffie te gaan drink saam met iemand wat verstaan as jou Engels opraak en jy nie die woord vir nuuskierig of deurmekaar kan uitkry nie. Ná ʼn tyd raak jy die aioli-smaak gewoond, of jy koop dan nou maar die Nola vir ʼn skreiende $8,50 sodat jy net kan aangaan met jou lewe.

ʼn Volksvreemde konsep: ons leer hoe om die petrol self in te gooi. Ons slaap met ruite oop. Soms sluit ons nie deure nie, en die fietse slaap maar buite op die stoep saam met die Webertjie. Elke geluid vul jou nie meer met vrees nie. Jou nuwe rybewys is vier dae ná die aansoek in jou huis se posbus. Die mense by die poskantoor vra om verskoning omdat jy ses minute moes wag. Jy lui self jou kruideniersware by die tellermasjien op en betaal. Dinge werk net.

Jy besef jy gaan nie meer pas in die gaatjie wat jy agtergelaat het in Afrika nie. Jy voel hoe jou wortels skietgee, terwyl jy weet jy het nog nie mooi hier wortel geskiet in vreemde grond nie. ʼn Nuwe soort kultuurskok neem oor as jy die nuus lees oor wanorde in Suid-Afrika. Dis nie meer jou sirkus nie. Jy sien mense nooi jou na #IAmStaying, maar jy kan nie daarmee identifiseer nie. Jy voel ʼn soort verlangse empatie en ʼn begeerte om te help. ʼn Kind van twaalf som dit vir my so mooi op: “Ek kan gaan kuier, maar ek kan nooit weer bly nie”. Hierdie kind het skielik weer hoop en haar lewensuitkyk het vir die eerste keer ver horisonne met meer moontlikhede as wat sy ooit kon droom.

Sy is ʼn nuwe maaksel wat nóg vis nog vlees is. ʼn Bywoner in ʼn vreemde land. Sy’s nou ʼn Kiwikaner of ʼn Afrikiwi. Sy praat Afrikaans, maar sy ken ook Maori.

Ek wens iemand het my hierdie dinge vertel. Tog dink ek nie ek sou verstaan het nie.

René du Preez

Meer oor die skrywer: René du Preez

René du Preez is ʼn projekbestuurder, ma en eggenote. Sy is passievol oor die natuur, mooi musiek en kuns. Skryf is vir haar ʼn manier om sin te maak van die wêreld en ʼn stukkie van haarself vir mense te gee. René en haar gesin woon tans in Nieu-Seeland.

Deel van: Karmenaadjies, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Elsie ·

Dankie René, jy het alles pragtig uiteen gesit. Die belangrikste van alles is om gelukkig en veilig te wees. Ek glo jul is en voel ook nou veilig…aan die geluk moet daar maar net gewerk word. Geluk is net in mens self te vinde…hang alles net af van hoe mens daarna kyk en benader. Geluk moet gevoed, getroetel en gekoester word…dan groei dit omgemerk en sal vele vrugte dra. Ek bid vir jou en jou gesin, Vader seën jul met Sy liefdesgawes. Mooi en lekker bly. Geniet die vrede en gemoedsrus..ek glo dis ook volop!

Jozi ·

Ek lees so deur die artikel en dog – O aarde, hier kom ‘n ding – hierdie vrou gaan voorwaar op haar eina kry.
Mense, ek is trots op julle.
Daar is oorwegend insig, verstaan, begrip en geen oordeel nie.
Vryheid van keuse…. ons kan bly of ons kan gaan.
Maar wat saak maak is dat ons die ouens wat wel oppak en gaan nie sal loop stenig nie.
Sterkte aan julle daar doer ver.
En sterkte ook vir julle wat bly.
Mag julle God se liefde en teenwoordigheid ervaar, net daar waar julle is.

Kiwikaner ·

So mooi geskryf, soos als wat jy al geskryf het René, jy vang al die emosies so mooi vas op papier.. my Kiwikaner seun van 12 jr sê dieselfde.

Henry ·

Jip!
Indien julle reeds soveel langer gelede geweet het dat dit toe nie so moeilik is om in ‘n nuwe en veel veiliger omgewing aan te pas nie, het julle dit laaaankal reeds gedoen. Of hoe?

Ons voorouers het in klein en onveilige skepies na ‘n onbekende, agtergeblewe kolletjie aan die suidpunt van ‘n donker vasteland verhuis. Ontwikkelde woongebiede, paaie, skole en wat nog alles, was vir seker nie deel van hul ervaring nie.

Kan ‘n jille boel voorbeelde opnoem waarom daar bittermin redes bestaan waarom emigrasie nie so vreeeeslik moeilik hoef te wees nie. Dit is egter onnodig, want duidelik het julle eerstehands reeds beleef dat dit eintlik so maklik is, as om uit ‘n boom te val. Dit is in ons bloed! Mits jy bereid is om aan te pas by nuwe, omgewings en mense. Aanpassingsvaardighede is tog so ‘n wesenlike kenmerk van meeste lede van die mense ras en maak alles soveel makliker om by nuwe omstandighede aan te pas.

Voorspoed en geluk vir julle!!!

Lizl ·

Dit is asof ek dit self geskryf het. Woord vir woord! Dankie René, ek identifiseer met die stukkie waarheid, en tog so dankbaar vir hierdie reis!

Erwee ·

Ons slaap elkeen op die bed wat ons maak. Soms krap iemand anders ons bed deurmekaar. As dit ‘n paar keer gebeur, besluit jy dalk om vir jou ‘n ander bed in ‘n ander kamer of huis te gaan kry en dis ok. Die ou wat elke keer maar die deurmekaar bed aandurf omdat dit SY bed is en hy wil nie verkas nie, is ook ok. As ons almal eendag terug kyk kan ons elkeen vir onsself oortuig dat ons die regte keuses gemaak het. Selfs al besef ons dat ons die verkeerde keuses gemaak het, is ons nageslag nie altyd permanent gebind aan ons verkeerde keuses nie. Hulle kan weer vir hulself kies, selfs al is dit met karakter eienskappe wat deur die vuuroond gevorm is. Ons ervarings is verskillend, daarom ook ons besluite wat ons in reaksie daarop neem. Ek “bless” die wat ‘n veiliger heenkome gaan vind het en ek hoop die res van ons wat hier oorbly sal op ‘n stadium kan hande vat wannneer Nebukadneser die oond 7x warmer maak en dat Daniel 3:25 op ons van toepassing sal wees (“Hy [Nebukadneser] antwoord en sê: Kyk, ek sien vier manne los binne-in die vuur wandel sonder dat daar ’n letsel aan hulle is; en die voorkoms van die vierde lyk soos dié van ’n godeseun.”). Mag ons Bruidegom saam met ons deur daardie vuuroond gaan en ons hand styf in Sy hand vashou. Daar gaan nie ‘n ander manier wees wat werk nie!!! Sela

Ileana ·

Kom dit self nie beter gesê het nie. Jou woorde is baie waar!
Was n baie moeilike en lang reis maar nie eendag spuit nie en so dankbaar vir waar ons vandag is.

Carel van der Merwe ·

Dankie Rene – so mooi geskryf! Sal graag nog van jou ervaringe wil lees.

Monique ·

En so loop die trane terwyl ek my ontbyt koffie drink. Elke liewe woord is deel van my persoonlike ondervinding. Die verlange is konstant en pynvol en elke dag kom met nuwe frustrasies soos jy stadig leer hoe alles werk, maar om nie heeltyd oor jou skouer hoef te kyk is n vrede wat mens nie kan beskryf nie. Vreeslik mooi geskryf, dankie.

Melissa ·

This is so well put! I have been in New Zealand for 3 years and it hits you like a stone when you realise this is no longer a holiday. This is your life! I miss my family and friends but i cherish the new friends i have and i can say i am truly proud to be an Afrikiwi! Thats not to say i forget where i am from but my children will be New Zealanders and i am so excited to let this culture and heritage grow further in my heart.

Boerseun ·

Is dit nou n advertensie om te immigreer. Jou dogter sal ook die laaste een wat Afrikaans praat so hoekom praat julle nie maar net Engels en Moari en pas aan nie, dan sal jy nie soos n immigrant hoef te voel nie.

Tobie Klarens ·

En doen maar dieselfde. Leer Zulu, Xhosa en kry vir jou n sangoma- soos hulle gemaak het in Kenia, Zambie, Zim, Malawi—

Expat ·

Ware woorde, die eerste duisend dae is die moeilikste. Daarna gaan dit beter, later word ‘n bloekom mooi en jy vind uit dat dit lekker kole maak vir braai. Kangaroe smaak sommer vorentoe met krummelpap langs ‘n kampvuur!

Amanda ·

Hoe het julle gevoel die eerste kersfees wat jou ouers iewers alleen in n ouetehuis was, toe hulle siek was en niemand gehad het om na hulle om te sien nie, al ooit gedink hoe hulle verlang na daai dogter wat nou maori praat….hoe alleen hulle is. Was dit maklik om net van hulle te vergeet? Ek sukkel om te glo dat NZ meer geleenthede bied as Afrika, miskien is daar meer geleenthede want die drugs is soveel meer asook die gangsters in die strate….of het jy vergeet om dit te noem? Alreeds word toeriste afgeraai om in die aand te party in Wellington, want die kans dat n groep tieners jou gaan aanval is groot! Gaan dinge oor 10 jaar nog soveel beter wees daar?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.