Belangrikheid van klein goedjies

(Foto: cottonbro studio/Pexels)

In 2023 sal dit weer so wees: Groter, indrukwekkender, magtiger, en alles wat nog bygevoeg kan word. Máár is groter en meer altyd belangriker of beter? Onlangs het ʼn oopkop predikant oor die radio gewys op die belangrikheid van klein goedjies en gebeure in die Bybel. Dit het my aan die dink gesit.

Dit was Nuwejaarsdag en vroegoggend, soos elke ander oggend het ons buite gesit en ons vars vrugte, beskuit en koffie geniet. Die janfrederikke het hier by ons voete uit ʼn bakkie hulle gerasperde kaas kom oppik, maar soos altyd was dit die klein suikerbekkies en rooibeksysies se rinkinkery wat die meeste genot verskaf het.

ʼn Paar uur later het ons kerk toe gery en toe ons oor die knop Droëvlakte in sig kry, het ons skielik betyds gerem toe klein skilpadjies, skaars ʼn hoendereiergrootte, kordaat die teerpad oorgesteek het om die wye wêreld te verken. Gʼn pa of ma in sig nie. So klein en so mooi.

Met die terugkomslag was daar min of meer op dieselfde plek bloukraanvoëls met kuikens nog in hulle donsveerjassies. Wat is dan nou mooier? Lammertjies tussen die ooie? Varkies wat steunend hulle pensies vol drink? Of dalk ʼn eend of kolgans wat hulle kroos vir die eerste keer dam toe vat om hulle te laat ontdek dat hulle kan swem?

Anderdag was ons op die N2 toe ons doer ver op die padskouer iets opgemerk. Dit was toe ʼn wildemakou met ʼn dosyn of meer donsbolkuikens. Ons het stilgehou, noodligte laat flikker en vir aankomende verkeer hoofligte geflikker. Ma wildemakou het met haar kleingoed rustig oorgestap. Wat die kleingoed nie geweet het nie, was dat hulle op pad dammetjie toe was vir hulle eerste waterbaljaar.

Dink maar aan spierwit lammers wat huppelend in speelgroepies tussen die ooie rond kerjakker. Of klein varkies wat stoeiend en stotend meeding om iewers suipplek aan ʼn speen te kry.

So kan ʼn mens aangaan en lang lyste opstel oor al die klein goedjies en dingetjies wat daagliks vir jou die lewe mooier maak. My gedagtes het ʼn ander koers ingeslaan. Al die klein goedjies wat met die oog gesien kan word, het my laat dink aan klein, vir die oog, dikwels onsigbare dingetjies in ons samelewing, in elke mens se binneste.

In die boek Hooglied word daar geskryf oor klein jakkalsies wat gevang moet word omdat hulle die wingerde verniel. In ʼn heel ander konteks kan ons ook praat van klein jakkalsies (wat soms gróót word) wat mense in ons in ons samelewing verniel.

Ek wil die klein jakkalsies name gee. Net so ʼn bietjie vooroordeel, onverdraagsaamheid en neerhalendheid. Net so ʼn bietjie ongeduldigheid, vernedering en hoogmoedigheid. Net ʼn bietjie skinder en kwaadpraat, om maar net enkeles te noem. Hierdie jakkalsies word groot en verniel en versuur mense se lewens.

Dis die donker kant in die samelewing. Dit gaan oor mense wat bitter seer kry en verniel is en steeds verniel word deur die klein skadelike jakkalsies wat ál groter geword het en mense byt en breek. Stukkende mense moet heelgemaak word en die vraag is: Hóé dan nou?

(Foto: Juan Encalada/Unsplash)

Die antwoorde lê opgesluit in ʼn skatkis, volgepak met klein dingetjies wat ál groter word as hulle eers uitgepak word. Dis nie altyd maklik om die goedjies uit te pak nie en dit kos dikwels die neem van ʼn wilsbesluit om voort te gaan om vir mense in die donkerte ʼn helder lig te laat deurbreek.

Net ʼn bietjie liefde vir die een wat geen liefde ken nie. Net ʼn bietjie luister na die een na wie nie geluister word nie. Net ʼn bietjie erkenning aan die een wat nog nooit, of bloot nie meer, raakgesien word nie. Net ʼn bietjie bemoediging en hoop vir die een wat uitgeslaan teen die planke lê. Net ʼn bietjie troos en heelmaak van die troostelose en gebrokene. Net ʼn bietjie raad vir die radelose en opbeuring van die moedelose. Dis net die oortjies van die seekoei … Dink maar. Daar is so baie klein goedjies wat heel- en gesondmaak. Wat leed versag en laste verlig.

Ons moet nooit suinig omgaan met Godgegewe gawes en deugde nie. Die klein dingetjies wat ons doen en hét om te gee, is die doodskote vir die nare jakkalse wat menselewens versuur en verniel. Ek en jy kan ʼn verskil maak. Dis ons roeping. Bietjie vir bietjie en stukkie vir stukkie.

Wat kan ons doen in ʼn stukkende wêreld met stukkende mense? Iewers het ek ʼn kosbare waarheid raakgelees of gehoor. Dit maak nie regtig saak wie dit gesê het nie, maar wát hy gesê het: Ons is mense tussen mense en ons kan maak of breek.

Ons moet onthou: Elke gebroke mens, vir watter rede ook al, het iewers ʼn verdofde kolletjie met ʼn spikkeltjie blink glans. Ons moet die dowwe kolletjie soek en hom met woord en daad begin vryf. Met lappies van liefde, geduld, deernis, empatie en begrip moet ons die dowwe kolletjie versigtig vryf totdat die kolletjie blinker word. Die spikkeltjie blink word ʼn glansryke skynsel. So bring ons heling vir die gebrokenes van hart en ʼn verslae gees.

Die klein skilpadjie word ʼn groot skilpad en ʼn veerlose arendkuiken word ʼn swewende arend.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.