Boere maak harte oop in stryd teen armoede

Die wynveiling deur Helpende Hand (Foto: Verskaf)

’n Wynveiling wat die afgelope naweek in Letsitele in Limpopo deur Solidariteit Helpende Hand se Letsitele-tak ten bate van dié organisasie se liefdadigheidsprojekte gehou is, het meer as R200 000 vir dié organisasie in die sak gebring.

Boere en sakelui van Letsitele en Tzaneen het die geleentheid bygewoon om hul harte en beursies vir Helpende Hand oop te maak.

Volgens Marianthie van der Walt, Helpende Hand se streeksorganiseerder in Limpopo, was hierdie die derde agtereenvolgende jaar wat Helpende Hand se Limpopo-tak die Letsitele-wynveiling aangebied het.

Van der Walt vertel dat hierdie inisiatief en die ondersteuning daarvan jaarliks groei. “Die opbrengste wat hier gemaak is, is dubbel soveel as wat tydens verlede jaar se veiling gemaak is,” vertel Van der Walt.

Daar was hierdie jaar altesaam 63 lotte wat uit allerhande soorte bottels en vate wyn, whiskys, jenewer en brandewyn bestaan het. Volgens Van der Walt was die hoogste lot wat onder die hamer gekom het, vier vate wyn wat vir R14 000 opgeveil is.

Boere en sakelui van Letsitele en Tzaneen het die geleentheid bygewoon om hul harte en beursies vir Helpende Hand oop te maak.

Die veiling is in die Letaba Junction in Letsitele aangebied en was volgens Van der Walt veral spesiaal omdat dit die eerste openbare geleentheid is wat hier gehou is sedert dié gemeenskapsaal verlede jaar in Julie in ’n brand verwoes is.

Volgens Van der Walt het vrywilligers van die Letsitele-tak, wat uit 19 mans tussen die ouderdom van 25 en 42 jaar oud bestaan, oor die afgelope drie jaar nagenoeg 72 projekte aangepak waarby vele kinders, bejaardes en onderwysers gebaat het.

Deur die jaar word drie groot fondsinsamelingsprojekte van stapel gestuur waarvan dié veiling die hoogtepunt is. Tesame met hul jaarlikse jagfunksie en gholfdag is die tak in staat om ʼn hele jaar se projekte te befonds wat daarop gemik is om Afrikaner-armoede te verlig, te verbreek en te voorkom.

“Die groep mans is voorwaar dinamies en ’n voorbeeld by wie talle kan leer. Hulle wil glad nie oor hulself spog nie, maar ek wil met hulle spog en daardeur ander Helpende Hand-takke gemeenskappe daag om ’n verskil te maak deur saam te werk, saam te staan en na aan die gemeenskap te wees en te netwerk,” sê Van der Walt.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.