Duisende sokkies stroom vir liefdadigheid in

Wanda Bam, stasiebestuurder van Radio Kaapse Kansel, is hier saam met Hermien Louw, uitvoerende hoof van Samaritan’s Feet SA, en Marietta Hopley. (Foto: Verskaf)

Te danke aan Radio Kaapse Kansel se #WinterWarmerSocksThatRock-veldtog het dié radiostasie saam met die gemeenskap en skenkings van ander organisasies 9 828 sokkies vir liefdadigheid ingesamel.

“ʼn Snoesige winter gevul met basiese items soos skoene en kouse, is iets waarvan menige individue slegs kan droom. Daarom is dit wonderlik dat ons ons platform kon gebruik om luisteraars van die geweldige nood in die gemeenskap bewus te maak,” sê Almarie du Preez, projekkoördineerder van Radio Kaapse Kansel.

Die veldtog, wat in samewerking met Samaritan’s Feet SA aangebied is, is einde Junie tydens ʼn spesiale oorhandigingsgeleentheid by Radio Kaapse Kansel se kantoor afgesluit. Hermien Louw, uitvoerende hoof van Samaritan’s Feet SA, en Marietta Hopley het die skenkings namens die organisasie ontvang.

Wanda Bam, die radiostasie se bestuurder, sê Samaritan’s Feet SA se persoonlike benadering tot die gemeenskap se behoeftes, stel ʼn pragtige voorbeeld.

Dit was ‘n oggend van groot opwinding vir leerders van Sir Lowrys Pass Village en Devonvallei Primêr. Hier is van die leerders saam met Radio Kaapse Kansel en Samaritan’s Feet SA se mense. (Foto: Verskaf)

“Nie net bedien hulle plaaslike gemeenskappe met ʼn paar skoene nie, maar bring ook die hoop van Jesus Christus aan elke individu aan wie hulle ʼn paar skoene oorhandig, wie se voete hulle was en saam met wie hulle bid. Dit is vir ons ʼn voorreg om saam met ʼn organisasie te werk wat daarop fokus om verhoudings te bou wanneer hulle welwillendheidswerk doen.”

Dit was ʼn oggend van opwinding vir leerders van Sir Lowrys Pass Village en Devonvallei Primêr wat die oorhandiging bygewoon het. Hulle het ʼn spesiale voetwas en bidsessie saam met van die radiostasie se omroepers gehad, en daarna ook ʼn opvoedkundige toer deur die uitsaai-ateljee en opnameproses geneem.

“As ouma van drie kleinkinders, kan ek met sekerheid getuig dat dit die hart van Radio Kaapse Kansel is om ons gemeenskap, veral kinders, met hoop vir ʼn beter toekoms, te bedien. Saam kan ons ʼn blywende indruk maak wat lewens verryk.

“Ons is dankbaar vir elke luisteraar, organisasie en individu wat deur hulle bydraes help om voete sowel as harte te verwarm en lewens in die proses te verander,” sê Bam.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.