Gemeenskapsteater is ’n plek waar kinders woeker met talente

Freek Oersen sit hier saam met ‘n groep van studente voor die Shack Theatre. (Foto verskaf)

In die klein Bolandse dorpie, Swellendam, is ʼn onderwyser besig om storie-vir-storie die lewens van kinders te verander. Maretha Botes het met Freek Oersen, dramatowenaar, gesels oor hoe hy die gemeenskap ophef deur die uitvoerende kunste.

Dis ʼn gemeenskap waar talle kinders die realiteite van maatskaplike euwels en byprodukte van armoede, soos dwelm-en alkoholmisbruik, in die gesig staar en waar daar min buitemuurse aktiwiteite is om hulle na skool besig en uit die kwaad te hou.

Freek Oersen (39), ʼn Engelse onderwyser aan die Swellendam Sekondêre Skool (SSS), het besluit hy kan nie toekyk hoe kinders doelloos in die strate dwaal nie. Hy wou iets bou wat sy liefde vir die kunste en onderwys kombineer. Só het hy die The Shack Theatre tot stand gebring. Sommer so in sy agterplaas.

En ja, uit sinkplate gebou.

Vandag bied The Shack Theatre ʼn gesonde uitlaatklep vir die kinders se frustrasie, emosies, woede en teleurstellings. Freek bied drama as buitemuurse aktiwiteit aan vir meer as 100 leerlinge op die dorp.

Die teater is ʼn uitvloeisel van hierdie bedrywighede. Freek sê: “Die teater bied ʼn kreatiewe spasie vir alle kreatiewe siele, in storievertelling, dramatiese kunste asook uitvoerende kunste, dans of musiek, om hulle talente ten toon te stel. Dit is ook ʼn spasie waar kinders kan woeker met hulle talente. ʼn Groot gedeelte van die geld wat ons insamel word verdeel onder die kinders wanneer hulle produksies aanbied, sodat hulle kan sien ʼn mens kan ʼn loopbaan hieruit maak. Dit is soos ʼn entrepreneurskapprojek. Hulle kan sien hulle gawes sal voorsiening maak vir hulle. En ook sodat die kinders net ʼn platform het waar hulle hulself kreatief kan uitleef en raakgesien word.”

Gaviano Witbooi en Angela Horne in die toneelstuk “The Law”. (Foto verskaf)

Hy vertel die kinders word geraak deur dramaklasse en opvoerings, want hulle word holisties ontwikkel. Hulle leer nie net dramavaardighede nie, soos kommunikasievaardighede en om hulself uit te druk in openbare redevoering nie, maar hulle leer ook selfvertroue aan en hoe om hulself uit te druk as hulle eendag vir ʼn werksonderhoud moet gaan.

“En hoe om die die sosiale kwessies en euwels van ons samelewing te hanteer. Hoe om sekere uitdagings in hul alledaagse lewe te hanteer. Hoe om hulself toe te rus om gesonde burgers te wees wat ʼn impak maak en ook na hulself kan omsien op emosionele vlak,” sê Freek.

Die teater het ook ʼn onbeperkte WiFi-geriewe waar die kinders hul huiswerk en navorsing vir take kan doen. Dan bied dit natuurlik ook ʼn bymekaarkomplek waar mense oor die grense heen net kan ontspan, gesels, mekaar leer ken en bande vorm.

Ayden October (20) is ʼn bekende sepie-akteur wat sy dramatande in The Shack Theatre geslyp het. Hy was te sien in onder andere Suidooster, Evita in Excelsior en onlangs in Fraksie. Later die jaar is hy te sien in die rolprent Old Righteous Blues. Hy het as 12-jarige seuntjie, onder Freek se leiding, met dramaklasse begin en nooit weer teruggekyk nie.

“Sedertdien het drama my ontsaglik baie geleenthede, blootstelling, en ruimte vir groei en ontwikkeling gebied. Al die werkswinkels, kompetisies en feeste was nie te vergeefs nie. In my oë is drama die sleutel wat die dormante fakulteite binne my ontsluit het. Teater het my toegerus met waardes, deugde en tot dusver geskaaf tot die mens wat ek is. Ek het baie selfvertroue ontwikkel oor die jare en ʼn groot respek vir die ambag ontwikkel sedert ek betrokke geraak het. En wanneer ons hierdie stories so vertel leer dit my ook om empatie te hê met ander mense se stories. Empatie is die kern van ʼn akteur se hart. Wanneer ons, as akteurs, diep delf in die psige van karakters, verryk ons onsself met ontsaglik baie emosionele veerkrag ook. Ek het geleer teater lok denke uit en vat ʼn mens op ʼn emosionele reis,” sê Ayden.

Freek sê die terugvoer van ouers, skole en onderwysers is “ongelooflik, veral omdat dit ons kinders soveel meer bied as net drama”.

“Ons werk met die karakter van die kind. Ons kinders blink dan ook uit op skool in leierskapposisies en onder die akademiese top 10-leerders. Die kinders wat drama gedoen het studeer tans ook aan verskeie universiteite in die land. Ek dink daardie selfvertroue en vaardighede, deursettingsvermoë, harde werk en toewyding, is alles goed wat hulle by die dramaklasse leer. Ons het daarom groot ondersteuning van die ouers en al die skole op die dorp. Baie kere is dit onderwysers self wat deel uitmaak van die gehoor en ongelooflike terugvoer gee oor die kinders se ingesteldheid in die skool.”

As jy belangstel om meer te weet oor The Shack Theatre, kan jy op hulle Facebookblad loer.

Crystal Mokate in “Transforming moment” nog ‘n toneelstuk wat op die planke van die Shack Theatre is. (Foto verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.