Herwinde koffiekapsules word kunswerke

Godfrey se bekendste kunswerk is hierdie olifant wat met koffiekapsules versier is (Foto: Nespresso)

Daar word dikwels gesê dat kunstenaars die mooi in die gewone kan sien, en dit was nog nooit meer waar as wanneer jy na Godfrey Dambuleni van Kaapstad se besonderse kunswerke kyk nie.

Dambuleni het onlangs gebruikte Nespresso-koffiekapsules begin gebruik om kleurvolle kunswerke te maak en dit vlieg soos die spreekwoordelike soetkoek van sy rakke.

Dié inisiatief kom nadat Nespresso 67 koffiekapsules aan kunstenaars geskenk het vir Mandeladag. Dambulani van Kaapstad en ʼn nog kunstenaar, John, van Johannesburg het dié doppie omskep in pragtige unieke kunswerke.

Vir hierdie projek word Nespresso-koffiekapsules leeggemaak en die moer word in beddings en tuine gebruik as kompos. Die doppies word dan skoongemaak en met ʼn hamer platgeslaan. Dié kapsules gebruik Dambuleni as gevonde voorwerpe wat hy saam met draad en ander metaal in sy werk gebruik.

Hy vertel aan Maroela Media dat hy mal is oor herwinning en dat hierdie inisiatief hom daarom baie na aan die hart lê.

“Ons moet die omgewing skoon hou vir die volgende generasie,” sê hy.

John versier allerhande kunswerke met koffiekapsules in Johannesburg (Foto: Nespresso)

Dambuleni maak in sy ateljee, Mixed Ideaz, wat in Soutrivier geleë is, kunswerke uit allerhande herwinbare materiale. Hy is altyd op soek na nuwe maniere om kuns te maak.

“Ek het al voorheen leë Nespresso-doppies van mense in die omgewing gekry, maar dit was nooit genoeg om so baie uitsette te lewer soos wat ek nou kan nie. Hierdie projek het nie net my bestellings vermeerder nie, maar ek kan ook nou werk skep vir ander mense om my te help.”

Dambuleni het aanvanklik hierdie projek op sy eie aangepak. Dit vat hom sowat twee weke om ʼn olifant soos in die foto te voltooi.

Die aanvraag vir sy kunswerke het egter só gegroei dat hy nou werk vir ander ook kan skep. Daar is tans drie mense op een slag besig met ʼn kunswerk en as hulle saam werk kan hulle maklik drie kunswerke per week maak.

“Een man is verantwoordelik daarvoor om die koffiekapsules leeg te maak, die ander een maak dit skoon en slaan dit plat, die ander een kleur my draadstruktuur in met die doppies,” vertel Dambuleni.

Hy meen sy olifantkunswerk is die bekendste, maar gee toe dat dit vir hom lekker is om te eksperimenteer met verskillende diere of vorms.

Godfrey se olifant (Foto: Nespresso)

Dambuleni vertel dat sy ateljee ook onder die gevolge van die Covid-19-pandemie gely het, maar met die Nespresso-inisiatief wat meer bestellings lok kan hy nou stadig maar seker sy werknemers terug laat kom werk toe.

“Die ouens wat saam met my werk kan nou een vir een terug kom en terselfdertyd kan ek vir nog mense werk skep wat niks anders het om te doen nie.

“Dit is fantasties om hierdie geleentheid te kry, as ʼn manier om werk te skep, maar ook as ʼn manier om ons talente ten toon te stel.”

Dambuleni vertel hy gebruik meer as 500 koffiekapsules per kunswerk. Hoe meer kapsules hy kry, hoe meer kunswerke kan hy maak en verkoop.

Vir meer inligting of as jy koffiekapsules het om vir hom in Kaapstad te skenk, kan jy hom by [email protected] kontak. As jy skenkings wil maak in Johannesburg, stuur ʼn e-pos aan John na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.