Internasionale akkreditasie vir NWU Besigheidskool

Argieffoto (Foto: StartupStockPhotos/Pixabay)

Die NWU Besigheidskool aan die Noordwes-Universiteit (NWU) is ’n dryfkrag vir besigheidsopvoeding in Afrika. Nie alleen het die internasionale toonaangewende vereniging vir MBA’s, die Association of MBAs (AMBA), die MBA-akkreditasie van die NWU Besigheidskool hernu nie, maar die skool is nou amptelik die eerste skool op die Afrika-vasteland om internasionale akkreditasie van die Business Graduates Association (BGA) te ontvang.

Dit volg op ’n onlangse virtuele besoek aan die NWU Besigheidskool deur paneellede van die AMBA, waarby die BGA geaffilieer is. Die doel van hulle besoek was om die skool vir die toekenning van internasionale akkreditasie te evalueer. Volgens prof Jan van Romburgh, hoofdirekteur van die NWU Besigheidskool, het die skool ook daarin geslaag om nog ’n vyfjaar- internasionale akkreditasie vir sy MBA-kwalifikasie te verseker.

“Besigheidsopvoeding in die algemeen – en die rol van MBA’s in besonder – gaan wêreldwyd en plaaslik deur ’n fundamentele transformasie. In ’n vinnigveranderende wêreld en land moet besigheidskole relevant bly deur besigheidsopvoeding te verskaf wat hulle sosio-ekonomiese omgewing krities benader om suksesvolle besigheidstrategieë daar te stel.”

Prof. van Romburgh sê dat dit ’n groot mosie van vertroue van die BGA is dat hulle die NWU Besigheidskool as die eerste een in Afrika geakkrediteer het. “Die AMBA-akkreditasie dui ook die hoogste standaard van prestasie in nagraadse besigheidsopvoeding aan. Slegs 2% van erkende besigheidskole reg oor die wêreld het AMBA-akkreditasie. Ons is trots daarop om een van hulle te wees. Ons besef watter groot veranderings regoor die vasteland van Afrika plaasvind wat ons uitmuntende besigheidsopvoeding moet help om met sukses te navigeer en bestuur.”

Wie is die AMBA?

Die vereniging van MBA’s (AMBA) staan al meer as 50 jaar lank aan die spits van uitnemende innovasie en is ’n baanbreker op die gebied van onpartydige gesag oor nagraadse bestuursopvoeding. Die AMBA het daardie visie in 1967 gevestig, en in ’n wisselvallige, onseker wêreld is dit vandag nog net so relevant soos dit toe was. Hulle is vasberade om die profiel en gehaltestandaarde van besigheidsopvoeding internasionaal tot voordeel van besigheidskole, studente en alumni, werkgewers, gemeenskappe en die samelewing te bevorder.

Die AMBA is die enigste professionelelidmaatskapsvereniging wat MBA-studente en ‑gegradueerdes, geakkrediteerde besigheidskole en MBA-werkgewers reg oor die wêreld met mekaar verbind.

Wat is akkreditasie?

Akkreditasie sertifiseer dat ’n instelling die vermoë het om ’n bepaalde funksie binne die kwaliteitsversekeringstelsel te vervul. Die AMBA se akkreditasie word elke vyf jaar hersien en die omvang en reikwydte daarvan is internasionaal. Hulle werk saam met senior akademici by voorste wêreldwye opvoedkundige instellings om akkreditasiebeleide deurlopend by te werk en hulle unieke, grondige en gedetailleerde benadering in stand te hou. Programme wat hierdie akkreditasie ontvang, weerspieël veranderende tendense en innovasie in die sektor vir nagraadse onderwys. Hulle bevorder innovasie en uitdagings en moedig besigheidskole aan om deurlopend op die hoogste vlak te presteer.

Waarom is dit so belangrik?

Studente en gegradueerdes, besigheidskole en werkgewers erken almal die AMBA- en BGA-akkreditasie as ’n goue standaard. Die streng akkreditasiekriteria en evalueringsproses verseker dat slegs die beste programme akkreditasie ontvang. Die akkrediteringsliggame kyk na programme wat die hoogste standaarde in onderrig, leer en kurrikulumontwerp; loopbaanontwikkeling en indiensneembaarheid; en studente-, alumni- en werkgewerinteraksie handhaaf.

Werkgewers wat innoverende bestuurders en toekomstige sakeleiers wil lok, weet dat gegradueerdes van geakkrediteerde programme die beste kwaliteit en mees relevante bestuursopvoeding ontvang het. Om ’n gegradueerde van ’n AMBA- of BGA-geakkrediteerde program te werf, is om toptalent te werf.

Hierdie akkreditasie gee aan ons besigheidskool wêreldwye erkenning en eer. Die AMBA-akkreditasie identifiseer die beste programme uit die duisende wat beskikbaar is, en die ontwikkelende aard van hulle proses help ons om potensiële tekortkominge raak te sien. Hulle verskaf ’n omvattende verslag met gedetailleerde aanbevelings vir potensiële verbeterings vir die toekoms, en verseker dat die NWU Besigheidskool sal voortgaan om te groei.

Wat beteken dit vir die MBA-studente by die NWU Besigheidskool?

Werkgewers vra toenemend vir gegradueerdes met besigheidsgrade wat ’n balans tussen harde en sagte vaardighede en innoverende vermoëns het en ’n groter maatskaplike verantwoordelikheid toon. Ons kan waarborg dat ons studente wat ’n MBA of nagraadse diploma in Bestuur verwerf het, hierdie eienskappe en vaardighede by hulle werkplek sal implementeer, en ’n lewensvatbare bydrae tot hulle maatskappy sal maak.

“Vir ons MBA-gegradueerdes bied akkreditasie die geleentheid om met eweknieë van die beste wêreldwye MBA-programme te skakel. Lidmaatskap van die AMBA vir studente en gegradueerdes beteken dat alumni internasionale netwerke kan vorm, en weet dat hulle met individue van net sulke indrukwekkende programme kan skakel.”

Van Romburgh sê deur die AMBA kan hulle loopbaanadvies en ondersteuning, ’n werksportaal, geleenthede, toegang tot die jongste navorsing en denkleierskap, en uitgesoekte aanbiedings en voordele geniet.

“Kortom, dit maak deure oop en fasiliteer geleenthede, en ons is daartoe verbind om seker te maak dat elke student die beste moontlike opvoeding kry om bestuurslui in Afrika te ontwikkel.”

Klik hier vir meer inligting of besoek https://commerce.nwu.ac.za/business-school vir meer inligting oor ons aanbiedings.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.