Ironman in agterplaas om rolstoel vir gestremde te koop

Charlotte Raubenheimer spog met ‘n handgemaakte trofee. (Foto: Facebook)

Talle kranige atlete is gepootjie toe die Ironman-kompetisie in Suid-Afrika tot November uitgestel is weens die algehele afsonderingstydperk wat ingestel is om die verspreiding van die koronavirus (Covid-19) te help bekamp.

Charlotte Raubenheimer van Port Elizabeth het egter besluit sy gaan nie wag tot November om dié uitmergelende driekamp, wat 3,86 km swem, 180,25 km fietsry en ʼn marathon van 42,20 km sonder enige rustyd tussenin behels, in haar erf aan te pak nie.

Raubenheimer (42), ʼn tuisteskepper wat ʼn klein gastehuis bedryf, sou vanjaar haar eerste Ironman aandurf om geld in te samel vir ʼn nuwe rolstoel vir ʼn serebraal gestremde man wat sy en haar gesin bevriend het op hul daaglikse uitstappies strand toe.

Sy vertel Phillip Janse van Rensburg woon sedert 1998 in die Cheshire-tehuis in Summerstrand, Port Elizabeth. “Hy is rolstoelgebonde en gebruik sy ken om sy elektroniese rolstoel te beheer. Wanneer ek en my seuntjie by die strand gaan stap het, het hy ons altyd ewe opgewonde gegroet en later het hy daagliks deel van ons lewe geraak.”

Toe Phillip se strandkuiertjies begin opdroog, het Raubenheimer gewonder wat skort. “Toe ek later uitvind sy rolstoel gee moeilikheid, en dit is hoekom hy nie uitkom strand toe nie, het iets in my geroer en ek het geweet ek wil iets doen om hom te help.”

Haar man, Jean, is ʼn narkotiseur van beroep en self ʼn stoere Ironman-atleet met sowat 10 van dié kompetisies agter sy naam. Raubenheimer sê juis omdat sy bewus is van die intense fisieke voorbereiding wat die kompetisie verg, het sy self net altyd daarvan gedroom om daaraan deel te neem.

Charlotte Raubenheimer durf die koue swembadwater aan om 07:00. (Foto: Facebook)

Uiteindelik het sy genoeg selfvertroue opgebou om in te skryf vir vanjaar se kompetisie. “Ek het al my tyd en energie aan voorbereiding bestee. Ek het egter ook nog altyd die behoefte om ʼn verskil te maak in iemand se lewe.”

Raubenheimer vertel hoe Elaine Watson, die Springbok-rugbyspeler Luke Watson se vrou, haar een oggend tydens ʼn Love Story-damestee geïnspireer het. “Sy het gesê as jy ʼn verskil wil maak, moet jy werk met die mens wat reg voor jou is. Dit het my baie lank bygebly.”

Daarom het sy besluit om haar eerste Ironman-kompetisie te voltooi om geld vir Phillip se nuwe rolstoel in te samel. Sy het met die hulp van ʼn paar kennisse ʼn Back a Buddy-blad op dié skarefinansieringsplatform geskep en in ʼn japtrap het sy die teiken vir Phillip se rolstoel behaal.

“Dit was vir my ongelooflik dat mense geld skenk, al het ek nog nie eens iets gedoen nie,” sê sy.

Toe kom die nuus dat die Ironman-kompetisie uitgestel word tot November. “Ek was glad nie daarop voorbereid nie en het dadelik gedink ek sal nie kan volhou met die oefening vir die kompetisie tot November nie. Die rolstoel was ook reeds bestel en ek kon nie almal wat bygedra het, in die steek laat nie.

“Ek het in my Bybelstudietyd ʼn teksvers raakgelees dat ons in staat is tot als deur God wat ons krag gee, en ek het besef ek het geen verskoning nie – ek gaan die Ironman by die huis doen,” sê sy. Sy het vir Jean, wat gedink het sy beplan ʼn oefensessie, gevra om haar te help om haar driekampfiets staan te maak.

Charlotte Raubenheimer het ses ure en 15 minute getrap om die 180 km te voltooi. (Foto: Facebook)

Die oggend van 29 Maart, die dag wat die Ironman sou plaasvind, het sy om 07:00 weggespring deur eerste die swembad aan te durf.

“Ons het na die weer gekyk en beraam dat ek sowat 90 minute sou swem as ek die 3,8 km in die swembad sou aflê,” sê sy.

Daarna het sy haar yskoue lyf vuurwarm getrap deur ses uur en 15 minute op haar fiets te trap voordat sy die res van die agterplaas platgedraf het om die marathon van 42 km, wat 1 580 draaie in hulle erf vereis het, af te handel.

“In retrospek besef ek hoe onvoorbereid ons was. Ek het slegs my horlosie aangehad en my fiets se iPad het gedurende die ses uur pap geraak. Dit was eintlik chaos,” lag sy.

“Ek was nog nooit so bly dat ek iets voltooi het nie. Ek het die behoefte gehad om ʼn verskil te maak en het daarvoor gebruik wat tot my beskikking was.”

Sy is vol lof vir haar ondersteuningsnetwerk – voor en tydens die uitdaging. “Mense verstaan nie hoeveel tyd en energie die voorbereiding vir so ʼn strawwe kompetisie verg nie en dit kan soms ʼn baie selfsugtige ding wees.”

Daarom het sy op haar ma, Leonie, en huishulp, Mandisa, gesteun om na die kinders, Jeanré (11) en Leo (6), om te sien wanneer sy moes oefen.

“Jeanré en Leo het gereed gestaan met waterbottels, musiek geblêr oor ʼn luidspreker en my gehelp om tyd te hou,” vertel sy van haar twee spruite se ondersteuning op die dag van die Ironman.

Charlotte Raubenheimer se man, Jean, het haar tydens die marathon ondersteuning daar agter haar te draf. (Foto: Facebook)

“My man het my ook ongelooflik ondersteun. Nie net het hy gesorg dat die huishouding se wiele daardie dag nie afval terwyl ek besig is met my uitdaging nie, maar hy het ook by die 25 km-merk van die marathon, sonder om ʼn woord te sê, net agter my kom draf omdat hy geweet het dit is waar ek die swaarste kry.”

Raubenheimer sê dat daar geen omdraaikans was toe dit eers op sosiale media begin versprei het dat sy besig is met die uitdaging nie. “Anita Kessel en Arinda Pritchard is twee mense wat ek moet uitsonder, maar daar is soveel ander mense agter die skerms wat my ondersteun het en wat hierdie ding vir my moontlik gemaak het.”

Sy het uiteindelik die uitdaging binne 13 uur en 11 minute voltooi. Of sy dit weer in November gaan aandurf, weet sy nog nie. “Kan ek nog ʼn bietjie daaroor dink?” lag sy.

Raubenheimer het uiteindelik sowat R94 000 ingesamel, veel meer as die R70 000 waarvoor sy gemik het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

JC Venter ·

Mag julle met goud beloon word!

Jip, en ek worstel ook in die tyd met my eie ironman hier om die huis. Maar ek het ‘n idee daar is hordes van ons ‘ironmans’, mans én vroue, regoor Suid-Afrika, wat dalk fikser by dag 21 gaan wees as die dag toe ons begin het.

Feetjiemens ·

Jy is n inspirasie, Charlotte en aan deursettingsvermoë ontbreek jy glad nie!

Kokkie ·

Wow !!! Dis nie ystervrou nie…..Dis pure GOUD ! Onbeskryflike selfdissipline en deusettingsvermoë om die Iron Man op jou werf te doen. Verreweg meer veeleisend as wat dit onder ‘normale’ omstandighede sou wees. En dan natuurlik vir so ‘n wonderlike saak. Ek SALUEER jou, GOUEVROU.!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.