Kaapse man laat speke vir kinderhospitaal sing

Paul Reeves laat deesdae sy stilstaande fiets se speke sing om geld vir die kinderhospitaal in te samel. Foto: Facebook.

’n Kaapstadse man het al meer as R30 000 vir die Rooikruis-kinderhospitaal in Rondebosch ingesamel.

Die 42-jarige Paul Reeves het onderneem om daagliks die afstand van die Kaapstad-fietstoer (109 km) op sy stilstaande fiets te trap om sodoende deur die givengain-inisiatief geld vir die hospitaal in te samel.

“Die hospitaal doen met ’n baie beperkte begroting daagliks ongelooflike werk vir kinders en hul gesinne. Ek wil graag hierdie tyd van afsondering gebruik om waarde tot ander se lewens te voeg,” het hy gesê.

Hy sal nou vir die volgende 21 dae omtrent vyf uur op ’n slag op sy stilstaande fiets se saal deurbring om die afstand kaf te draf.

Maar maklik gaan dit beslis nie wees nie, soos wat hy reeds ná die tweede dag besef het.

“Toe ek op die oefenfiets geklim het, het ek definitief gedink dat ek dalk ’n bietjie té ambisieus was. My bene het vrek swaar gevoel en die eerste 40 km was ongetwyfeld die taaiste, maar jy vind weer later jou ritme.

“Om te herstel neem ek ’n yskoue bad om my spiere bietjie te help. Tog word ek opnuut aangemoedig wanneer ek sien hoe die donasies instroom; boonop was ek ook nog altyd mal oor ’n lekker uitdaging.”

Aan die einde van die 21 dae sal Reeves meer as 2 000 km afgelê het.

Om Reeves en sy liefdadigheidsprojek te ondersteun, klik hier.

“Elke donasie, maak nie saak hoe klein dit is nie, maak ’n reuseverskil in ’n kind se lewe.”

  • Die hospitaal behandel tot 250 000 pasiënte per jaar.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.