Luister: Van hospitaalbed tot ysterman

Louis van Straaten. (Foto: verskaf)

In 2013 het Louis van Straaten, ’n pa, eggenoot, sake- en sportman, se lewe onherroeplik verander nadat ’n bysteek tot ’n allergiese reaksie en ses weke in die intensiewe sorgeenheid gelei het.

Louis was toe 38, pa van drie en operasionele bestuurder by Atterbury Properties. Boonop was hy in ʼn uitstekende fisieke toestand, met honderde rugbywedstryde vir ’n verskeidenheid rugbyklubs, wat onder meer die Bulle, Pumas en Griffins insluit, agter sy rug.

Sy lewe, soos wat hy dit geken het, is egter op 25 Januarie 2013 tot stilstand geruk toe ’n by hom op sy linkerarm gesteek het, minute voordat hy op sy motorfiets geklim het om huis toe te ry. Hy het nie eers die bysteek gevoel nie, erken hy. Dele van sy arm is gevoelloos weens al die rugbyduikslae wat hy al ervaar het.

“Ek was nog al die jare allergies vir bye,” vertel Louis.

“Ek het by die huis gekom, my baadjie, helm en hemp uitgetrek en op die bank gaan lê.”

Sy oudste seun, Wian, het onmiddellik gehardloop om Celestamine-pilletjies te gaan haal. Louis het egter nie sy bewussyn herwin nie en sy gesin het vinnig besef dat hulle ’n ambulans sou moet ontbied.

Ná drie onsuksesvolle pogings om ’n ambulansdiens in die hande te kry, het hulle besluit om ’n familielid wat by Crisis on Call werk te skakel. ’n Paramedikus, wat toe al reeds eintlik nie meer op diens was nie, het by die Van Straaten-huis opgedaag.

Louis is uiteindelik inderhaas hospitaal toe geneem, waar hy vir ses weke in die intensiewe sorgeenheid gelê het. Talle dokters was van mening dat hy onherstelbare breinskade opgedoen het en dat hy nooit weer die man sou wees wat hy was nie.

Louis in die hospitaal. (Foto: verskaf)

Nie net moes Louis teen alle verwagtinge weer opstaan en die stukkies van sy lewe weer bymekaar probeer maak het, hy moes probeer sin maak van ’n lewe wat skielik nie meer soos sy eie gelyk het nie.

Ná die ongeluk moes hy weer leer lees en skryf. Die reaksie het ook ’n reuse-uitwerking op sy fyn motoriese vaardighede gehad.

“Ek kon nie eers knope los en vas maak nie,” onthou hy.

“Ek moes letterlik alles van voor af leer doen.”

Alhoewel hy nie enigiets van sy tyd in die intensiewe sorgeenheid kan onthou nie, weet hy dat sy kinders ʼn groot rol in sy herstelproses gespeel het. Hy wou na sy kinders se rugbywedstryde en atletiekbyeenkomste gaan kyk, saam met hul rugby speel en tyd saam met hul deurbring.

“Toe ek in daardie glaskas gelê het, en die kinders vir hul ma gevra het of ek dit gaan maak of nie, wou ek net weer hul pa wees.”

Hy het ’n hartsbegeerte gehad om weer vir sy kinders Bybel te kon lees, vertel hy, maar hoewel hy die woorde op die bladsy kon sien, en hy geweet het dat hy veronderstel is om dit te kan lees, kon hy dit bloot net nie doen nie.

Louis tydens die Comrades-marathon in 2018. (Foto: verskaf)

Deur die jare van herstel, het Louis stadig maar seker weer ou roetines herontdek en nuwes aangeleer. Hy het weer begin oefen en het in 2018 aan die Comrades-marathon deelgeneem.

Alhoewel hy nie in die toelatingstyd die draftog voltooi het nie, beskryf hy dit steeds as ʼn oorwinning.

“Ek het net meer as twaalf ure gehardloop. Toe ek by die stadion aankom was dit donker!”

Wat hy egter vandag steeds saam met hom dra, is dat dié marathon nie enige man se maat is nie. Hy het ter voorbereiding daarvoor daagliks in die vroeë oggendure opgestaan om te oefen. Die selfdissipline wat deur sy voorbereidingsperiode vir dié uitdaging gevloei het, is vandag steeds in sy lewe teenwoordig.

Hy het ook reeds aan die ystermankompetisie deelgeneem en is tans besig om vir die volgende een voor te berei.

“As ʼn mens geestelik, fisiek en psigies nooit gaan lê nie, as jy weet waar jou krag vandaan kom, sal jy al klaar beleef hoe die Here jou elke liewe dag van jou lewe vashou.”

  • Luister boaan die berig na die volledige klankonderhoud met Louis van Straten.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.