Mark Pilgrim vra jawoord op Oujaarsaand

Die radiopersoonlikheid Mark Pilgrim het op Oujaarsaand, net dae nadat hy uit die hospitaal ontslaan is, sy vriendin gevra om te trou.

Pilgrim het ʼn foto van die oomblik toe hy Adrienne Watkins om haar hand gevra het op sosiale media gedeel waar gelukwense ingestroom het.

I love you my Adrienne… ????????????❤️

Posted by Mark Pilgrim on Saturday, December 31, 2022

Pilgrim is op 29 Desember ná 64 dae in die hospitaal uiteindelik ontslaan. Fase 4-longkanker is in Februarie vanjaar by hom gediagnoseer. Pilgrim is in Oktober vanjaar in die Milpark-hospitaal in Johannesburg opgeneem.

“Ná 64 dae, sewe prosedures en nadat ek amper 15 kg verloor het… gaan ek vandag huis toe,” het Pilgrim op sosiale media geskryf toe hy ontslaan is.

“Daar is steeds ʼn pyp wat by my sy uitkom en ek sal ʼn tuisverpleegster hê wat na my omsien terwyl ek stadig my kragte opbou, maar niks is beter nie as die genesende krag om tuis te wees met geliefdes, die vars lug en die tuin.”

Fase 3- testikulêre kanker is 33 jaar gelede by Pilgrim gediagnoseer, maar hy was ten volle in remissie.

“Jou kop moet sterk wees. Dit beteken egter nie ʼn mens moet altyd sterk wees nie. Dapperheid is die moed om op te staan wanneer jy ʼn oomblik van broosheid het. Om weer op te staan wanneer jy platgeslaan is,” het Pilgrim vroeër vanjaar in ʼn onderhoud met Maroela Media gesê.

Pilgrim het gereeld foto’s op sosiale media gedeel waar Watkins en sy dogters, Tayla-Jean (12) en Alyssa (9), hom in die hospitaal ondersteun het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.