Marmari Pienaar van Hoërskool Diamantveld in Kimberley het agt onderskeidings behaal: in Afrikaans, Engels, wiskunde, lewensoriëntering, fisiese wetenskappe, lewenswetenskappe, geografie en toerisme. Sy gaan vanjaar medies studeer aan die Universiteit van die Vrystaat.
Sy was koshuishoofmeisie in matriek en is ook aangewys as Mej. Diamantveld. Sy het boonop ʼn silwermedalje verwerf op die nasionale atletiekampioenskap vir aflos, was deel van die senior-komitee (leerlingraad) en het akademiese erekleure verwerf.
Haar onderwyseres, Lisa Holtzhausen, is haar rolmodel. “Sy het ʼn lus vir die lewe wat nooit gedemp word nie.”
Marmari geniet dit om aktief te wees, sy bak graag en het ʼn groot liefde vir reis.
Sy sê dat sy groot drome het en glo aan harde werk en ʼn gebalanseerde lewe. Nietemin hou sy vol dat dit belangrik is om te streef na iets meer as middelmatigheid.
“Ek vat elke dag soos dit kom en ek vertrou dat my toekoms in die Here se hande is.”